Elke plaas en boerdery het sy eie unieke skoonheid: die uitgestrekte vlaktes van die Vrystaat, die vrugteboorde van die Wes-Kaap of die diverse fynbos van die Klein Karoo. Maar daar is een boerdery wat nie net ‘n beeldskone prentjie skep nie, maar ook jou sintuie met onvergeetlike geure prikkel … en dit is laventelboerdery.
Geleë net buite Pretoria in Gauteng, is Lavender Suid-Afrika een van die grootste laventelplase in ons land. Die plaas spog met uitgestrekte landerye vol verskillende laventelvariëteite. Die verskeidenheid is nie net vir die mooi nie, dit is doelbewus gekies om te verseker dat daar regdeur die jaar laventel beskikbaar is. Die variëteite is ook sorgvuldig uitgesoek om by Suid-Afrika se klimaat aan te pas. Omdat laventel nie ‘n inheemse plant is nie, is dit belangrik om die aanpasbaarheid van elke variëteit in ag te neem.
Wanneer jy laventel by Lavender SA aankoop, maak dit geen verskil of jy een plantjie of ‘n groot bestelling koop nie, jy ontvang altyd produkte en diens van die hoogste gehalte. Hulle laat jou ook nie aan jou eie genade oor nadat jy jou plante gekoop het nie. Die span stap die pad saam met hulle kliënte en deel die nodige kennis om te verseker dat elke plant die beste moontlike kans op sukses het. Daarom begin hulle deur te bepaal waarvoor die laventel aangekoop word. Of jy nou op soek is na laventel vir jou troublomme of jou eie tuin wil vestig, hulle kundiges help jou om die regte variëteit te kies. Lavender SA verskaf ook gedroogde laventel, ideaal vir dekor, handwerk of aromatiese geskenke.
Hoewel laventel vandag wêreldwyd bekend en gewild is, is die geskiedenis daarvan eeue oud. Die vroegste gebruike van laventel dateer terug na antieke Egipte, waar dit onder meer in parfuum gebruik is. Later het dit ook gewild geraak in Griekeland, waar dit nie net in kos gebruik is nie, maar ook vir genesende eienskappe gebruik is. Vir eeue lank word laventel reeds as ‘n kosbare plant beskou, en dit is duidelik dat hierdie “pers goud” nog vir baie jare sy plek in tuine, huise en harte sal behou. As jy dus self ‘n stukkie van hierdie pers prag wil ervaar, gaan maak gerus ‘n draai by Lavender SA.
Vir meer inligting, volg @_lavendersa_ op sosialemedia, besoek https://lavendersa.co.za/ skryf aan info@lavendersa.co.za of bel 074 257 6737.
- Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.