Soms kry mens ’n blink plan in die middel van die nag, net om die volgende dag te besef die idee was toe nou nie so oulik soos jy aanvanklik gedink het nie. Maar dit was beslis nie die geval vir Nisboere se Seisoen 10-kompetisiewenner nie. Leon Dorfling het die Nisboere-span se voete behoorlik onder hulle uitgeslaan met sy nisboerdery-idee, en ons moes eenvoudig by hom gaan inloer om meer oor sy plan uit te vind.
Leon Dorfling het sy lewe lank in Port Elizabeth as boukontrakteur gewerk. Om probleme met innoverende oplossings aan te pak, was altyd deel van sy werk, en dit is juis hierdie vaardighede wat hom gehelp het om sy nis-idee te ontwikkel. Ná 50 jaar in die boubedryf het Leon en sy vrou die besige stad verruil vir ’n rustiger bestaan in die pragtige Langkloof. Leon het reeds 20 jaar tevore die grond gekoop vir naweekwegbreke, maar het eers in 2023 voltyds daarheen verhuis.
’n Vriend van Israel het op ’n dag vir Leon en die Dorfling-familie op die plaas kom kuier en heel terloops genoem dat Leon met bye moet begin boer. Nà heelwat navorsing en dinkwerk het Leon sy bouvaardighede ingespan en byekaste begin bou.
Ongelukkig het Leon homself gou teen ’n paar uitdagings vasgeloop. Met die hoë misdaadsyfer in die land het diefstal ’n groot probleem geword. Die byekaste is dikwels oopgebreek om by die heuning uit te kom, en die koste daaraan verbonde om die kaste telkens te herstel of te vervang, was eenvoudig te hoog om so voort te gaan. Met ’n probleem om op te los, het Leon begin dagdroom en sy seun aan die werk gesit om sy droom ’n werklikheid te maak. Só het hulle vorendag gekom met ’n byewaentjie – of, soos hulle dit noem, ’n “container”.
Wat maak hierdie waentjie so spesiaal? Om mee te begin, is dit basies onmoontlik om sonder ’n sleutel by ’n staalhouer in te breek. Die container is ontwerp om ses byekaste te huisves, wat hulle maklik kan vervoer en plaas waar die korwe benodig word. Die slim ontwerp bevat ook twee deure, wat die proses om die heuning uit te haal vergemaklik en terselfdertyd so min as moontlik stres vir die bye veroorsaak.
Hoe meer Leon daaroor gedink het, hoe meer het hy besef dat die byebedryf nie juis gemoderniseer het sedert 1852 nie. Sy container-idee het dus net verder vlamgevat en begin groei. Dit was juis nadat Leon ander byeboere se stories op Nisboere gesien het dat hy besluit het om sy idee vir die kompetisie in te skryf. Maar vir Leon gaan hierdie idee oor veel meer as net ’n kompetisie en ’n nuwe bakkie … hoewel dit natuurlik ’n lekker bonus is.
Leon se droom is om nog baie meer van hierdie waentjies te bou en aan die plaaslike gemeenskap beskikbaar te stel. Hy wil die gemeenskap deel maak van die idee deur mense in byeboerdery op te lei, sodat dit vir hulle ’n geleentheid kan skep om ’n inkomste te genereer. Dit lê Leon na aan die hart om die plaaslike gemeenskap te bemagtig met kennis, toerusting en ’n geleentheid wat hulle andersins dalk nooit sou gehad het nie.
Hoe meer ons met Leon Dorfling gesels het, hoe duideliker het dit geword dat die regte mens Seisoen 10 se kompetisie gewen het. Trouens, ons voorspel dat hierdie maar net die begin van ’n idee is wat ’n groot verskil kan maak. Namens die hele Nisboere-span wens ons Leon Dorfling veels geluk met sy wen-idee en splinternuwe bakkie. Ons kan nie wag om te sien waarheen hierdie blink plan hom volgende gaan neem nie!
Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.