Kweek jou gewasse vertikaal in plaas van horisontaal, benut tegnologie ten volle, doen deurlopend navorsing en moenie huiwer om alternatiewe oplossings te toets nie. Daar het jy dit in ’n neutedop – die geheime van CAN-Agri in Pretoria wat toevallig ook so ’n paar jaar gelede ons eerste “Nisboer van die Jaar” was.
Vir diegene wat hulle nou vir die eerste maal ontmoet … CAN-Agri is ’n volskaalse kommersiële kweekhuis wat vertikale en hidroponiese landboutegnieke met hoogs gevorderde tegnologie kombineer. Aan die een kant lewer hulle gewasse soos blaarslaai en kruie van die hoogste gehalte aan die kleinhandelsektor; aan die ander kant bied hulle uiters doeltreffende en skaalbare vertikale boerderyoplossings aan boere in stedelike gebiede waar ruimte beperk is.
Hulle fasiliteite word ook gebruik vir deurlopende navorsing en ontwikkeling, en hul tegnologie is gepatenteer met eksklusiewe regte in verskeie lande dwarsoor die wêreld, insluitende die Verenigde State, die Verenigde Koninkryk, Japan, Australië en Taiwan. Oor die jare het hul innoverende boerderystelsels ook bewys dat dit aansienlike voordele bied in vergelyking met tradisionele boerderye.
Een van die top voordele is natuurlik die feit dat hul boerderystelsels ’n mens in staat stel om gewasse in uiters uitdagende omgewings te produseer, soos stedelike gebiede waar bewerkbare grond óf skaars is, óf glad nie beskikbaar is nie. ’n Ander voordeel is dat dit jou in staat stel om gewasse optimaal te kweek: Baie vinniger as normaalweg, 365 dae van die jaar.
Dan is daar die groot x-faktor wat ’n enorme rol speel in die markwaarde, naamlik die voortreflike kwaliteit, smaak en gewaarborgde verlengde raklewe van die gewasse wat jy deur middel van hierdie presisie-boerderymetodes lewer. Dit word onder andere bereik deur saailinge in buise oor te plant, wat op hul beurt weer in groeitorings in die kweekhuis geplaas word.
Die saailinge word dan met gesuiwerde, voedingstof- en suurstofverrykte water “gevoer” van die bokant van die buise af, en vanweë gravitasie vloei dit deurlopend af oor die saailinge se wortels. Die groeitorings is ook strategies in rye gespasieer, wat toelaat dat sonlig tot op die grondvlak deurdring en verseker dat al die plante verlig word.
Dié kweekhuiskonsep bewerkstellig verder ’n omgewing wat te alle tye beheer kan word, en wat ’n mens dus nie uitlewer aan die genade van natuursomstandighede, soos met ander boerderye nie. CAN-Agri het duidelik ’n wenresep beet met al hierdie slim tegnieke wanneer jy sien hoeveel hulle gegroei het sedert Nisboere se eerste besoek.
Dit is merkwaardig, veral wanneer jy in aanmerking neem dat hulle ’n besigheid van hierdie skaal opgebou het op slegs 30 000 vierkante voet. Ja, jy lees reg, 33 000 vierkante voet, nie vierkante meter of hektaar nie! Dr Francois Olivier van CAN-Agri sê die deurslaggewende suksesfaktor van hul besigheid is egter ongetwyfeld die sorgvuldige oordrag van kennis en vaardighede aan ander voornemende boere wat hul model wil begin gebruik.
“Ons doen méér as normaalweg om seker te dat hierdie boere die maksimum voordeel uit ons opleiding trek en uiteindelik die maksimum waarde uit hul boerderye kan verkry,” sê hy. Volgens hom is hul konsep ideaal vir gevestigde boere wat ’n sekondêre inkomstestroom wil skep.
En alhoewel die aanvanklike kapitaaluitleg hoog kan wees, om op ’n soortgelyke skaal as CAN-Agri te begin produseer, is dit uit en uit ’n bewys dat dit uiteindelik ekonomies lewensvatbaar is. Daar is ook maniere waarop ’n mens aanvanklik eers op ’n kleiner skaal kan begin.
Hoe dit ook al sy, of jy nou slaggereed is om sommer dadelik groot te begin, of eers net klein wil afskop, ’n gesprek met kenners soos Francois en sy span sal ongetwyfeld van onskatbare waarde wees. Volg gerus hierdie skakel vir meer inligting oor hul bekroonde boerderystelsels, https://can-agri.com/ of om ’n afspraak te reël. Volg @Nisboere op Facebook om sáám met ander nisboere te leer en jóú storie te deel.