DINK GRÓÓT

Jaciana Foods: Gefermenteerde voedsaamheid

Die meeste mense se loopbaanpad begin op ’n bepaalde oomblik in hul kleintyd: Iets gebeur of iemand sê of doen iets wat só ’n indruk op hulle maak, dat dit ’n rigtingwyser vir hul toekoms word.

Vir Jaco Drost, besturende direkteur van Jaciana Foods in Centurion, het dit presies so gebeur.

“Alles het begin toe ek op skool aan ’n atletiekbyeenkoms moes deelneem, maar te grieperig was. Ek het ’n ma wat baie passievol is oor natuurlike produkte, en ek onthou hoe sy my met ’n mengsel van wildeals en bloekomblare gedokter het. Dit het sommer uit haar tuin gekom. Dit het gewerk, beter as enigiets wat jy in ’n pakkie kon koop!”

Vir Jaco was dit die begin van ’n leerproses oor die heilsame uitwerking van natuurlike produkte. “Die natuur het soveel om ons te bied, as ons net weet hoe om dit reg aan te wend en reg te kataliseer.”

Jaco het later ’n loopbaan as sakeontwikkelaar en rekenmeester gevolg, maar Jaciana Foods in Pretoria, wat hy saam met sy vrou, Liana, bedryf, het hul hele lewe sedert 2013 oorgeneem. Hierdie onderneming spesialiseer in die produksie en verspreiding van gefermenteerde kos en drankies om ingewandsgesondheid, ’n goeie metabolisme en algemene liggaamswelsyn te bevorder. 

Die benadering wat hulle volg om die samestelling van hul produkte te bepaal is dat mense kos inneem, maar dat die liggaam nie die voedingstowwe daarin genoegsaam absorbeer nie. Dis waarom bloedtoetse soms toon jy het ’n tekort aan elemente soos yster, sink, vitamien B12 en magnesium. Die beginsel is dat jy nie is wat jy eet nie, maar dit wat jy verteer, volgens die Drosts.

“Al eet jy dus op die oog af gesond, bevat jou liggaam nie genoeg goeie bakterieë en organiese sure wat die absorpsie van hierdie elemente aanhelp nie,” sê hulle. “Jacania Foods se gefermenteerde voedsel en drankies ontsluit hierdie elemente in die kos wat jy eet, en stel dit in jou liggaam beskikbaar.”

Jaco sê ons kan aanvaar dat die Westerse dieet nie altyd die gesondste is nie. “Die vraag is of daar iets is wat jy kan byvoeg of bykomend kan inneem om dit gesonder en doeltreffender te maak. En dit is waar ons in die prentjie kom.”

Liana is ewe passievol oor die produkte wat hulle saamstel. “Jaco het ’n baie gespesialiseerde kennis van die natuur en sy bakterieë opgebou. Toe hy die eerste keer ’n glas kombucha by ’n vriend gekry het, was daar ’n glinstering in sy oë.”

Dis tóé dat Jaco geweet het dís nog ’n rigtingwyser vir die toekoms, vanweë sy jare lange passie vir gesondheid wat op ’n natuurlike wyse aangehelp word. 

Volgens Liana het sy aanvanklik nie ’n idee gehad waarvan hy praat nie, “maar hy het verstaan wat die bakterieë kan doen, so ook die potensiaal daarvan om voedingstowwe uit sekere kossoorte te kan onttrek – en om dit dan in die vorm van spesiaal geformuleerde, gefermenteerde kosprodukte aan te bied. Ek het van die begin af hierdie pad saam met hom gestap, eers net in ’n meer ondersteunende rol wat finansies en die ontwerpe van pamflette en etikette betref. Vir my was dit tot dusver ’n baie interessante reis, want ek het ontsettend baie by Jaco geleer. Ek is baie trots op die resepte en kombinasies wat hy saamgestel het.”

Een van Jaciana se suksesvolste produkte is die gewilde Funky Drankie, in ses verskillende geure, gemaak van wildegis, vrugte en kruie; kimchi, ’n voedsame probiotiese groentekombinasie; kombucha, ’n gefermenteerde tee van gis en allerlei bakterieë – ’n kombinasie wat tot so ver terug as 400 v.C. dateer en oorspronklik in China, Mongolië en Siberië ontstaan het; en waterkefir, ’n sodatipe gasdrankie met ’n graanbasis, maar met minder gis as kombucha – dubbelgefermeteer, met allerlei kruiebyvoegings.

