Dis nie verniet dat Uniondale die Klein-Karoo se “versteekte juweel” genoem word nie. Amper onsigbaar lê hierdie dorpie aan die N9, tussen Oudtshoorn en De Rust aan die een kant en, aan die ander kant, Willowmore en die Baviaanskloof, met die Kammanassieberge, die Mannetjiesberge, die Kougaberge en die Hoopsberg as beskerming rondom.
Uniondale is as ’t ware die skakel tussen die Klein-Karoo en die Langkloof, in die rigting van die Suid-Kaapse kus, en daarom goed geleë aan die verbindingspaaie tussen verskeie belangrike landbou- en toerismestreke. Dis ’n dorpie met ’n ryk geskiedenis, bekend vir sy talle toeristeaantreklikhede, stap- en fietsryroetes, sy lieflike argitektuur, die opgeknapte Boerefort, die grootste watermeul in die land, sy kuns- en kunsvlytkunstenaars, padstalle, goeie restaurante, eersteklas oornagplekke vir reisigers op pad na elders … en natuurlik sy oorvloed aalwyne wat natuurlik in die veld voorkom.
Dis daarom verstaanbaar dat dit die tuiste geword het van een die land se bekendste aalwynbedrywe wat nou hierdie mooi omgewing op die kaart hou: Kaloes Natural Products, ’n aalwynverwerkingsonderneming wat gesog is vir sy verskeidenheid aalwynprodukte. Die maatskappy vorm deel van die groter Aloe ferox-bedryf wat rondom Uniondale ontwikkel het vanweë die halfdroë klimaat wat ideaal is vir die groei van aalwyne wat oral wild in die veld voorkom, of wat self gekweek word.
Ken Dodds, eienaar en bestuurder, wat saam met sy gesin hierdie vooruitstrewende onderneming bedryf, vertel hy is al van 1993 af betrokke by die aalwynbedryf, en spits hom toe op die vervaardiging en verkoop van aalwynprodukte. Dié plant kom oral in die Karoolandskap voor, en die Uniondale-distrik is ideaal hiervoor as gevolg sy droë klimaat, naamlik ’n lae reënval en droë lug, baie sonskyn, goed gedreineerde grond en groot temperatuurverskille tussen winter en somer. Uniondale se binnelandse klimaat bied juis hierdie uiterste seisoenale temperatuurwisselings, wat ideaal is vir aalwyne. Die droogheid van die grond is ’n verdere pluspunt, omdat aalwyne nie van nat wortels hou nie.
“So 10 jaar gelede het Kaloes uitgebrei na ’n verwerkingsaanleg vir aalwyn-roumateriaal,” vertel hy. Hoewel veeboerdery dié pa en seun se primêre boerderyaktiwiteit is, vorm aalwyne en medisinale kruie ’n reuse-deel van hul bedrywighede.
“Hier in die Klein-Karoo gedy aalwyne omdat dit ’n halfwoestynplant is. Dit het min water nodig, terwyl ons medisinale plante besproei moet word. As plante egter, soos hier, in die natuur voorkom, weet jy dit is goed aangepas vir droogtetye en kan selfs in moeilike toestand floreer.”
Ken vertel dat hulle die wilde Aloe ferox – wat inheems is aan die Oos- en Wes-Kaap – oes en verwerk tot tussenprodukte soos aalwynbitterstowwe (aloïenprodukte), aalwynblaarpoeier, die binneste blaarfilette, gel-produkte, en rou- of basisbestanddele vir skoonheidsmiddels, gesondheidsaanvullings en farmaseutiese produkte. Volhoubare oespraktyke is belangrik omdat Aloe ferox wild geoes word en ekonomies belangrik is vir landelike gemeenskappe.
“Dit neem aalwyne lank om te groei, dis ’n ‘stadige’ produk. Dit duur so vyf tot ses jaar voordat jy die eerste keer sy blare kan oes. Jy haal dan die onderstes af, so ongeveer 20 per plant. Die hele blaar is bruikbaar, vir sowel sy bitter sap as sy binneste gel.
