DINK GRÓÓT

Honeybee Heroes

Die Kaapse heuningby: beskermer van ons omgewing

Honeybee Heroes van Stanford in die Kaap is op drie beginsels gebou: die bewaring van die heuningby, die verbetering in lewensgehalte van minderbevoorregte gemeenskappe en die opvoeding van verbruikers rondom gesonde kos en ekovriendelike verbouingsprosesse.

Dat die heuningby ’n uiters belangrike rol in die bewaring van die omgewing speel, is ’n verhaal wat die eienaars, Chris en Charné Oosthuizen, graag aan die wêreld wil oordra. Hulle vertel dat hierdie besonderse diertjie, in sy rol as bestuiwer, ’n wye reeks voordele aan die mens bied en ’n insek is wat ’n lewensbelangrike bydrae lewer tot die instandhouding van verskeie biodiversiteits- en ekosisteme. Uitwissing staar die heuningby in die gesig, het Chris besef – en dit is iets wat hy met alle mag wou keer. Honeybee Heroes as byebewaringsorganisie was die antwoord.

Sy benadering is dat die mens sy deelname aan hierdie natuurprosesse nooit moet onderskat nie. Dit kan jy doen deur die leefstyl van heuningbye te onderhou deur middel van die oordeelkundige plasing van korwe.

Charné, wat Chris ondersteun in sy strewe daarna om die unieke Kaapse heuningby te bewaar, vertel entoesiasties van hul organisasie se vlagskipprogram, Adopt-a-Hive, waardeur byekorwe deur middel van etiese boerderypraktyke bestuur word. “Honeybee Heroes het as program in die Covid-19-inperkingstydperk ontstaan. Chris, die stigter van die program, het in dié tyd na Stanford in die Overberg gekom en met plaaslike byeboere begin gesels oor die bedreiging van die heuningby weens swak landboupraktyke, habitatverlies, plaagdoders en klimaatsverandering. Hy het dadelik besef dat hy kan help om hierdie kosbare lid van die ekosisteem te help bewaar.”

Die kommersiële volhoubaarheid van byeboerdery is nog ’n onderwerp wat onder die loep gekom het. “Chris het navorsing hieroor begin doen en besluit om 50 byekorwe aan te skaf.”

Nie lank nadat dié korwe in die fynbosomgewing staangemaak is nie, het die Oosthuizens skielik met taamlik baie heuning gesit. “Ons het glad nie geweet wat om daarmee te doen nie!”

“Hoe gemaak met hierdie kosbare gawe van die natuur?” was die vraag wat hulle onmiddellik moes beantwoord. En so, onder druk van ’n oormaat heuning, het die volgende skeppende idee ontstaan, en dit is om elke byekorf in helder, vrolike kleure te verf en die name van hul vriende en familie daarop aan te bring. Dié verpersoonlikte byekorwe was nét die regte stap om buurman en bekende betrokke te kry en hulle ook sommer oor te haal om die heuning van die korf waarop elkeen se naam is, aan te koop om die projek in stand te help hou. 

Niemand het egter gevoel hulle word hierin gedwing nie, stel Charné dit duidelik. “Ons vriende en familie het so baie van die konsep gehou, dat ons besef het ons kan dit ’n stappie verder neem … na die res van die gemeenskap.”

Ook dít was ’n skeppende besluit, want die omgewing het dadelik ingekoop in die idee. “Dis toe dat ons met ons Adopt-a-Hive-vlagskipinisiatief afgeskop het. Die eerste belangstelling het gekom uit eie geledere, naamlik mede-Stanford-inwoners. Ons kon nie glo watter wonderlike ondersteuning ons ontvang het nie!”

Vanuit elke vlak van die samelewing het groot belangstelling gekom … individue wat die byekorwe aangeneem het vir hulself, maar ook in die naam van geliefdes wat reeds gesterf het, vir vriende en ook familie. Die groei was so fenomenaal dat maatskappye daarvan bewus geraak het – Suid-Afrikaanse korporatiewe ondernemings en organisasies soos We Buy Cars, FlySafair en Takealot.

Dit het egter nie net by deelname en ondersteuning gebly nie, “want daar het ’n benadering van sorg en omgee ontstaan, die behoefte om méér oor byeboerdery te wete te kom. Adopt-a-Hive het dit vir hierdie belangstellendes moontlik gemaak om ’n betekenisvolle bydrae tot die samelewing te lewer. Ons het besef dat, te midde van die bestaansbedreiging waaraan heuningbye deesdae onderwerp is, is hierdie projek ’n effektiewe metode tot kennisoordrag en opvoeding oor ’n baie belangrike skakel in die omgewingsketting.”

“Waarom is bye dan so belangrik?” is nog ’n vraag wat Chris en Charné dikwels moet beantwoord. “Ons moet hulle bewaar omdat ons die natuur in stand moet hou vir toekomstige generasies. Dís waarom ons besluit het om ons projek ’n stap verder te neem. Maar ons wou dit nie net ten bate van bye uitbrei nie, maar ook ter wille van ander mense. Dis waar ons vandag staan – om passievol mense se lewens deur middel van byeboerdery te verbeter.”

En dit, vertel Charné, is hoe die Women in Beekeeping-projek gebore is. 

