DINK GRÓÓT

Jamaka: landbou as ’n roeping

In hul lewe het Jannie en Katrin Nieuwoudt al baie uitdagende dinge gedoen, maar nie een so buitengewoon as om sowat 20 jaar gelede ’n organiese gemengdeboerdery in die Cederberge te vestig nie – en dit sonder enige landbouervaring. Boonop het hulle daarvoor kans gesien om die tradisionele benadering vir ’n organiese metode te verruil.

Hulle het egter daarop staatgemaak dat hul vorige beroep as geoloë en hul uithouvermoë as marathonatlete hulle geleer het deurdruk en doelgerigtheid lei sonder uitsondering tot sukses.

Die grond waarop Jamaka Organic Farm and Resort lê, soms ook Grootkloof genoem, is al sedert 1723 in die besit van die Nieuwoudt-familie. Die sertifisering as organies, met rooibostee en verskeie mango- en sitrusvariëteite wat as die primêre gewasse verbou word, beteken dat hulle sonder enige plaagbeheermiddels, onkruiddoders of kunsmis boer. 

Kommersiële aktiwiteite het die eerste keer in die 1950’s op die plaas begin, hoofsaaklik met die aanplant van sitrusboorde. In 1994 is die oorspronklike landbouspesifieke benadering aangepas deur ook ’n kampeerplek op die grond aan te lê en bestaande strukture te verbeter en in selfsorgchalets te omskep. In 1997 het Jannie en Katrin besef “agritoerisme” is ’n term wat hul bedryf hier uitstekend beskryf en ’n meesterplan is ontwerp vir ’n volledige toerismeoord. 

Die grond lê in die Weskusstreek van die Wes-Kaap, sowat 60 km die binneland in, wat dit uiters geskik maak as gewilde vakansie-en-akkommodasiebestemming, met 10 volledig toegeruste eenhede wat elk tussen twee en 16 mense kan huisves. Boonop is daar altesame 85 kampeerplekke waaruit buitelewe-entoesiaste kan kies. 

Jamaka as toerismeoord en wegbreekplek het amper oornag gewild geraak. “Ons het begin met een huisie en ’n kampeerplek.” Hoorsê as bemarkingsmetode wérk, want ’n goeie ligging en goeie diens het gemaak dat mense onder mekaar begin praat het. “Dit raak al hoe gewilder. Gaste kom jaar ná jaar hier uitspan en bring hul gesinne en families,” vertel Jannie. “Ek het al geslagte hier sien grootword. Mense wat kinders was toe hulle die eerste keer hier gekuier het, bring nou hul eie gesinne saam. Ons is eintlik altyd volbespreek, veral langnaweke en Desembervakansies.”

Jamaka het ontwikkel in ’n toevlugsoord vir moeë stadsmense sowel as plaaslike inwoners, met selfs ’n tennisbaan en foefieslaaid by die riviertjie.

Wat die landbouaktiwiteite betref, is dit ’n pluspunt dat Clanwilliam binne ’n dag se ry van die Moederstad lê. Varsprodukte kan dus groter én kleiner markte, sowel as die Kaapstadse hawe, binne twee, drie dae bereik nadat dit geoes is. Jamaka se opbrengs kan sodoende gerieflik aan die plaaslike én uitvoermark beskikbaar gestel word. 

Veral die mangoboerdery trek aandag, “want ons het uitgevind dié vrugte raak buite seisoen hier by ons ryp, wat natuurlik maak dat ons goeie pryse daarvoor kry. As die res van die land dus klaar is met hul mango-oeste, kan ons ons s’n aan die mark lewer.”

Die Clanwilliam-streek is ’n gebied wat landwyd bekend is vir die verbouing van sitrusvrugte en rooibostee, wat endemies is aan die streek. “Die rooibosteeplante groei wild op die plaas. Ons vervaardig tee sodra die pryse goed is. Ons begin ook nou met aspersies boer wat my seun aangeplant het nadat hy witaspersieverbouing by ’n vriend gesien het. Dit bied goeie waarde, en ons probeer dit nou as ’n volgende landbouvertakking.”

Organiese boerdery is nie altyd heelpad gladde pad nie, “want die landerye het taamlik onkruid, dus het jy ’n probleem met voeding en onkruidbeheer. En dan is daar natuurlik streng regulasies waaraan ons moet voldoen, die sogenaamde rompslomp. Dit raak net meer en meer, soos naspeurbaarheid en verskeie ander reëls waaraan voldoen moet word.”

Daar moet verslag gedoen word van elke krieseltjie wat geoes word en daar is, volgens Jannie, ’n lang lys voorskrifte. “Elke produk wat jy gebruik, moet gesertifiseer wees. Jaarliks raak dit strenger en strenger, maar dit kry ons nie onder nie. Daar is meer voordele hieraan verbonde, want jy weet jy vergiftig nie die grond nie, en jy vergiftig nie die mense wat dit eet nie. Daar is geen residu’s in enige van die vrugte wat jy produseer nie.”

Om organies te boer, beteken dat jou produksie kleiner is, dat jy meer arbeiders benodig, dat jou onkruidgroei groter is en jy streng moet toesien dat daar nie ’n tekort aan voedingstowwe vir die bome is nie. “Jy het net soveel meer verskillende dinge om in ag te neem as wanneer jy konvensioneel boer.”

Die Nieuwoudt-verhaal eindig nie by Jannie en Katrin se geslag nie. Hul drie seuns het reeds aangetree met saamboerplanne. Deurdat hul kinders dus nou ook besluite kan help neem, word verdere toekomsplanne op die gebied van agritoerisme ontgin. “Hulle het hul eie entrepreneursplanne, soos die verskeie staproetes wat hier aangelê word. Maar selfs staproetes moet in stand gehou word omdat dit ’n bergagtige gebied is wat voortdurende uitdagings bied. Hier, oor die berge, is daar ’n stuk of vier, vyf, ses staproetes en op die plaas sluit ons roetes ook soms aan by Natuurbewaring s’n,” sê Jannie.

Jamaka het gemiddeld 25 tot 30 voltydse werkers, maar in die seisoentyd, veral wanneer mango’s gedroog en geskil word, is daar baie werk. “Dan het ons tot 50 mense in diens. Hulle kom almal uit die plaaslike gemeenskap. Ons het ’n lang verbintenis met die Algeria Bosdorp hier naby. Dis ’n plek waarmee ook my voorvaders ’n lang pad geloop het. Die plaaslike gemeenskap is vir ons belangrik – dis soos familie. Jy boer nie op ’n eiland nie, jy moet die mense om jou betrek.”

Die Nieuwoudts besef dat selfs ’n wenresep voortdurende innovering nodig het. Wakker lê snags is deel daarvan, maar dan eerder oor vernuwingsplanne as oor bekommernisse. “Ons is nooit sonder planne nie. Gelukkig het ek nou my seuns wat my help dink. Baie jare was alles net op my skouers, maar nou is dit ’n dinkskrum wat gesamentlike insette verg. Ek doen niks sonder hulle bydraes nie, want ek is op pad uit en hulle moet oorvat. Dis húlle wat gelukkig moet wees met wat hier is.”

Vir Jannie lê sukses in die landbou binne homself. “Ek voel goed oor wat ek doen. Vir my is dit eerder ’n roeping as ’n geldmaakstorie.”

Jamaka Organic Farm and Resort, Clanwilliam.

Besoek jamaka.co.za en tree met hulle in verbinding by 027 482 2801.

Volg @Jamaca en @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf