DINK GRÓÓT

Kannabis: van verbode tot vooruitstrewend

In Suid-Afrika is dit een van die landboubedrywe wat die vinnigste ontwikkel – ’n mark wat ongekend uitbrei vanweë die groot behoefte aan die produkte van die hennep- en kannabisplant – industrieel en medisinaal. Terselfdertyd is dit een van dié wat die strengste gereguleer word, hier en oorsee.

Zaid Mohidin van die Johannesburgse maatskappy HempVest Africa sê Suid-Afrika se hennep- en kannabisbedryf word gereken as een van die voorstes ter wêreld, om die waarheid te sê as een van die top-vier, saam met Argentinië, Ekwador en Brasilië. Die rede hiervoor is grootliks natuurgerig, omdat Suid-Afrika kan staat maak op die perfekte hoeveelheid natuurlike lig, saam met die aangewese klimaat, temperatuur en humiditeit waarop die plante gedy. Billike arbeidskostes en innoverende wetgewing in hierdie bedryf is nog ’n pluspunt. “Binne die volgende paar jaar gaan Suid-Afrika internasionaal ’n sleutelrol speel,” meen hy.

HempVest Africa, een van ons land se toonaangewende kwekers van hennep en kannabis, roem daarop dat dié onderneming volledig voldoen aan die streng regeringsregulasies vir die bedryf, in ooreenstemming met wetlike voorskrifte. Die maatskappy is in 2018 gestig en spesialiseer in die verbouing van hoëgraad-kannabisplante en -produkte. Hy is ’n leier op hierdie gebied in Suid-Afrika en die eerste wat plantmateriaal vir industriële gebruik, asook ekstrakte en verwante produkte soos kannabis-olie, kommersieel beskikbaar gestel het. Die kwekery het meer as 50 000 kannabisplante van verskeie variëteite.

Ten einde hierdie bedryf te verstaan, is dit is belangrik om na die ooreenkomste en verskille tussen “hennep” en “kannabis” te kyk, sê Zaid. 

Terwyl wetgewing ’n streng onderskeid maak tussen die twee, is daar plantkundig weinig verskil. Hennep sowel as kannabis is variëteite van die Cannabis sativa-plantspesie, van die plantfamilie Cannabaceae

Hennep word minder streng deur die departement landbou gereguleer en is ’n veeldoelige gewas waarvan die roumateriaal vir allerlei industriële en medisinale gebruike aangewend word. 

Daar is meer as 400 chemiese komponente wat in die kannabisplant voorkom, waarvan 60 kannabinoïede genoem word. 

Teenoor kannabis (oftewel dagga of maruana) bevat hennep minder van die kannabinoïed (of psigoaktiewe chemiese bestanddeel) THK (Delta-9-tetrahidrokannabinol – in Engels THC of tetrahydrocannabinol), ’n chemiese stof wat hoofsaaklik verantwoordelik is vir kannabis se bedwelmende effek. Kannabis, met sy groter hoeveelheid THK, word deur SAHPRA (die Suid-Afrikaanse Owerheid vir die Regulering van Medisyne) gereguleer. 

Aan die ander kant bevat hennep weer hoër vlakke van die chemiese stof KBD (kannabidiol – in Engels CBD of cannabidiol) en maruana minder. 

Die enigste kannabinoïede wat in Suid-Afrika gereguleer word, is THK en KBD.

Dis allesbehalwe ’n nuwe bedryf. Die vinnig groeiende, eenjarige, aromatiese hennepplant word al duisende jare verbou en tot bruikbare materiale verwerk, onder meer vesel, waarvan gebruiksgoedere soos matte, tou, lap, visnet, selfs papier, tekstiel, bioafbreekbare plastiek, verf, biobrandstof, veevoer en isoleermateriaal gemaak word. Die plant kan ook in ’n groot verskeidenheid vorme beskikbaar gestel word, veral vir die konstruksiebedryf, en dit bied geleenthede vir die ontwikkeling van voedsel-, kosmetiese, biogebaseerde en farmaseutiese bedrywe. Hennepsaad, waaruit olie gepers word, is onlangs as ’n supervoedsel erken, aangesien dit ’n wye reeks skaars voedingstowwe bevat wat kanker, inflammasie en trombose teenwerk. 

