DINK GRÓÓT

Kleurvolle patatvariëteite uit die swart kleigrond van die Magaliesvallei

Dalk is dit die besonderse ligging van hierdie gesinsplaas, dalk die unieke swart grond eie aan die beeldskone Magaliesvallei … wat ook al die bestanddele, die Langplaas Boerdery naby Brits het oor ’n tydperk van 80 jaar gegroei tot een van Suid-Afrika se top-privaatleweransiers van varsprodukte.

Gert van Rensburg, die derde geslag van die gesin wat hier boer, skryf hul sukses ook aan drie ander faktore toe – dit is dat jy moet put uit die kennis van markleiers, dat jy respek moet hê vir die ervaring van jou voorgeslagte en dat jy nooit die veranderlikes van die natuur uit die oog moet verloor nie.

Langplaas, aan die voet van die Magaliesberg, lewer nou jaarliks ’n verstommende 55 000 ton varsprodukte uit die 1 200 hektaar waarop die gesin aktief boer en verskaf werk aan sowat 1 000 mense. Wat dit nog meer besonders maak, is dat die kleigrond nommerpas is vir hul gewasse: botterskorsies, beet, wortels, koolgewasse en veral patat van ’n hele aantal variëteite.

Soos in die geval van so baie suksesvolle boerderye, is Langplaas ’n onderneming wat al ’n paar geslagte in die familie is – kennis en ervaring dien dus as grondslag vir vooruitgang. “Langplaas is in die 1940’s deur my oupa begin,” vertel Gert van Rensburg. “Hy het met groente begin boer, ook met waatlemoene. Toe, in die 1970’s, vroeë 1980’s het my pa hier ingeval, en ek en my broer, Gerhard, het in die middel-2000’s deel van die span geword. Die vierde geslag word nou hier groot.”

Familievaardighede, familiekennis en familieondersteuning werk dus mee tot ’n verfyning van landboumetodes oor die meer as agt dekades op hierdie stuk uitsoekgrond waarvan die volle potensiaal van hoek tot kant ontgin word.

Tog is dit patat wat deesdae hul hooffokus is “omdat dit so ’n unieke gewas is”, sê Gert. “Wat patat uitsonderlik maak, is die groot verskeidenheid. Die diversiteit maak dit interessant. Dis gesond en smaaklik.”

Daar is wel ’n paar faktore wat dit ’n moeiliker groentesoort maak om te produseer, maar as ’n boer dít eers onder die knie het, is daar geleenthede tot kreatiwiteit en innovering. “En dis wat patats so lekker maak as boerderygewas.”

Hoofsaaklik drie kleure (of variëteite) patat word op Langplaas geoes: dié met wit vleis, met oranje vleis en met pers vleis, “en tussen daardie kategorieë kry jy ook nog ’n mengsel daarvan”.

Gert vertel dat hulle op Langplaas werk met gene wat hulle uit Amerika ontvang het. “Ons konsentreer op die drie kleure vir die mark. Persvleis-patat is die minste bekend aan die publiek, maar dis aantreklik en gesond omdat dit ryk is aan antioksidante. Dis ook kleurvol in disse, en het ’n unieke smaakprofiel.”

Patat word nie aangeplant deur middel van saad nie, maar deur ranke in die grond te sit, vertel hy. “Dis die ‘loper’ van die plant wat dan óf horisontaal óf vertikaal in die grond geplant word, afhangende van jou grondtipe. Vir die kleigrond van Langplaas werk horisontale inlegging die beste. Vanaf die ranke se nodus vorm dit voedingswortels en stoorwortels; die stoorwortels is eintlik maar die patat wat ons oes.”

Party kleure en variëteite groei vinniger as ander, sê hy, “selfs die vorms verskil drasties. Jy moet die een vind wat vir jou en jou grondtipe die beste werk. En wat die vorm betref, moet jy ook bepaal wat die maklikste vir jou sal wees om te oes en te verpak. Daar is ’n hele klomp maniere waarop jy die gewas kan verbou.”

In die kombuis bied patat ’n rits opwindende voorbereidingsmoontlikhede. Patatdisse kan sout of soet wees, afhangende van jou voorkeur, of die tipe maal waarop jy besluit: patatwiggies in die oond gerooster, patat-in-foelie, gebakte patat, gekookte patat, gestoofde patat … die keuses is eindeloos. Dan het jy nog nie eens gepraat van patat as nagereg of soetigheid saam met tee of koffie nie … patatpoeding, patattert en patatkoek.

Langplaas is verskaffers van patat aan ’n hele reeks winkelgroepe in die land, met Checkers die enigste wat pers patat verkoop as deel van hul Exotic-handelsmerk. Daar is ook Pick n Pay, Woolworths en talle ander kleinhandelaars. Soos dit gaan met landbou-ondernemings wat volhoubaar wil boer, fokus Langplaas op die kleinhandelgroep “wat die grootste deel van ons mandjie uitmaak”.

As jy ’n boer wil wees, moet jy ook ’n entrepreneur wees, meen Gert. “Die landboubedryf is ’n baie opwindende wêreld. Vir entrepreneurboere wat die bedryf wil betree, is dit ’n goeie plan om by markleiers te gaan aanklop en eers ’n paar jaar lank in daardie bedryf ervaring op te doen. Jy moet verstaan hoe dit werk, want ’n maklike bedryf is dit nie. Jy werk met veranderlikes, waarvan die klimaat seker die grootste is. Daar is natuurlik ook al die infrastruktuur wat jy nodig het om ’n gewas te kan produseer, afhangende van die skaal waarop jy wil verbou. Maar vir my bly die beste raad … gaan leer by die meesters met baie jare se ervaring en kyk dan hoe jy jouself kan vestig; op ’n innoverende manier vir jouself ’n nuwe mark kan bou.”

Langplaas Boerdery

  • 012 252 3653
  • gert@langplaas.co.za; gerhard@langplaas.co.za
  • langplaas.co.za

Volg @Langplaas Boerdery en @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.