DINK GRÓÓT

JUSTBLiSS: Plantgebaseerde sorg van kop tot tone

Wanneer dit by skoonheidsprodukte kom, is die keuses byna eindeloos. Elke handelsmerk beloof merkwaardige resultate, maar vir talle verbruikers bly dit net mooi woorde. Boonop kos baie van hierdie produkte ‘n klein fortuin. Dit is juis hierdie frustrasie wat Ansulene Prinsloo geïnspireer het om haar eie nisonderneming te begin, een waar skoonheidsprodukte nie op leë beloftes berus nie, maar eerder op natuurlike bestanddele. Só het JUSTBLiSS ontstaan.

Geleë in die Rosestad, Bloemfontein, is JUSTBLiSS vir Ansulene veel meer as net ‘n produkreeks: dit is ‘n leefstyl. Sy moedig mense aan om stadiger te leef, weer met die natuur in aanraking te kom en die waarde van eenvoudige, plantgebaseerde produkte te ontdek. Die reeks sluit produkte vir die hele liggaam in, van kop tot tone. Hulle glo dat doeltreffende produkte met eerlike bestanddele begin, en daarom vorm hennepsaadolie ‘n belangrike deel van hul produkte.

Hennepsaadolie is ‘n natuurlike olie wat uit die sade van die hennepplant gepars word. Anders as medisinale kanabis bevat hennepsaadolie nie THC en CBD nie, en het dit dus geen psigoaktiewe of medisinale effek nie. Dit is egter ryk aan omega-3- en omega-6-vetsure, vitamien E en antioksidante wat die vel voed en help om dit sag en gehidreer te hou. Daarom word dit dikwels gebruik in produkte soos gesigolies, lyfbotters, seep en haarversorgingsprodukte.

JUSTBLiSS bied vandag ‘n wye verskeidenheid produkte aan. Wat begin het met ‘n eenvoudige sepie en ‘n rooibos-lyfbotter, het oor die jare ontwikkel tot ‘n volledige reeks wat verbruikers help om ‘n rustiger en natuurliker leefstyl te lei. Dié groeiende reeks sluit ‘n wye verskeidenheid in, vanaf kerse en parfuum tot gesigolies en velsorgprodukte. Trouens, Ansulene beoog om voortdurend nuwe produkte te ontwikkel sonder om die gehalte en natuurlike karakter prys te gee waarop JUSTBLiSS gebou is.

Hoewel JUSTBLiSS dalk nie ‘n boerdery in die tradisionele sin van die woord is nie, begin alles steeds by die natuur. Deur die waarde van natuurlike bestanddele te ontsluit en dit in alledaagse produkte te omskep, wys Ansulene dat nisboerdery nie altyd oor lande en vee hoef te gaan nie. Soms begin dit met ‘n eenvoudige saadjie, ‘n goeie idee en die passie om mense op ‘n eerlike en natuurlike manier te versorg.

Vir meer inligting, volg @justblissnaturals op sosialemedia, besoek www.justbliss.co.za skryf aan info@justbliss.co.za of bel 083 300 6118.

  • Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.