Van die voordele van hierdie kombinasies is dat dit suikervry is, en net so lekker smaak soos enige ander gewilde drinkgoed. Aan die gesondheidskant bevat dit antioksidante, bied dit beskerming teen kwale soos asma, hardlywigheid, kanker en gewasse, help met die detoksifikasie van die lewer, wakker die metabolisme aan, verlaag bloedsuikervlakke, bevorder hart-, brein- en velgesondheid, en werk anti-inflammatories. 

“In winkels kry jy nie werklik sodadrankies wat suikervry is of geen onnatuurlike geursels of kleursels bevat nie,” sê Liana. “Fermentasie is ’n ongelooflike manier om voedingstowwe in jou liggaam terug te sit. Om dit te kan doen, maak ons van wildegis gebruik, nie kitsgis nie – ons kan dus smaakvolle suikervrye drankies bied wat hul eie gas produseer.”

Vars kruie, groente en vrugte speel ’n uiters belangrike rol in die Drosts se resepte, so ook die kwaliteit van ál die bestanddele, vertel Jaco.

Terugvoering is baie belangrik en jy moet jou mark se voorkeure verstaan, stem die egpaar saam. “Ons het nou al ’n vaste kliëntebasis en goeie afsetpunte en verspreiders. Een van ons beste verkoopsplekke is die Saterdagoggend-Boeremark in Pretoria,” sê Liana. “Hoorsê en voortgesette gehalte is belangrik vir die sukses van ons onderneming.”

Jaco meen ’n tuisonderneming soos Jaciana Foods “moet groei soos jou kapasiteit dit toelaat. Ons het baie klein begin, en sal altyd bly groei. Ons kan nog so 20% groei, dan sal ons ’n ander perseel, buite die huis, moet soek. Die belangrikste toets vir ons onderneming en sy produkte is dat dit die tydtoets deurstaan het – agt jaar waarin ons bewese betroubare gehalte kon bied.”

Prof. Ferdi Meyer, ’n landbou-ekonoom van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid, sluit by hierdie uitgangspunt aan. “Tendense in die landbou verander deesdae baie vinnig, want die eetgewoontes van die publiek is voortdurend aan die verander. Daar is ook baie nuwe kosneigings, ’n skuif weg van basiese stapelvoedsels na ’n verskeidenheid ander, nuwe produkte. Dit is taamlik gekoppel aan inkomstegroeperinge.”

Ferdi is ook ’n bekende landbouscenariobeplanner wat meen dat die toekoms van landbou in Suid-Afrika goed lyk. “Baie toekomsplanne is al geskryf en ontledings is gedoen. Markte moet oopgemaak word, van nisprodukte tot grootskaalse produkte. Infrastruktuur is nodig, so ook biosekuriteit, grond en ondersteuning op grondvlak. Ek noem dit die ‘Groot Vyf’ waarop ’n vooruitstrewende landboubedryf gebou word. Die landbou-meesterplan word hiervolgens opgestel.

“In Suid-Afrika moet daar nie net meer na buitelandse markte gekyk word nie, maar beslis ook na ons kleiner markte. As jy kyk na wat nisboere alles doen, so ook na ons informele kettings van voedselproduksie, sien jy daar is soveel aan die gang in die bedryf. En dit word nie altyd gemeet nie. Ek sê altyd dat daar in ons land grootliks gekyk word na die formele uitset van landbou, na die groot waardekettings – en dis absoluut noodsaaklik vir werkskepping, vir die handel, vir ons wisselkoers en ons ekonomiese groei. Ons kyk egter dikwels die informele kettings heeltemal mis en besef nie altyd wat die impak daarvan is op die ekonomie nie.”

Dat die Suid-Afrikaanse landbou ’n goeie toekoms het, is gewis. “Oor die afgelope jare het hierdie bedryf baie vinniger in reële terme gegroei as die landsekonomie. Oor die langer termyn is landbou die bedryf wat jou die hoogste opbrengs kan gee.”

  • Volg @Jaciana Foods op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.jacianafoods.co.za, skryf aan info@jacianafoods.co.za of bel 062 362 0612
  • Tree in verbinding met die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid by www.bfap.co.za  deur middel van hul aanlyn-boodskapveld.
  • Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
  • Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za