DINK GRÓÓT

Kwaliteit begin by die kern

In een van die groenste valleie in die Boland, kort duskant Worcester, tussen wingerde en berge, rond miljoene tulpe op die plaas Le Domaine dié prentjie perfek af.

Dis hier waar die internasionale blomonderneming Bloomia onlangs ’n vennootskap met die plaaseienaar, Adriaan van Wyk, gesluit het vir die aanskaf van sy tulpkwekery. Dié maatskappy kweek sy produkte in vier lande, met sy administratiewe hoofkantoor in Nederland waar alle bolle ingekoop word, asook ’n reuse-produksieaanleg in Virginië in die Verenigde State, ’n kleiner een in Chili, en natuurlik die Rawsonville-kwekery.

“Die gehalte van die blomme begin by die bolle. Ons Nederlandse span werk baie hard om ’n goeie verhouding met blombolboere daar op te bou om net die beste in te koop; ook om te verseker ons maak van nuwer variëteite gebruik,” vertel Adriaan.

Alles het begin toe sy ma, Retha Alberts, en haar oorlede man, Kobus Kloppers, die kweekhuis in 2009 op Le Domaine gebou het nadat hul belangstelling in so ’n bedryf in Nederland geprikkel is. Om die kweek van blomme wat tradisioneel in ’n kouer omgewing floreer, hier te vestig, het navorsing, voetwerk en waagmoed geverg. Adriaan het aanvanklik net met die oprig van die kweekhuis gehelp, want hy was in daardie stadium aan die Vloot verbonde. Die saadjie is egter gesaai en hy het ’n blitskursus hieroor in Amerika gevolg. ’n Terugslag het hulle getref toe Kobus kort daarna oorlede is. Retha en Adriaan het egter vasgebyt.

Op Le Domaine vind die hele produksiesiklus in die kweekhuis van 1 600 m² plaas deur middel van hidroponika – elke plant word dus in water gekweek. “Hidroponika as kweekmetode beteken daar word glad nie grond gebruik nie, wat dit ’n baie skoon proses maak. Oor die afgelope 15 jaar het ons nog nie ’n druppel gif toegedien nie. Die plante is van nature baie gesond, en hidroponika is omgewingsvriendeliker. Jy sou dink dat jy méér water nodig gaan hê as jy die plante daarin kweek, maar dis eintlik die teenoorgestelde. Geen water syfer weg in die grond nie en geen onkruid word natgelei nie. Alles wat die plant nodig het, word daarin opgeneem. Dis wat ons in staat stel om dwarsdeur die jaar ’n produk van ’n uitstekende gehalte te lewer.”

Die klimaatbeheerde kweekhuise, wat ’n kweekruimte, pakhuis en koelkamers insluit, sorg dat Bloomia se tulpe altyd aan die heel beste temperatuur blootgestel word – tussen 9 en 10 grade Celsius. Blomme kan dus dwarsdeur die jaar verskaf word omdat die natuurlike klimaat van tulpe nageboots word. Nederland is ideaal vir dié blomplant, maar tulpe kom oorspronklik uit die Hoogland van Persië (vandag Iran, Irak en Afghanistan) wat honderde jare gelede hul oorsprong was. Mettertyd het die kweek van tulpe in Nederland posgevat, waar nuwe variëteite geskep is. “Dis laasgenoemde wat hier herskep word, veral in die bewortelingsruimtes,” volgens Adriaan.

Tulpe is meerjarige, bolagtige plante met helder blomme in die genus Tulipa, uit die familie Liliaceae, wat uit sowat 75 wilde spesies bestaan. Daar word vertel dat die blom sy naam kry vanaf die gevoude tulband of “tulbend” wat Turke graag gedra het. Die Nederlanders het dit “tulipan” genoem en later na “tulp” verkort. 

Tulpplante word tussen 10 en 71 cm hoog, met hul blomme aan ’n bloeistingel. Die meeste plante het net een blom per stingel, maar ’n paar spesies spog met meer as een.

