DINK GRÓÓT

Hulle lê so lekker, want hulle wei so lekker!

Net buite Stanford, op die plaas Landmeterskop, het Terry Georgiev ontdek wat ware vryheid is. 

Want dis hier waar sy en haar man nou al ses jaar lank doen waaroor hulle lank gedroom het – dit is om ’n winsgewende, volhoubare, bevredigende boerdery op die been te kon bring nadat hulle jare lank in die korporatiewe kantoorwêreld vasgevang was. 

Wat hul onderneming nog meer vervullend maak, is dat hulle ’n boerderypraktyk gevestig het wat tegelyk eties bedryf word én ’n reuse-diens aan veral die omliggende gemeenskap lewer.

Eggcellent Eggs, waar die Georgievs met vrylopende hoenders boer, is nie ’n nisboerdery wat oornag ontstaan het nie – soos die meeste suksesvolle entrepreneurskappe het dit geleidelik gegroei en ontwikkel. Navorsing, eksperimentering en die advies van medeboere het gelei tot weldeurdagte besluite.

Terry vertel dat hulle 20 hektaar grond huur, waar hulle nie net ’n suksesvolle eierproduksiemaatskappy op die been gebring het nie, maar terselfdertyd ’n knoffelboerdery op dreef het. “Die plasie is hier bo in die berge, net so 20 kilometer buite Stanford.”

Hulle kop het maar altyd in die rigting van landbou gestaan, vertel sy. Eers het haar eggenoot hom permanent hier kom vestig; sy ’n bietjie later. “Ek het vir ’n groot kleinhandelsmaatskappy gewerk, waar ek die skakel was vir al hul konsessiehouers. Ek het egter die hele tyd geweet waar my hart is. Dan het ek naweke plaas toe gery om ’n tydjie daar deur te bring.”

Sonder enige waarskuwing het haar maatskappy op ’n dag met ’n afleggingsprogram begin. Vir haar was dit, terugskouend, ’n bedekte seën, vertel Terry. “Want my toekomsplanne was eintlik reeds reg. Dit was vir my ’n skop in die regte rigting, want hoe meer ek op die plaas gekom het, hoe meer wóú ek hier wees. Ná my aflegging het ek dadelik plaas toe getrek.”

Dit was uiteraard ’n tyd van onsekerheid, want nou moes Terry haar voete én haar nis vind, saam met haar eggenoot hul toekoms beplan om te besluit waarin hulle wil spesialiseer. “Ons het in daardie stadium 20 henne en 3 hane gehad. Regte plaashoenders. Dít was my eerste leerskool wat hoenders betref. Terselfdertyd het ek ook knoffelplantjies geplant – ek wou ’n knoffelboer word!”

Dit het haar sowat ’n jaar geneem om koers te kry met haar boerdery. “’n Mens kan maar sê ek het eers so ’n jaar lank die hoenderboerdery oorweeg. Ek moes toe besluit of dit kan werk. Dit was ’n tyd waarin ek hoenders leer verstaan het. Ek het heeltyd navorsing oor hulle gedoen. Ons het ook deeglik besef ons sal vir ons ’n vaste inkomste moet skep. Die knoffel was nie voldoende nie.”

Terry het geweet daar is ’n hele paar pluspunte aan hulle kant … hulle het genoeg grond tot hul beskikking gehad, daar was genoeg markgeleenthede, en sy het in haar nuwe omgewing begin tuis voel. “Ek het die verskillende hoenderrasse nagevors, want ek moes weet watter die beste lêhoenders is. Plaashoenders is natuurlik sommer baie lekker hoenders, maar nie geskik vir die gereelde lewering van eiers nie. Hulle teel goed aan, want hulle is gereeld broeis, maar die eierlewering is skraps.”

