Vir Sareta Schütte van Gravelotte in die Limpopo-provinsie is haar Ankole-teelprogram ’n bydrae tot die bewaring en uitbreiding van een van die wêreld se uniekste beesrasse.
Sy het Kilima Horned Heritage, wat deel is van die Schütte Legacy Groep van Maatskappye, opgebou vanaf drie beeste wat sy op die ingewing van die oomblik aangekoop het tot een van die mees gerekende beeskuddes in Suid-Afrika. Sy voeg egter dadelik by: Sy sou dit nooit reggekry het as dit nie was vir die hulp van haar span Ankole-kundiges, die morele ondersteuning van haar man, Frans, en die mentorskap van die kenners Jacques Malan en dr Morné de la Rey nie.
Dit was die manjifieke voorkoms van hierdie beeste wat haar aandag getrek het, vertel sy. Toe sy hulle die eerste keer sien, het sy gewéét dís die roete wat sy moet inslaan … om haar eie Ankole-beestelingsprogram op die been te bring. “Ek wou fokus op die bewaring en rasversterking van hierdie beeste met hul besonderse vel, indrukwekkende horings en klein bouraam – ’n ras waarvan daar nog relatief min in Suid-Afrika is.”
Sarita het skouer aan die wiel gesit en het ’n puik span aangestel: Haar seun, Ehrus Lubbe, fokus op die voeding; Natasha Galloway se spesialiteit is genetika; en Theo de Marillac se kundigheidsveld is volhoubare, etiese kuddebestuur.
“Ons werk baie hard om ons naam in die bedryf te vestig. Die span is jonk, dink kreatief en het inisiatief. Ons koop aan by betroubare telers, wat bereid is om hul inligting met ons te deel,” sê Sarita.
Volgens Natasha word daar op Kilima sterk gefokus op diversiteit in bloedlyne om inteling te voorkom. “Jy moet gebreke uit die bloedlyn teel, seker maak dat swakplekke nie versterk word nie.”
Ehrus praat met lof van sy ma. “Ons samewerkingsverhouding is baie spesiaal en gegrond op respek en vertroue. Dit maak dit baie makliker vir enige besigheid om vorentoe te gaan. Ons wil altyd goeie genetika teel om die beste te produseer.”
Vir Sarita is haar Ankole-teelprogram meer as net ’n boerdery. “Dis ’n roeping, my nalatenskap vir bewaring. Ek sal waarskynlik vorentoe nog sulke programme aanpak, veral waar ek sien dat daar beperkte getalle van ’n dier is.”
Sy is ook besig met baanbrekerswerk op die gebied van ’n baie besonderse soort bokkie, die Cape Lob Ear, ’n inheemse, geharde veldbok wat ook as die Appelbok bekend staan. Terselfdertyd boer sy vorentoe met haar wildprogram.
Drome is op passie gebou, sê sy. “As jy nie passie het vir iets nie, mors jy jou tyd. Leef jou passie uit.”
- Vir meer inligting, volg volg @Kilima Horned Heritage op sosialemedia, besoek www.kilimahornedheritage.co.za, skryf aan genetics@kilimagamereserve.co.za of bel 072 194 1156..
- Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om van die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.