Hier’s ’n interessante feit: Koejawels is supervrugte wat onder meer 257% van die mens se daaglikse behoefte aan vitamien C bied – aansienlik meer as dié van lemoene. Hierdie vitamien C-inhoud bly ook merkwaardig stabiel wanneer dit versap, ingelê of gedroog word.
“Dis juis om dié rede dat koejawelboerdery uiters winsgewend kan wees,” verduidelik Willem Grobbelaar van Modderkloof, ’n generasie-oue familieplaas aan die voet van die Drakensteinberg in die Wes-Kaap. “Of jy dit nou vars verkoop en of dit nou vir ingelegde of gedroogde produkte of sappe gebruik word, jy kan verseker wees daarvan dat jy ’n afset vir 100% van jou koejawels gaan hê,” sê hy.
Boonop hou koejawelboerdery ’n reeks ander voordele in. Eerstens is dit ideaal vir gewasdiversifikasie omdat dit ’n wintergewas is. Tweedens pluk jy jou eerste vrugte binne twee jaar en die boom het ’n besonder lang lewensduur van tussen 30 en 40 jaar.
“Wanneer jy ’n swak seisoen het, kan jy dus so ’n bietjie agteroorsit en ontspan, want jy wéét jou bome gaan nog vir baie jare vrugte dra,” sê Willem. As koejawels dus dan nou so ’n supervrug is en dit oor soveel potensiële boerderyvoordele beskik, dan het ons sekerlik nou al meer as genoeg koejawelboere in Suid-Afrika, of hoe?
Wel, néé – want Suid-Afrika is inderwaarheid maar ’n klein speler in die mark wat koejawelproduksie betref. Ons lewer ’n skamele 32 000 tot 35 000 ton koejawels per jaar, in vergelyking met van die wêreld se grootste koejawelprodusente soos Indië, wat meer as 20 miljoen ton per jaar produseer, en China, wat meer as 5 miljoen ton per jaar lewer.
Hoewel die meeste koejawelboorde in ons land in die Wes-Kaap voorkom, met so hier en daar ’n koejawelboer in Limpopo en Mpumalanga, kan koejawels eintlik in die meeste provinsies van ons land suksesvol verbou word. Die rede hiervoor is dat koejawels van tropiese oorsprong is en dus in tropiese en subtropiese klimaatsomstandighede floreer.
Die gewildste kultivar in Suid-Afrika is die Fan Retief, vernoem na Faan Retief wat die eerste kommersiële koejawelboord in 1890 in die Paarl gevestig het. Die meeste van die ander gewilde plaaslike kultivars is toevallig ook vernoem na die produsente wat dit oorspronklik gekweek het, soos die Malherbe, Rousseau, Du Preez en Van Zyl.
Sou jou belangstelling teen dié tyd al geprikkel wees om die potensiaal van die koejawelmark te begin ontgin, volg gerus hierdie skakel vir so ’n paar feite oor koejawelproduksie in Suid-Afrika: https://southafrica.co.za/af/koejawelproduksie.html. Luister gerus ook na die advies van Jacques Jordaan van die Koejawelprodusentevereniging.
Hy reken die deure is wyd oop om spesifiek op die vars mark te fokus, want bykans 90% van die koejawels wat plaaslik verbou word, word reeds aangewend vir puree, vrugtesappe, ingelegde vrugte en ander verwerkte produkte. “Omdat koejawels hoogs bederfbaar is, het dit nie ’n lang raklewe nie en is dit nie geskik vir uitvoer nie. Maak dus net seker jy hou jou oog op die plaaslike vars mark,” sê hy.
Indien jy presies wil weet hoe om te werk te gaan om van ’n koejawelboerdery hier op eie bodem ’n sukses te maak, klik hier om met die Koejawelprodusentevereniging in verbinding te tree. Die organisasie stel hulle dit juis ten doel om die koejawelbedryf in Suid-Afrika te bevorder en om dit vir voornemende koejawelprodusente finansieel die moeite werd te maak. Volg @Nisboere op Facebook om ons te vertel hoe jy vorder en by ander nisboere kers op te steek.