DINK GRÓÓT

JLDT Farms: Knoffel met ‘n plan

Die Du Toit-familie het in 2024 ‘n nuwe hoofstuk begin: een plaas met twee uiteenlopende afdelings. Aan die een kant teel hulle met Bonsmara-beeste en aan die ander kant verbou hulle verskeie knoffelvariëteite. Die doel is om albei afdelings van die boerdery tot die hoogste moontlike standaard te ontwikkel.

Die Nisboere-span was veral geïnteresseerd in die knoffelafdeling van die plaas, aangesien dit nie iets is wat ‘n mens elke dag teëkom nie. Volgens Jacques-Lois het hulle hierdie afdeling met ‘n duidelike visie begin, naamlik om ‘n moderne plaas te vestig wat tegnologie en data benut om ‘n premium produk aan die mark te lewer. Die Du Toit-familie vasbeslote om ‘n plaas te bou wat vir geslagte sal voortbestaan; een wat nie net waarde vir die eienaars skep nie, maar ook ‘n positiewe verskil in die gemeenskap en in die lewens van hul werknemers maak.

Om hierdie droom te verwesenlik, fokus JLDT Farms op drie knoffelvariëteite: Elephant Giant, Argentinian White en Egyptian White. Elke kultivar vereis unieke sorg om sy volle potensiaal te bereik, en dit is juis hiér waar hul data-gedrewe benadering ‘n belangrike rol speel. Deur voortdurend kennis oor elke kultivar in te samel en te ontleed, kan hulle vroeg tekens van peste of siektes identifiseer. Só kan moontlike probleme aangespreek word vóór dit die oes benadeel.

Hierdie fokus op presisie beteken egter nie dat ervaring en intuïsie opsy geskuif word nie. Vir Jacques-Lois is suksesvolle boerdery ‘n balans tussen tegnologie, deeglike beplanning en ‘n opregte passie vir die grond. Elke seisoen bring nuwe uitdagings mee, maar ook nuwe geleenthede om te leer en prosesse verder te verfyn. Uiteindelik is die doel nie net om groot knoffelbolle te produseer nie, maar boonop ‘n produk van uitstaande gehalte te lewer waarop verbruikers kan staatmaak. 

Deur voortdurend te innoveer en nuwe idees te toets, bewys JLDT Farms dat selfs ‘n tradisionele gewas soos knoffel met moderne denke en toekomsgerigte boerdery nuwe moontlikhede kan ontsluit.

Vir meer inligting, volg @jldt_bonsmaras op sosialemedia  besoek www.jldtfarms.co.za/garlic skryf aan jacques-lois@familydutoit.co.za of bel 066 239 4087