Volgens Zaid staan hennep- en kannabisverbouing onder die streng regulasies van die departement landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling wat die industriële en medisinale verwerking beheer, en word die kweek daarvan sedert 2021 onder beheerde toestande toegelaat. Enigeen wat by die hennepbedryf betrokke wil wees, moet dus oor ’n geldige permit ingevolge die Wet op Plantverbetering beskik, en die hennepplante en -saad moet geregistreer wees. Die department landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het die mandaat vir die permitstelsel by die department van gesondheid en SAHPRA oorgeneem omdat hennep as ʼn landbougewas verklaar is. Dit beteken dat dit kommersieel gekweek, uitgevoer, ingevoer en verkoop mag word en ook dat navorsing oor die produk gedoen kan word. 

Dat dit ’n bedryf is met talle moontlikhede, is gewis, sê Zaid. “Daar is seker oor die 550 industriële gebruike vir hennep, natuurlik ook medisinaal. Hennep se biomassa, of die oorskot- biologiese materiaal nadat die blomme geoes is, is ewe bruikbaar. Dit sluit in die stam, sade, stingels, blare en wortels. Die biomassa is vir industriële gebruik nuttig, met ’n groot aanvraag hiervoor uit Amerika.”

Hy sê boere wat in hierdie rigting wil diversifiseer, moet in die eerste plek goed verstaan wat hulle werklik op die plaas wil uitrig. Indien hulle reeds oor die infrastruktuur soos tonnels en kweekhuise, drupbesproeiing en boorgate beskik, is dit nie te moeilik om te diversifiseer van byvoorbeeld groente na hennep nie. “Dis wat ons gedoen het. Soos die wetgewing dinge vir ons makliker gemaak het, het ons heeltemal oorbeweeg na hennep.”

Maar om industriële hennep op oop landerye te verbou, is dit raadsaam om minstens 25 hektaar onder hierdie gewas te sit voordat jy wins sal sien, sê hy. “Dan gaan dit nie net oor die grootte van die grond nie; jy moet ook sorg dat die res van jou verwerkingsaanlegte gereed is. As jy hennep oes en jy het nie die geskikte verwerkingsgeriewe nie, gaan jy alles verloor.”

Zaid vertel hy het in 2018 na Amerika gegaan om die bedryf te ondersoek, “nie om te leer hóé om dit te doen nie, maar om uit te vind hoekom daar baie mislukkings is. Regoor die wêreld is daar ’n geweldige oplewing in die bedryf, maar ook talle wat faal. Die redes hiervoor is hoofsaaklik ’n gebrek aan verwerkingsaanlegte en -geriewe, saam met ’n onvermoë om die oeste te verwerk tot materiaal en produkte waarvoor daar ’n vraag is. In Suid-Afrika is dít tans die uitdaging, maar die regering werk saam om te sien hoe hulle boere met die verwerkingsaspek kan bystaan.”

Die vraag bly of wetgewing nou gefinaliseer is dat dié produk wetlik verbou en verkoop kan word. “Wat hennep betref, beslis,” sê Zaid. “Die nuwe Wet op Private Gebruik laat ons toe om kannabis uit die arena van die Wet op Verbode Middels te neem, ook om kommersiële kwessies uit te werk. Suid-Afrika kry nou sy voet in die deur as ’n gesaghebbende internasionale rolspeler, wat hennep sowel as kannabis betref.”

’n Aspek wat groter aandag behoort te kry, is opvoeding, sê Zaid, “om die publiek deeglik in te lig en wanpersepsies oor hennep sowel as kannabis uit die weg te ruim. Dit geld ook die produkte wat in die handel beskikbaar is. Opvoeding is beslis ’n sektor waar daar nog baie werk voorlê.”

Al hoe meer mense besef dis ’n bedryf met ’n toekoms. “Daar gaan geleenthede opduik, mét finansiering, juis omdat die industrie nou gereguleer is. Tog is dit belangrik dat jy jou huiswerk deeglik doen voordat jy hierdie boerderyomgewing betree. Besluit waarop jy jou wil toespits – industriële hennep of kannabis. Moenie gebruik maak van konsultante wat dalk jou sak gaan ruk, maar nie met die regte aanbevelings vorendag kom nie. Vra advies by ervare mense wat al ’n geruime tyd hierby betrokke is. Maak seker jy weet hoe om jou kostes te beheer om mededingend te bly, met die regte span vir volhoubaarheid.”

Skryf aan: info@hempvest.africa of 010 447 6661.

Volg @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.