DINK GRÓÓT

Klein en fyn op groot skaal

Die genot van kos lê nie net in die smaak nie. Dis ’n volledig sintuiglike ervaring, want tekstuur en voorkoms speel ’n ewe groot rol in die aanbieding.

Oor die afgelope jare het dit al hoe duideliker geword dat eetplekke en sjefs groot waarde aan die keurige afronding van geregte heg. Kos is allesbehalwe net iets wat lekker is en vol maak – mooi opdiening speel net so ’n groot rol. Dit toon keurigheid, aandag en omgee, en vertel iets van die sorgsaamheid van die kosmaker. Daarby het kleur en tekstuur baie te doen met die genot van goeie geregte en is ’n bepalende faktor in die sukses van eetplekke. Kos wat pikant en stylvol voorgesit word, smaak eenvoudig lekkerder.

Dis waarom Fine Micros net buite Stellenbosch van krag tot krag gaan, vanweë die toenemende bewustheid dat garnering so ’n beduidende rol in die kosbedryf speel. Die relatief nuwe neiging in die voedselbedryf om geregte met eetbare blomme en mikrogroente te versier, het ononderhandelbaar geword. Geen bord mag meer vaal, oninteressant en afgejaag lyk nie!

Emma Muller, mede-eienaar van die onderneming, vertel daar is ’n bykomende voordeel: Hierdie unieke blomme en groenigheid bied dikwels ook ’n heerlike smaakafronding, soos liquorice en ’n pikante tintel op die tong. 

“My pa, Daniel Kruger, het dit alles begin; hy het baie kennis van die boerderybedryf en het ’n gaping in die mark gesien. Hy was vasbeslote hieroor en het begin om mikrogroente te kweek. Ons is bevoorreg om baie by hom te kan leer en die plan is om stadigaan by hom oor te vat.”

Mikrogroente is groente wat in hul eerste, werklike blaarstadium van groei geoes kan word. Die kleure, teksture en smake sorg dat dit al hoe gewilder raak in uitsoekrestaurante as garnering en as pikante slaaibestanddele. Dit bevat sowat 40 keer meer voedingstowwe as hul volgroeide eweknieë.

Die kweek van eetbare blomme by Fine Micros het klein begin, want hulle het agterkom daar is ’n groot vraag in die mark hiervoor, vertel Emma. “Mense het gevra … noudat julle mikrogroente kweek, is daar ’n manier waarop julle eetbare blomme ook kan verskaf? My pa het toe op ’n klein skaal hiermee begin, maar dis nou een van ons topverkopers. Niemand het gedink dit gaan so ’n groot faktor in die besigheid raak nie. Ons verkoop baie blomme, dit is besig om ’n grootskaalse boerdery te word. Ons het dwarsdeur die jaar ’n afset hiervoor.”

Emma vertel Fine Micros bied om en by 15 verskillende soorte blomme te koop aan, gewoonlik fyn en pikant, in ’n bont verskeidenheid van kleure en teksture om geregte sierlik te bedien. Dit sluit in viooltjies en somerviooltjies, floksies, gesiggies, kappertjies, vilette en gousblomme. “Die gewildste eetbare blomme is die somerviooltjies omdat daar soveel verskillendes is – kliënte bestel die groottes, kleure en vorme wat hulle verkies. Ons het ook ’n paar ander los blomme soos koringblommetjies en baardangeliertjies wat baie goed verkoop.”

Altesame 32 verskillende soorte mikrogroentes word gekweek en verkoop. Dít sluit plante soos amarant, beet, brokkoli, geel en rooi mosterd, roket, radyse, Chinese kool, spinasie asook sonneblom- en ertjielote in. Mikrogroente word geoes gemiddeld tussen 10 tot 14 dae nadat die saad geplant is én nadat die saadlobbige blare ten volle ontwikkel het. 

Groothandelaars in Kaapstad en Franschhoek is van die belangrikste aankopers by Fine Micros, so ook verskaffers van groente en vrugte aan hotelle en restaurante, saam met ’n paar restaurante aan wie die onderneming direk lewer.

Emma se eggenoot, Gert, meen die klimaat van die Stellenbosch-omgewing het eweneens te doen met hul sukses. “Dis ’n baie lekker gebied waar ons boer, omdat dit hier so ’n bietjie warmer is. Die berg bied beskutting; ons is dus nie so blootgestel aan die wind nie.”

Nog ’n stap vorentoe was die oprigting van ’n “nethuis”, ’n afgebakende ruimte wat toegespan is en nagenoeg 50 m x 25 m groot is. Dit word met 40%-skadunet toegemaak om die groente en blomme teen die ergste hitte te beskerm.

Gert verduidelik dat die beddings vir die plante spesiaal effens hoër gemaak is en die aanplantingsgrond ’n mengsel is van sand, bas en grond waarin daar jaarliks kompos gewerk word. 

Te midde van al dié sorgsaamheid spring Fine Micros nie peste en plae vry nie. “Om insekte en plae te beheer, gaan ons vanjaar die nethuis so goed as moontlik toemaak en beskerm dat daar geen kans is vir insekte om by die plante te kom nie, saam met toestelle by die hoeke om die goggas betyds te vang. Ons spuit ook ’n mengsel van leem-olie en bikarbonaat teen dié plae en siektes wat ’n bedreiging inhou.”

Fine Micros verg daaglikse bedryfsaandag omdat dit op ’n varsproduktemark gerig is. “Ek kry soggens die bestellings by kliënte en ons werkers kom pluk dit die oggend waarop dit bestel is, waarna hulle dit in bakkies verpak en dit dieselfde dag afgelewer word,” volgens Emma.

Hoewel die onderneming goed op dreef is omdat dit ’n nuwe neiging in die kosbedryf is, is daar ook toekomsplanne, sê sy. “Ons wil elke jaar meer variëteite blomme en mikrogroente kweek en ons kliëntebasis uitbrei. So min mense weet eintlik van mikrogroente of besef hoe verstommend dit is; hoe maklik dit jou kos mooi kan maak en ook ’n lekker smaak daaraan kan gee, terselfdertyd die tekstuur heeltemal kan verander. Ek geniet dit om mense daarvan te leer.”

Eetbare blomme kan jy in absoluut alles gebruik, vertel sy, van voorgereg tot nagereg. “Dit rond kos so mooi af en sit kleur en diepte in jou disse.” 

As jong entrepreneurs staan Gert en Emma sy aan sy wat hul toekomsplanne betref. “As jy ’n jong entrepreneur is, moet jy ’n duidelike plan uitwerk,” meen Gert. “Jy moet weet wat jy wil doen, waarheen jy op pad is en wat wil jy bereik. Skryf dit neer en begin klein. Jy hoef nie dadelik groot en met miljoene te begin nie. Jy kan net so wel in jou eie agterplaas met ’n paar klein plantjies begin.”

Besoek Fine Micros op Instagram en tree met hulle in verbinding by 071 239 8784 of krugerfam@telkomsa.net

Volg @Fine Micros en @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf