Kraakvars, lip-lek-lekker en die perfekte kombinasie van soet en suur … dit is presies wat jy van KleinKraak kan verwag. Hierdie nisboerdery fokus op die verbouing van die eksotiese cucamelon, ook bekend as muismatjies of konynkomkommers.
Ongeveer so groot soos ’n druiwekorrel met die voorkoms van ’n miniatuurwaatlemoen, is hierdie vruggies bekend vir hulle bevredigende kraak en verfrissende suur smaak. Tog is die cucamelon vir die meeste Suid-Afrikaners nog relatief onbekend en nie iets wat jy sommer op elke winkelrak sal raakloop nie. Dit is juis hierdie gaping wat KleinKraak raakgesien het toe hulle hul nisboerdery begin het.
Gevestig in Elandsfontein in die Kempton Park-omgewing van Gauteng, bied KleinKraak nie net vars cucamelons nie, maar ook ’n reeks ingelegde produkte. Vars cucamelons is gewild in slaaie, drankies of sommer as ’n smaaklike peuselhappie. Die ingelegde weergawe word weer dikwels gebruik in Meksikaanse geregte en voorgeregte. Die grootste verskil tussen die twee lê in die smaak en tekstuur: vars cucamelons het ’n ferm kraak en herinner aan komkommer, terwyl die ingelegde vruggies ’n sterker suur smaak ontwikkel.
KleinKraak het ’n ware liefde vir hierdie unieke vrug ontwikkel en sien dit as hulle missie om die cucamelon met meer Suid-Afrikaners te deel. Van die begin af was dit vir hulle belangrik om dinge op die regte manier te doen. Daarom fokus hulle op die kombinasie van gehalte en volhoubaarheid. Die eindresultaat is heerlike handgemaakte produkte.
Hoewel die cucamelon dalk klein van formaat is, verg dit dieselfde sorg en aandag as enige ander gewas. Vanaf plant tot oes word elke vruggie met groot noukeurigheid hanteer om te verseker dat dit die gehalte lewer waarvoor KleinKraak bekend geword het. Dit is juis hierdie aandag wat help om van ’n ongewone vruggie ’n besonderse produk te maak. As jy dit nog nie probeer het nie, mis jy uit! Gelukkig kan jy aanlyn by KleinKraak bestel en hulle sal by jou voordeur aflewer.
Vir meer inligting, volg @kleinkraak op sosialemedia,besoek https://kleinkraak.com/ skryf aan kleinkraak@gmail.com of bel 071 479 6079
- Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.