Hierdie nuwe inisiatief van Honeybee Heroes is opvoedkundig van aard en verbeter die lewens van vroue uit laer-inkomste-groepe of uit minderbevoorregte gebiede deur hulle te help om volwaardige byeboere te word. Veral vir vroue op die platteland, waar werkgeleenthede nie altyd volop is nie, is dit ’n ongelooflike stap vorentoe om hul lewensgehalte te verbeter. “Dit beteken dat daar só ’n hele nuwe generasie byeboere ontstaan, veral vroue-byeboere.”

Een van die belangrikste aspekte van hierdie leerproses is kennis oor heuning, een van die natuur se wonderprodukte. “Dit is om te leer dat nie alle heuning dieselfde is nie. Nie alle heuning is ‘rou’ heuning nie. Nie alle heuning is plaaslike heuning nie. Nie alle heuning wat jy op winkelrakke sien, is suiwer heuning nie.”

Hierdie vermoë om die ware Jakob van namaaksels te onderskei is uiters belangrik in die bye- en heuningbedryf.  

“Heuningliefhebbers leer dat rou of suiwer heuning die natuur se superkos is … dit het ’n magdom vitamiene en minerale, is antibakteries en versterk jou immuunstelsel. Die gesondheidsvoordele is talloos,” vertel Charné.

Die heuningmaatskappy Honey House, ook van Stanford, tree as ’t ware as “ambassadeur” van Honeybee Heroes op, vertel die eienaar, Thomas Frick. “Elke potjie heuning wat ons uitstuur, is gekoppel aan Honeybee Heroes, wat op sy beurt dan goeie blootstelling kry en nóg meer mense na die projek lok om hulle inisiatiewe te ondersteun. Suid-Afrikaanse heuning is ’n baie spesiale produk. Ons het een van die rykste blommeryke in die wêreld, meer spesifiek fynbos. En fynbos is eg Suid-Afrikaans, veral eie aan die Wes-Kaap.”

Deur middel van die byeprojek en individue en maatskappye se betrokkenheid word die wêreld terselfdertyd bewus van die Kaapse fynbos, “iets waarop ons as Suid-Afrikaners baie trots kan wees. Om aan hierdie bates van ons internasionale blootstelling te verleen, sal ’n noemenswaardige deurbraak wees.

“Honey House en Honeybee Heroes het ’n program ontwikkel wat ons ’n ‘byeboerdery-ervaring’ noem, waar ons mense uitnooi om teen ’n billike koste meer te kom leer oor dié mark, oor bye en oor heuning. Dit bestaan uit ’n omvattende teoretiese afdeling, waarna ons uitgaan en die bye ontmoet en mense leer om met die bye te werk. Deur middel van hierdie inisiatief leer ons mense die voordeel van 100% rou heuning. Ons moedig hulle aan om nie net óns heuning te koop nie, maar ook heuning van die plaaslike byeboere.”

Dit lewer natuurlik ook ’n geweldige ekonomiese bydrae tot die hele omgewing, vertel Thomas.

Volgens Tamara Frick is volhoubare byeboerdery uiters belangrik vir die omgewing. “By Honey House maak ons seker dat ons bye gesond is. Etiese boerderypraktyke is ononderhandelbaar, want ons wil seker maak dat die bye nie net oorleef nie, maar floreer. Dan weet ons bestuiwing kan plaasvind en ook dat dit ander spesies binne ons ekosisteem gesond en sterk hou. Die Kaapse heuningby as bestuiwer speel ’n massiewe rol in die natuur wat voedselsekerheid in Suid-Afrika betref. Meer as 50 tipes oesgewasse in ons land maak gebruik van bestuiwing deur middel van die dienste wat ons bye bied.”

Dis waar huis- of woonstelbewoners hul eie bydrae kan lewer, sê sy. “Baie van ons woon in beboude gebiede, selfs in woonstelle … al wat jy moet doen, is om ’n plantpot met basielkruid of laventel op jou vensterbank te sit om bytjies te lok. Hulle neem daardie stuifmeel terug na hul korwe. Dit klink dalk vir jou na iets kleins om te doen, maar dit is uiters waardevol.”

Volgens Tamara is nog ’n positiewe bydrae wat ons as doodgewone mense kan maak, om nie plaag- of insekdoders in die tuin te gebruik nie, en om te sorg dat daar altyd ’n skoon waterbron in jou tuin is. “Sommer ’n voëlbadjie – maar sit iets binne-in die water sodat die bye kan uitklim as hulle dalk inval.”

 Voorts moet groter boere altyd eers met die byeboere in hul omgewing gesels voordat hulle hul oesgewasse bespuit, sê sy. “Dit gee byeboere die geleentheid om hul korwe tydelik te verskuif sodat die bye nie aan plaag- of insekdoders blootgestel word nie.”

Die heel belangrikste rol wat elke individu kan speel, is om nooit op te hou met bewusmaking oor bye nie. “Praat daaroor, veral oor die belangrikheid van bestuiwers. Leer kinders van kleins af meer oor bye, dat hulle ’n lewensbelangrike deel van die wêreld en die voedselketting is. Dat ons hulle baie nodig het. Dat ons hulle met respek moet behandel.”

  • Volg @Honeybee Heroes op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.honeybeeheroes.com; besoek Honeybee Heroes op Willowdale Farm Saterdae, 09:00 – 14:00; of e-pos hello@honeybeeheroes.com
  • Volg @Honey House op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek die webtuiste www.honeyhouse.org.za om met hulle in verbinding te tree.
  • Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
  • Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za