Die kiwivrugmark is heeltemal uniek omdat die globale vraag na hierdie eksotiese vrug verreweg die aanbod oorskry, veral in Europa en Asië. Hoewel Nieu-Seeland tans die grootste produsent en uitvoerder van kiwivrugte in die Suidelike Halfrond is, is daar jaarliks ’n seisoenale tekort.
Dit is juis tydens dié vier- tot twaalf-week-venstertydperk dat ’n handjie vol Suid-Afrikaanse boere ekstra finansiële voordeel trek uit die tekort in die res van die wêreld, aangesien dit dán Suid-Afrika se oesseisoen is. Die res van die tyd bied hierdie mark ook deurlopend gulde geleenthede, want die aanvraag na kiwivrugte blý groei, plaaslik sowel as internasionaal.
Buiten die besonderse smaak kan dit natuurlik daaraan toegeskryf word dat verbruikers al hoe meer gesondheidsbewus raak en dat kiwi’s besonder voedsaam is, propvol vesel en met byna twee keer soveel vitamien C as enige sitrusvrug. Net in 2021, byvoorbeeld, is sowat 4 miljoen ton kiwivrugte verbruik, met ’n gemiddelde uitvoerprys van US$2 773 per ton.
Dit lei uiteraard tot dié vraag: “Waarom is daar dan nie méér kiwivrugboere in ons land nie?” Nisboere het onlangs met Peter Nicholson gesels om agter die kap van die byl te kom. Peter is die vyfde-generasie-eienaar van Roseland Farm naby Richmond in KwaZulu-Natal waar die Nicholsons al sedert 1850 boer.
Sy pa, Malcolm Nicholson, was toevallig een van die pioniers van groen kiwivrugte (Actinidia deliciosa) in Suid-Afrika wat sy eerste boord van 7 hektaar in 1983 gevestig het. Ondanks die feit dat ons klimaat ideaal is daarvoor, het boere soos Malcolm se pogings aanvanklik lank geneem om vrugte af te werp, hoofsaaklik omdat die vrug toe nie juis baie bekend was onder plaaslike verbruikers nie.
Dit het egter oor die jare verander, en toe Peter in 2005 by sy pa oorgeneem het, het die bedryf begin floreer. Peter het ook sy oog op nuwe verwikkelinge gehou, en in 2012 het hy met ’n Australiese kenner gesels oor die nuwe goue variant (Actinidia chinensis) wat in Nieu-Seeland gekweek is.
Nie almal is mal oor die suur smaak van die groen kiwi nie, maar die goue kiwi is baie soeter en het dwarsoor die wêreld sommer vinnig baie gewild begin raak. Peter het dadelik die geleentheid raakgesien en in 2013 was hy een van die eerste 14 boere wat ’n gouekiwivrugboord van 10 hektaar in Suid-Afrika gevestig het.
Peter sê dit is uiters arbeidsintensief en die uitlegkapitaal is redelik hoog, maar op die lang termyn is dit beslis die moeite werd. Hy het onlangs byvoorbeeld bereken dat sy potensiële opbrengs so 40 tot 60 ton per hektaar is, en as sy insetkostes en die huidige plaashekpryse van tussen R18 en R22 per kilo in aanmerking geneem word, sal sy boord ’n wins van sowat R500 000 per hektaar lewer.
Afgesien daarvan dat kiwi’s duidelik hoëwaardegewasse is met ’n potensieel groot opbrengs, kan dit boonop temperature van so laag as -15°C weerstaan wanneer dit nog op stok is, wat dit dan natuurlik ook geskik maak vir groot dele van Suid-Afrika se binneland.
In Suid-Afrika is ’n gouekiwiboerdery tot ’n mate beperk omdat die verbouing gelisensieer moet word, maar Peter verduidelik dat daar beslis ruimte is vir nuwe toetreders tot die mark aangesien die bedryf met nog ongeveer 900 hektaar uitgebrei kan word. Dit bied dus ’n gulde geleentheid aan boere wat wil diversifiseer met uitvoergewasse wat buitelandse valuta kan verdien.
Vir meer inligting oor die produksie van goue kiwi’s en hoe om ’n lisensie te bekom, stuur gerus ’n e-pos aan Peter by pete@roselands.co.za