DINK GRÓÓT

Keurige flessies vol geurigheid vir kos en drank

Sukses word dikwels uit nood gebore. Vir Jeanie Britz, eienaar van die maatskappy Burst Botanicals in Durbanville, was ’n reuse-terugslag háár aansporing om vorentoe te boer met dit waarop sy die meeste kan staat maak: kennis en leergierigheid, deursettingsvermoë en ’n voorliefde vir die produkte waarmee sy werk.

Haar verhaal as vooruitstrewende sakevrou en entrepreneur loop ’n lang pad terug, met 1995 die jaar waarin haar wêreld ineengestort het toe haar man op ’n betreklik jong ouderdom gesterf het. Die besef dat sy nou as enkeling vir haar kleuters moes sorg, was oorweldigend, maar gelukkig was sy nog altyd ’n vasbyter.

Sedertdien, binne die bestek van byna 30 jaar, het sy groot treë gegee tot vandag waar sy “op aftreeouderdom” die baas is van haar eie maatskappy met unieke produkte wat ’n vraag in die mark skep – en daardie vraag onmiddellik met ’n besonderse aanbod kan vul.

“Die mat is onder my uitgeruk toe my man so jonk in ’n motorongeluk oorlede is. Ek het drie klein seuntjies gehad en ek moes die boot op die water hou. Deur baie genade en ’n interessante pad wat ek geloop het, het ek dadelik in entrepreneurskap beland.” 

Sy het haar MBA voltooi en mettertyd twee maatskappye begin. Die een werk met besigheidstrategieë en die digitale komponente van ’n onderneming, maar haar strewe was om ’n produk te vervaardig en verkoop. Dit was boonop nog altyd vir haar belangrik om haar eie baas te wees, iets vanaf die grond op te bou en volhoubaar te bedryf.

Die tweede terugslag, die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperkingstyd toe die sakewêreld bykans gaan stilstaan het, was vir Jeanie nog ’n rigtingwyser na die verwesenliking van haar droom van ondernemerskap. Sy het gekies waarvan sy baie hou … vars vrugte en groente en ander geurige botaniese produkte. Sy het besef die belangrikste was dat haar produkte iets ongewoons en innoverend aan die mark bied. 

“Ek het by vars vrugte begin, dit opgesny en in my oond gedroog. Ek het gesien dit werk en navorsing begin doen rondom twee droogprosesse, dehidrering en vriesdroging. Ek het die dehidreringsproses gekies, met aarbeie en bloubessies as my eerste eksperiment.”

Deskundige advies om haar planne ’n hupstoot te gee was ’n volgende stap. “Ek het ’n voedselkonsultant gehuur uit wie se kennis ek baie geput het. Sy het my ondersteun en touwys gemaak. Later het ek besef ek wil dit ’n stappie verder neem, en ons het toe die gesnyde produkte ook in granulevorm omgesit.”

’n Skoon-etiket-benadering vir die gesondheidsbewuste verbruiker was nog ’n maatskappybeginsel. In die konteks van kos en drinkgoed beteken dit ’n beperkte bestanddelelys, bekende en natuurlike bestanddele, en geen preserveermiddels, ekstra suikers, kunsmatige kleursel en geursel nie. Wat jy in die houer of flessie sien, is dus net ’n verwerkte vorm van die produk wat gepluk is. 

Eksperimentering het vir Jeanie bewys haar gekose droogproses bring die ware geur en smaak van die vrugte en groente na vore. “As jy al ooit gewonder het hoe proe gemmer rêrig, daag ek jou uit om Burst se gemmer te ruik en te proe. Ek noem dit kleure en geure op steroïede.”

Die dehidreringsproses veroorsaak dat die natuurlike suikers van die produkte karameliseer en ’n uitsonderlike, natuurlike geur en smaak aan elkeen verleen. Burst Botanicals Dried Fruits se vrugte en groente in die klein 75 g-flessies is beskikbaar in knoopvorm, as skaafsels of splinters, vlokkies of blokkies. Jeanie moedig verbruikers aan om met geur- en kleurkombinasies te eksperimenteer. Droë rooiuie en wituie, droë beet, droë koejawel, droë appel, droë vy, droë hibiskus, droë kiwi, droë granaat, laventelsprinkels, droë pynappel, rooipomelo, droë roosblare, bloubessie, aarbei en appelliefies is haar voorkeure.

Die gedroogde produkte kan natuurlik net so as peuselhappie geëet word, vertel sy. “Dis heerlik vir die hele gesin, selfs vir jou skoolkind se kosblik. Vir die kreatiewe kok is dit nommerpas om ’n bietjie ekstra geur by ’n gereg te voeg.” 

Burst Botanicals se infusiegranules bied vrugtige geure en heilsaamheid aan ’n gewone beker water, aan jou tee of ander drankies, en is geskik as geurbestanddeel in gebak of in gekookte kos. 

Die produkte het ’n raklewe van drie maande indien dit in lugdigte houers gebêre word. “Ons fokus op volhoubaarheid deur varsprodukte by boere plaaslik aan te koop. Die beskikbaarheid van Burst se produkte hang af van die tyd van die jaar waarop die vrugte en groente geoes word.

As entrepreneur is dit vir Jeanie belangrik om haar produksielyn aan die gang te hou. “Jy moet dink aan skaal, van klein begin in die kombuis, tot waar jy dit moet oorweeg om groter masjiene aan te skaf wat dieselfde proses op groter skaal kan uitvoer,” sê sy. 

Te midde van Burst se uitbreiding is dit van die grootste belang dat dit altyd ’n bestuurbare entiteit moet wees – een waarvan die moontlikhede sowel as die grense begryp en omarm word. Dit beteken dat sy net die hoeveelheid vrugte moet aankoop wat sy op ’n bepaalde tyd kan verwerk. “As ek by my produsente kom, lag hulle vir my en vra hoeveel duisend kilogram of hoeveel ton ek soek, maar my aankope is altyd honderde kilogramme. Tog moet ek sê daar was ’n tyd toe ek net 10 kg op ’n slag gekoop het. Ek ervaar dus groei en is opgewonde oor die toekoms.”

Entrepreneurs moet besef hulle het nie ’n maklike pad gekies nie, sê Jeanie. “Vanaf die eerste dag is probleemoplossing jou grootste kwessie.”

Sy moes heel onder begin, die kleinste aspek van haar eiesoortige onderneming onder die knie kry: Hoe sny ek dit? Hoe vinnig kan ek dit sny? Hoeveel kom in elke flessie? Hoe groot gaan my reeks wees? Hoe gaan my etikette lyk? Waar kry ek produsente? “Ek het aanvanklik glad nie geweet waar om te begin nie, maar danksy die internet en heelwat kilometers wat ek afgelê het, het ek by die regte verskaffers uitgekom.” 

Behalwe hierdie praktiese kwessies moes sy ook oor haar toekomsplanne besin. “Ek het ’n missie en ’n visie bepaal en self besluit wat die waardes van hierdie maatskappy is.”

Burst se missie is om gesonde droëvrugte vir die gesondheidsbewuste verbruiker te ontwikkel; sy visie is om verbruikers aan te moedig om terug te keer na “regte” kos omdat daar niks beter is vir jou as dit wat die natuur bied nie.

Volhoubaarheid is Jeanie se toekomsdoel, van produkgehalte tot verpakking en personeelbestuur. “Die personeel is saam met my bly as dit goed gaan. Hulle sien die maatskappy groei.”

Haar raad vir entrepreneurs is om nie by die eerste spoedbult handdoek in te gooi nie. “Wanneer jy voel jy is nou op die rand van die afgrond, gebeur daar iets wat die afgrond weer ’n bietjie verder aanskuif. Jy moet vir die lang termyn beplan. ’n Onderneming is nie iets wat binne twee jaar suksesvol is nie. Toe ek Burst begin het, was ek naby aftrede. Nou het ek ’n 20-jaar-visie vir my aftredewerk.”

Besoek Burst Botanicals by Cherrywood Estate, Marimbasingel 7, Sonstraalhoogte, Durbanville. 

Bestel by: burstbotanicals.store

Of bel 083 274 5464

Volg @Burst Botanicals en @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.