DINK GRÓÓT

Kleuterboere kweek kos vir die tafel

Jy is nooit te oud om te leer nie, lui die spreekwoord. Maar dis ewe waar dat jy nooit te jonk is nie, selfs nie om te leer boer nie.

Dis wat My Eco Sprout in Somerset-Wes by kinders tuisbring – dat jy ’n landbouer kan word sodra jy kan loop.

Dit het ’n omgee-ma, Copeland Koorts, geverg om hierdie waarheid raak te sien én dit in ’n suksesvolle onderneming te ontwikkel wat kweekboksies en -pakkies verskaf om bloedjong boere te leer hoe om hul eie groente en vrugte op die tafel te sit. Dit is ontwikkel met die stedelike leefstyl van talle kinders in gedagte en bewys aan hulle dat jy nie honderde hektaar grond nodig het om jou eie vars, gesonde lekkernye te verbou nie. Jou ouers se agterplaas is voldoende. Boonop, vertel Copeland, prikkel dit kleintjies so jonk as drie se nuuskierigheid oor die oorsprong van dit wat hulle eet en die waarde van gesonde, goed bewerkte grond.

My Eco Sprout se belangrikste doelwit is om kinders te leer dat groente en vrugte nie op winkelrakke ontstaan nie, maar hul oorsprong het in die aarde, daardie beddinkie met saailinge wat jy self bewerk en versorg; ook dat dit wat jy in jou mond steek, slegs met gesonde landboupraktyk in gesonde lekkernye kan ontwikkel. “Ons plan van aksie is om al die kinders van Suid-Afrika te inspireer om hul eie plante te plant, met die fokus op eetbare produkte om die voedselsekuriteitskrisis in ons land aan te spreek.”

Haar eie drie kinders was nog baie klein toe Copeland agtergekom het kleintjies geniet dit dikwels meer om buite te wees as op die mat voor die TV.

Die idee van My Eco Sprout is in 2018 gebore “toe ek besef het buite is waar my kinders op hul gelukkigste is. Ek het op ’n plaas grootgeword en my ouers het natuurlik te doen gehad met tuine en grond. Ek was dus altyd van grond en landbou bewus en het geweet waaroor dit gaan, maar dan word jy groot en verloor voeling daarmee.”

Copeland het modeontwerp geswot en ook winkeluitleg as beroep beoefen, “maar ná die geboorte van my kinders het alles wat ek van jongs af geleer het, na my teruggekeer. Ek het besef wat die buitelewe vir my kinders beteken en wat ek hulle kan bied. Dit was dus eintlik ’n baie natuurlike ding om met so iets te begin. Dit verskil heeltemal van dit wat ek gestudeer het, maar my beroep het my geleer om ’n fyner oog te ontwikkel om dinge bymekaar te sit. Ek het besef daar is nie werklik iets soos kweekpakkies spesiaal vir kinders op die mark nie.” 

Sulke verpakkings moet kindervriendelik wees en hul belangstelling prikkel, het sy ook besef, “en ek begin toe werk aan karaktertjies in ’n kleurpalet wat vir kinders aanloklik is en hul aandag sal trek, en natuurlik vir hulle lekker sal wees om mee te werk”.

Deesdae bied My Eco Sprout nie net kweekpakkies nie, maar onder meer ook ’n hele reeks saad, tuinboubenodigdhede, mikrogroente en gidse oor die kweekproses.

“Die fokus van die groeistelle vir kinders is om hulle te leer waar hulle voedselbron vandaan kom, op ’n manier waarop hulle hul kinderharte kan uitleef, vanaf inkleurboeke tot die saadjies wat hulle kan plant; waar dit ontstaan, hoe dit groei en tot waar die saadjie in iets eetbaars ontwikkel.”

Almal weet dat kinders soms hul neus vir sekere groentes optrek, net omdat hulle nie aan die smaak of vorm of tekstuur gewoond is nie, maar My Eco Sprout spreek juis dít aan “omdat hulle aan die groeiproses blootgestel word”, vertel Copeland. “Hul nuuskierigheid word gestimuleer, want hulle wil nou sien en proe wat hulle gekweek het.” 

Haar onderneming, wat op eie werf begin het, skep ’n behoefte aan kennis en leer selfs die heel jongstes onder ons op ’n prettige manier om weetgierig te wees: Wat is ons voedselbronne? Waar kom ons kos vandaan? Wat is kos? Wat verg dit in werklikheid om kos te produseer? 

Die pakkies met aanwysings en interessante inligting oor groente en vrugte leer van kleuter- tot tienerboere oor die kringloop wat plante volg … van dit wat gepluk en geëet word, tot die oes van saad, tot dié deel wat deur middel van daardie saad weer in die grond teruggesit kan word om ’n nuwe siklus te begin. 

“Toe ek destyds die besigheid begin het, was dit om kinders bloot te stel aan die verbouing van groente en vrugte op ’n manier wat so ’n bietjie buite die boks is.” 

Copeland voel kleintjies moenie net leer oor doodgewone geelwortels of rooitamaties nie, maar ook van daardie “anderste” variëteite, soos tamaties met ’n “gelerigheid en ’n persheid” in hulle of blaarslaai wat deesdae in allerlei interessante kleure en blaarvorms beskikbaar is. Verskeidenheid kweek belangstelling wat gaan lei tot pogings om self iets aan die groei te kry wat anders lyk en proe, is haar benadering.

Entrepreneurs moet weet dat dit ’n hele tydjie duur voordat mense met jou handelsmerk vertroud is, sê Copeland. Sy het haar onderneming as ’t ware saam met haar kinders sien groei en grootword. Nog ’n belangrike aspek is goeie tydsbestuur, want dit vat soms voetwerk om ’n gesin en ’n onderneming sáám te laat floreer, vertel sy. “Die lekkerste is dat ek kon sien hoe onafhanklik ons kinders binne ons groentetuin raak, kennis opdoen deur self te doen en te verstaan. Elke kind het ’n toegewysde bedding en leer om self daarvoor te sorg en die opbrengs daarvan self te oes. Elkeen kies byvoorbeeld die kleur en geur uit hul eie bedding vir ’n smoothie.” 

Al die produkte is noukeurig beplan en saamgestel en die verpakkingsmateriaal is bioafbreekbaar ten einde die verbeelding van kinders aan te gryp en hulle oor die kweekproses op te voed. Die boksies bevat byvoorbeeld plantmerkers, interessante yskasmagnete en minisproeibottels vir die saailinge. “Dis ons ouers se verantwoordelikheid om ons kinders oor hul omgewing te leer, so ook die uitwerking wat die mens daarop het.”

Skryf aan info@myecosprout.com of bel 84 947 9403.

Volg @My Eco Sprout op Facebook en Instagram en @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.