Bloomia Rawsonville lewer jaarliks nie minder nie as 3,5 miljoen blomme aan die plaaslike mark, waarvan 85% aan die grootste aankoper, Woolworths – die res aan groothandelaars, bloemiste en blomontwerpers.

“Soos met enige ander boerdery, moet jy jou hand op elke produksiefase hou – van plant tot oes, tot by die bossie wat jy in jou hand hou. Jou produk moet puik wees.”

Adriaan sê die groot voordeel van kweekhuise in Suid-Afrika, Amerika en Chili is dat jy nader aan kliënte kan kom. “Jy kan ’n varser produk lewer en dwarsdeur die jaar in hul behoeftes voorsien.”

Wêreldwyd kweek Bloomia jaarliks 75 miljoene stele, waarvan 4,5 miljoen plaaslik, met Amerika die grootste verskaffer. Net oor die Moedersdagtyd verlede jaar het hierdie afsetpunt 16,5 miljoen stele gelewer.

En wat is belangriker as om te weet kopers kan altyd uitsoekblomme by een van Suid-Afrika se uitsoek-afsetpunte vind? Dis waar Woolworths in die prentjie kom en dít is Bloomia Rawsonville se trots: “As jy in enige Woolworths in die land tulpe sien, moet jy weet dit kom van ons af.” 

’n Belangrike aspek van suksesvolle entrepreneurskap is om ’n vertrouensverhouding met kliënte op te bou. Bloomia kan hiervan getuig vanweë sy band met Woolworths. So ’n sakeverhouding is baie belangrik vir albei partye, meen Adriaan.

Daar is ook vele uitdagings aan so ’n onderneming, erken Adrian. “Dis dikwels dinge wat nie beheer kan word nie, soos by hawens waar daar soms vertragings plaasvind. Buite-invloede kan die produksieproses beïnvloed. Dan is daar ook die aspek van druk op die Nederlandse boere wat veroorsaak dat hulle nie meer die bolle soos in die verlede kan kweek nie, wat ’n prysstyging tot gevolg het. Nog ’n kwessie is dat jy soms net een blom uit ’n bol kry. Dis nie soos ’n plant of boom waarvan jy jaar ná jaar kan oes nie.”

Die heel beste raad wat Albert aan landbou-entrepreneurs kan gee, is dat “jou hand altyd op die stuur moet wees. Logistieke beplanning is noodsaaklik. Jy kan nie net hoop dinge gebeur vanself nie. Jy moet ’n ruggraat van staal hê, bereid wees om hard te werk, mislukking aanvaar as deel van die groeiproses … dan maar net aanhou totdat jy suksesvol is. Sukses kom nie oornag nie.”

Adriaan en sy span van 15 is soos familie en loop ’n lang, goeie pad saam om die Bloomia-waardes te handhaaf. Hulle weet die blombedryf is uiters mededingend, wat beteken dat hulle nie ’n oomblik kan laat slaplê nie. 

“Sukses in enige bedryf is moontlik as jy hard werk, soms ook met ’n skoot geluk,” sê hy. Dan haal hy die beroemde uitspraak van die eertydse gholfspeler Gary Player aan: “Hoe harder ek werk, hoe meer geluk kom na my kant toe.” Sy eie is: “Moenie dat iemand anders harder werk as jy en dan wonder waarom daardie persoon suksesvoller is as jy nie.”

Jy mag ook nooit sonder planne wees nie, is nog ’n belangrike sakebeginsel. “My oom Riaan het my dié les geleer: Die dag as jy sonder planne is, is jy in die moeilikheid. Hou aan planne maak en sorg dat jy daardie planne bestuur.”

Bloomia, Le Domaine, Louwshoek, Rawsonville, Tel. 023 0004 0142.

Besoek bloomia.com

Volg @Bloomia en @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.