“Net onder die bolaag, of die vel, is daar ’n lagie selle vol bittersap. Die binnekant van die blaar gebruik ons weer vir onder andere gesondheidsdrankies. Wanneer die blare afgesny is, los jy dit vir ’n paar dae, sodat al die bittersap uitdrup. Dit word in plastiek versamel en ’n paar dae lank oor ’n vuur gekook. Dis wanneer dit dan in ’n harde, swart kristal verander wat net so verkoop word, en wat vir verskeie medisynes en kosmetiekprodukte gebruik word.”
Die binnekant van die blaar word die “blaarfilet” genoem: Dit word skoongemaak, vertel Ken, “en dit is die aalwyn wat mense ken, wat gebruik word in joghurt en sap, selfs vir kosmetiekrome. Die buitenste deel van die aalwynblaar word verpoeier, vir onder meer ’n byvoeging in dierekos.”
Kaloes is ook ’n gerekende werkverskaffer, want groot dele van die oes word steeds met die hand gedoen. Die maatskappy het 12 permanente werkers in diens, “maar in die oestyd kan daar tot honderde in die veld besig wees om blare af te haal, afhangende van die hoeveelheid bestellings,” sê Ken. “Die hele aalwynbedryf is ’n redelik groot werkverskaffer in ons gebied, sowel as in die Oos-Kaap.”
Kaloes Natural Products is ’n geregistreerde onderneming wat aan alle wetlike vereistes rakende verwerking en produkte voldoen.
Van die medisinale produkte is: Aloe ferox-bitterkristalle (’n natuurlike lakseermiddel), Scelitium tortuosum oftewel kanna (’n natuurlike antidepressant), Sutherlandia frutescens oftewel kankerbossie (vir maagtoestande), Aloe ferox-groenpoeier (’n natuurlike lakseermiddel en dierekosbyvoeging) en Leonotis leonurus oftewel wildedagga (vir pynverligting).
“Ons hele gesin is in hierdie familieonderneming betrokke. My seun, Dane, is meer betrokke by die aalwyne sowel as die medisinale produkte, terwyl my dogter haar toespits op die bokke en die skape.”
Dane vertel dat “volhoubaarheid” die grondslag vorm van hul boerderybenadering. “Ons kyk 10, 15 jaar vooruit, na die maniere waarop ons die besigheid op ’n natuurlike wyse kan laat groei. Ons wil soveel as moontlik dinge volgens ’n volhoubaarheidsgrondslag doen, en ons wil nie te veel plante in kweekhuise laat groei nie. Ons wil steeds die krag uit die grond put. Ons wil ook graag uitbrei op ons verskaffing van bepaalde plante aan belangstellendes en kopers, dit wil sê om sekere plante vir sekere mense te kweek, volgens aanvraag.”
Die verskaffing van olies en teesoorte is ook moontlikhede op die horison, sê hy. “En ons wil ons kennis van inheemse plantegroei aan ander mense meedeel, so ook van die ou, tradisionele resepte vir produkte wat van plante gemaak kan word. Ons wil graag saam met kenners werk rondom die kweekprosesse van veral die medisinale plante … hoe die produkte wat hieruit vervaardig word op die ou end die beste sal werk as geneesmiddels.”
Entrepreneurskap is nie ’n maklike pad om te loop nie, maar wel ’n bevredigende een as jy dit reg aanpak, sê Ken. “My raad aan enige jong ou is dit: Begin net! Moet vir eers nie jou huidige inkomste opskort nie, maar as jy nie êrens jou eie ding begin doen nie, gaan jy ook nie weet of dit gaan werk nie. Die belangrikste is om allereers te bepaal of jy ’n mark vir jou diens of produk het. ’n Mens hoor so dikwels: ‘Jy het ’n wonderlike produk!’ Maar dit help nie jy begin na ’n mark soek eers wanneer jy die dag daardie produk het nie. Doen altyd deeglike huiswerk vooraf.”
- Vir meer inligting, volg @ Kaloes Natural Products op sosialemedia, besoek www.kaloes.net, skryf aan info@kaloes.net of bel 027 44 752 1266 of 082 774 0004.
- Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om van die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.