DINK GRÓÓT

Kameelmelk uit die Kalahari

Die dae dat die Sahara as die enigste Afrika-tuiste vir kamele beskou word, is iets van die verlede – maar min Suid-Afrikaners besef dit. Want diep in die Kalahari, duskant Askham, so 250 km noordwes van Upington, word daar met ’n kameelkudde van 160 op die plaas Koppieskraal geboer – en hulle is so tuis in dié bar, afgeleë omgewing as op enige plek noord van die ewenaar.

Camel Milk South Africa is in Maart 2015 hier gevestig … op ’n stuk grond wat al 80 jaar aan die Knoesen-familie behoort. Dié plaas lê in ’n gebied met ’n warm, droë klimaat wat die ideale omgewing bied vir die kamele om te floreer. Want net soos in die Sahara wissel die temperatuur hier van vriespunt op koue wintersoggende tot 40 grade Celsius en hoër in die somermaande.

Met ’n halfwoestynreënval van om en by 150 mm per jaar is die natuurlike plantegroei van bome, struike en wilde grassoorte die perfekte weiding vir hierdie grasieuse diere wat vrylik rondbeweeg in krale van tussen 150 en 200 ha elk. Hulle kan kies en keur tussen Koppieskraal se meer as 50 verskillende plantspesies.

Die eienaar, Hans Knoesen, vertel dat die melkkudde toegang het tot ’n omgewing wat goeie gesondheid vir die diere belowe vanweë die gesonde, natuurlike voeding wat tot hul beskikking is, sowel as hul uitmuntende immuniteitstelsels. Dit beteken dat hul melk ook vry is van antibiotika of stimulante.

Vir oningeligtes bly dié kernvrae: Waar kom dié Kalahari-kamele dan vandaan? En waarom kameelmelk eerder as koeimelk?

Hans sê sy kameelmelkboerdery kom van ver af, toe sy oupa einde 1934 die stuk grond begin huur en ’n paar jaar later gekoop het. “Die kamele het oorspronklik van die polisieteelstasie by Witdraai gekom. Toe die polisie op ’n keer, hier teen 1950, die kamele verkoop het, het Oupa hulle as slagosse aangeskaf, omdat dit ou ry-kamele was. En so om en by 1952 het die natuurpark Kgalagadi ook kamele verkoop. Dis toe dat Oupa ’n paar vroulike diere bygekry het, wat die trop al hoe groter laat word het.”

Dit was in die laat 1970’s, toe Hans se pa begin boer het, dat hy dié interessante bedryf voortgesit het deur onder meer ry-kamele te verskaf. 

“Uiteindelik het ons in 2015, die derde jaar van ’n taamlik droë tydperk, ’n gelyke getal verse en bulle gehad. Ek het begin wonder of daar nie ’n vleismark vir kamele in Suid-Afrika is nie.”

Hans se internetsoektog het hom toe nie na kameelvleiseters gelei nie, maar na kameelmelkdrinkers. “Dís waar kamele se waarde lê, het ek besef.” 

Die Knoesens se aanvanklike verkoopfokus was die Somaliërmark, maar algaande is die gesondheidsvoordele van kameelmelk vir verspreiding oor ’n groter kopersmark ontgin.

“Ons het met vars melk begin, want ons destydse kliënte wou almal vars, ongepasteuriseerde melk hê. Die logistiek van vars melk is egter veel moeiliker as dié van poeiermelk. Vars melk word gevries, maar dis ingewikkeld om die koue verspreidingsketting te handhaaf. Daarteenoor bied poeiermelk meer moontlikhede. Die vervoer van poeiermelk is soveel makliker en goedkoper, en natuurlik is die raklewe veel langer, tot 12 maande.”

Sowat 300 g poeier is nodig vir drie liter melk, en moet binne vyf dae verbruik word nadat dit aangemaak is.  

Nog ’n verskil tussen vars en poeiermelk is dat laasgenoemde deur ’n pasteuriseringsproses gaan voordat dit in poeier omskep word, wat nie by vars melk die geval is nie.

Hans sê die vars melk bevat moontlik nog mikrobes, maar die hittebehandeling waaraan poeiermelk onderwerp word, vernietig dit. “Poeiermelk is in geen opsig minderwaardig aan vars melk nie. Daar is geen verskil in voedingswaarde nie,” verduidelik hy.

Dis nie al nie: Kameelmelk bied ook ’n paar gesondheidsvoordele bo koeimelk. “Daar is twee proteïne wat in koeimelk voorkom wat ’n allergiese reaksie by mense kan veroorsaak – in kameelmelk is dit afwesig, wat maak dat dit makliker verteer. Voorts bevat kameelmelk ’n insulienryke proteïen, laktoferien, wat insulienvlakke help stabiliseer. Dit hou ook voordele in vir kinders op die outistiese spektrum.” Ander pluspunte is dat dit help om infeksies te beveg, gastro-intestinale gesondheid te bevorder en die immuunstelsel te versterk.

Kameelmelk is ook die basis van die Afriqueen-reeks velsorgprodukte – van handgemaakte seep met geure soos laventel-en-suurlemoen, tot lipsalf, handeroom en lyfroom.

Koppieskraal se kudde bestaan uit 90 volwasse vroulike diere. “Dis moeiliker as ’n beesboerdery,” sê Hans. “Dit duur langer voordat kamele volwasse is en kan begin teel, en hulle moet eers teel voordat hulle melk kan produseer.”

Daar is ook praktiese kwessies waarvan jy kennis moet neem. “Eerstens moet jy die kalf by sy ma hou om melkproduksie te stimuleer, en tweedens moet jy onthou dat die uier baie hoër sit as by ’n koei. Jy kan dus nie op ’n stoeltjie sit en met die een hand ’n emmer vashou en met die ander een melk nie. Kamele maak hul melk ook net vir so twee tot drie minute beskikbaar, wat ’n handmelkproses onmoontlik maak. Melkmasjiene is dus noodsaaklik.” 

Terwyl kameelmelk relatief nuut is in Suid-Afrika, is dit al lank ’n stapelvoedsel in veral die Midde-Ooste. Die bedryf het intussen ook uitgebrei na Nederland, Engeland, Amerika en Australië. 

Boerdery verg ’n toegewyde entrepreneurskapsbenadering, aldus Hans. “My advies vir opkomende entrepreneurs is om nie te doen wat almal om jou doen nie. Kyk na verskillende bedrywe, na iets wat gaan aard in jou omgewing en waarvoor jy ’n passie het. In ons geval aard kamele perfek in die Kalahari, beter as die skaap waarmee daar tot nou toe oorwegend hier geboer is. Maak dan jou somme. Dit duur altyd langer as wat jy gedink het om ’n ding van die grond af te kry. Maar nege uit tien keer is dit die moeite werd!”

Bel Koppieskraal by 073 367 6803 of 083 272 2164

Besoek camelmilksouthafrica.co.za en volg @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte aan te skaf.