In Januarie 2018 het Terry toe haar eerste klompie kampioen-lêers aangeskaf – sowat 300 Amberlinks. Van die begin af was dit vir haar ononderhandelbaar in watter omstandighede haar hoenders aangehou sou word. Boonop het navorsing getoon dat die eiers van hoenders wat vry leef van ’n baie hoë gehalte is. “Ons benadering tot die landbou is dat dit natuurlik en volhoubaar moet wees. Ons henne loop dus vry buite op weivelde rond. Hulle kan ’n natuurlike lewe leef en die vars lug en sonskyn geniet. Ons vul hul voeding aan met nie-geneties gemanipuleerde voer om te verseker dat hulle in topkondisie is. Ons henne én die omgewing is vir ons prioriteit.”

Terry is gesteld daarop dat die hoenders op hul plaas in presies die teenoorgestelde toestande moet leef as batteryhoenders en, in sekere gevalle, hoenders wat as “vrylopend” geëtiketteer word, “maar in groepe van 30 000, 40 000 saamleef in ’n skuur. Dis vir my heeltemal onaanvaarbaar”.

Die Georgievs se boerderypraktyk het van die begin af die aandag getrek van die mense van hul omgewing. “Hulle het die gehalte van ons produk hoog aangeslaan, en die aanvraag het groter en groter geword. Ons kon later nie meer bybly nie.”

Soos dit met enige ontwikkelende onderneming gaan, waar die vraag na ’n kwaliteitproduk bly groei, moes die egpaar ’n besluit neem oor Eggcellent se toekoms. “Daar is ongelooflike boere hier om Stanford, die meeste van hulle kleinskaals. Sowat twee jaar gelede het ek die moed gehad om, tydens ’n openbare vergadering van landbouers hier, potensiële eierboere te nader om ons met ons eierproduksie by te staan.”

Tot dusver het ses boerderye ingekoop op die idee, en hulle plase verskaf nou ook weivelde waar Eggcellent se hoenders vry en ontspanne kan leef. “Binne net meer as een jaar het die maatskappy in grootte verdubbel, en ons het nou om en by 6 000 vrylopende, gesonde hoenders op ses plasies wat daagliks eiers lewer.”

’n Belangrike les wat Terry oor die jare geleer het, is dat haastige, halsoorkop besluite in die boerderybedryf nooit werk nie. “Wanneer jy met jou nisonderneming begin, begin klein. Ek het al dikwels gesien dat boere wat te gou te groot wil boer, misluk. In my bedryf het ek al boere gesien wat sommer met 5 000 henne afskop – en dan nog glad nie genoeg kennis het van hoenders óf hulle verstaan nie. In so ’n geval kelder hulle eintlik van die begin af hul produksie, want hulle geld raak vinnig op omdat hulle die hoenders moet aanhou voer terwyl hul produksie nog nie watwonders is nie. 

“Die ander groot probleem is dat só baie henne duisende eiers lê, en as jy nog nie weet wat jou afsetpunte is nie, het jy taamlike probleme. Net 2 000 henne alleen lewer al hier by die 1 800, 1 900 eiers per dag. En as jy nie weet wat om met daardie eiers te doen nie, met ander woorde nie weet hoe om dit te bemark nie, het jy groot probleme.”

Kom tyd, kom raad én wysheid, is Terry se boerderybenadering. “Groei stadig, en jy sal jou onderneming kan hanteer. Jy sal algaande leer aanpas. Tyd leer jou wat presies op jou plaas sal werk.”

Die Georgievs lewer eiers in verskillende verpakkings – vir kleinhandel in verpakkings van 6 en 18, en vir restaurante en die groter gasvryheidsbedryf in houers van 30. “Ons lewer persoonlik af om te verseker dat ons produk vars en van die hoogste gehalte is.”

  • Volg @Georgiev Farm – Home of Eggcellent Eggs op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.eggcellenteggs.co.za en maak gebruik van die WhatsApp-boodskap-opsie. Of bel Terry by 0732910776.
  • Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
  • Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za