Begin net, al is jou lappie grond hóé klein. Dís die eerste stap as daar iewers in jou gedagtes ’n saadjie vir knoffelboerdery geplant is. Die tweede stap, om vooruit te boer, is om te volhard.
Dit som die verhaal op van Jaun Barnard wat in die jaar 2000 ’n knoffelboerdery begin het – nêrens anders nie as in hul voortuin. Dit was op ’n tyd in sy lewe toe hy sy werk verloor het en die toekoms duister sou wees as dit nie was dat hy na ’n dringende stemmetjie in sy binnekant geluister het nie. Die idee van ’n knoffelboerdery om aan die lewe te bly, was die verste van sy gedagtes, maar die woord “knoffel” het daarin bly vassteek.
“Ek, my stiefpa en ma het in Montana in Pretoria gewoon en toe twee stukke gras voor in die tuin met ’n trekker laat uitploeg en so 150 vierkante meter se knoffel aangeplant. Die boerderymetodes wat ons gevolg het, het ons jaar ná jaar laat groei.” Jaun het ontdek dat knoffel ’n top-kontantgewas is.
Die voortuin-aanleg het later verander in ’n knoffelaanleg “wat vertiendubbel het, en daarna weer vertiendubbel het”. By knoffelverbouing het dit egter nie gebly nie – Garlic Farmers SA, die maatskappy wat Jaun gestig het, het deur die jare sy visie aangepas en lewer nou ook dienste aan ander voornemende en bestaande knoffelboere deur hulle met raad, daad en kundigheid by te staan, ook om saad te verskaf. “Die rede waarom ons geskuif het na boerdery én die verskaffing van dienste vir ander boere, is omdat ons gesien het watse harde lesse ons geleer het. Ons wou verhoed dat ander boere wat begin, nie dieselfde duur skoolgeld hoef te betaal nie. Ons het gevoel dis vir ons beter om ander boere te help om béter te boer.”
Garlic Farmers SA se 23 jaar ervaring is dus gedeelde ervaring, nie net om boerderyslaggate uit te wys nie, maar om medeknoffelboere te help winsgewend boer met ’n gewas waarna daar ’n al hoe groter vraag is. “Ons kernbesigheid is die verskaffing van knoffelsaad aan nuwe en gevestigde boere – wat beteken dat Garlic Farmers SA oor die jare ’n netwerk landbouers opgebou het wat in grootmaat aan die markte en aan klein- en groothandelaars kan verskaf.”
Dis hierdie kundigheid wat Jaun en Garlic Farmers SA die hupstoot gegee het om die knoffelmark in Afrika te betree. “Ons het begin oproepe kry uit lande soos Botswana, Namibië en Mosambiek.”
Op Jaun se boeke is tans boere wat by die 1 000 ton of meer knoffel kan lewer, en alles word plaaslik gekweek.
Garlic Farmers SA is ook verskaffers van toerusting soos ’n knoffelplanter, ’n knoffelhuisie-splyttoestel, ’n knoffelhuisie-sorteerder en ’n knoffelwortel-en-knoffelstamsnytoestel.
“Ons het uitvoermarkte binne Afrika betree, met die fokus op die saadverskaffing aan boere, ook op advies- en praktiese dienste van A tot Z. Ons help deur hulle byvoorbeeld te adviseer wát jy moet doen, wanneer jy wat moet doen, hóé jy dinge moet doen, waarvoor jy moet toets, wanneer jy daarvoor moet toets, en waarvoor jy op die uitkyk moet wees.”
Uitvoer was, inderdaad, ’n uitdaging in sigself. “Ek moes leer hoe die uitvoerproses werk. Vandag is daar ’n hele paar suksesvolle boere in Afrika aan wie ons saad verskaf het. En ons doen dit steeds.”
Jaun sê dis sy wens dat die markaandeel van Suid-Afrikaanse boere beslis moet vergroot, want ons land voer nog 75% van sy knoffel in. “Vir my is dit onaanvaarbaar dat ons sulke ongelooflik suksesvolle kwaliteitboere in die algemeen het – dis húlle wat suksesvolle knoffelboere kan word, maar dan het hulle net nie genoegsame kennis van knoffelaanplanting nie, omdat hulle hul al die jare net toegespits het op gewasse soos mielies en tamaties. Dis tyd dat hulle die knoffelmark betree, maar hulle moet ook onthou om met knoffel te boer, verg geduld. Dis ’n gewas waarvan die groeityd ses tot nege maande is. So dis nie noodwendig ’n kontantvloeigewas nie; dis ’n langtermynbeplanningsgewas. Dis tyd dat hierdie boodskap uitgedra word na die boere daarbuite. Dit ís moontlik om ’n goeie, groot, suksesvolle knoffelboer in Suid-Afrika te word, maar dan moet jy dit doen met die hulp van dié wat reeds die kundigheid en ervaring opgedoen het.”
Jaun wys daarop dat daar ’n geweldige gaping in die mark is vir ’n knoffelboerdery … ’n produk waarvan die gewildheid toeneem en toenemend beter verkoop. Invoere moet verminder word, maar dit kan net gebeur as voornemende knoffelboere hulle hiervoor aanmeld.
“Die ander voordeel is dat huidige knoffelboere oor ’n netwerk van kundigheid beskik wat van groot hulp kan wees.” Hier praat Jaun van varsproduktemarkte, groothandelaars en kleinhandelaars by wie hy vir ander boere deure kan oopmaak.
Die tipes variëteite waarvoor Garlic Farmers SA saad verskaf, is Pink Egyptian, White Egyptian, White Eastern en Giant (oftewel) Elephant.
In verskillende gebiede in Suid-Afrika werk verskillende kweekmetodes en verskillende variëteite die beste. Jaun se benadering is grootliks: deur Suid-Afrikaners, vir Suid-Afrikaners.
“Ons mikpunt is om die 75% invoere af te bring na 50%, “waar ons 2 000+ ton knoffel in Suid-Afrika kan voorsien aan die plaaslike mark en probeer om daardie ouens te kry om nie soveel uit te voer nie. Ons moet dit plaaslik hou. Deur dit te doen, kan ons ’n beter prys vir tuisgekweekte knoffel beding.”
Dis nie altyd maklik om dit reg te kry nie, want ons boere kry gewoonlik ’n beter prys as hulle uitvoer, “maar ons moet probeer kyk of ons daardie prys vir hulle hier in Suid-Afrika kan kry.”
Wat moet alles gebeur voordat jy ’n pad wil begin loop as knoffelboer? Die antwoord is: “Moenie net droom nie. Begin net, al is dit baie klein. Ons vat hande met ons kliënte. Die grootste ding wat ons aan hulle oordra, is dat ons sáám leer en ons ervaring en kundigheid moet deel om sukses te behaal.”
Besoek Garlic Farmers SA by Vacy Lyle Straat 505, Elarduspark, Pretoria. Of bel 082 782 8984.
www.garlicfarmerssa.co.za
Volg @Garlic Farmers SA op Facebook en @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.