DINK GRÓÓT

Hommeltuie plaas presisieboerdery op meer van ons boere se vingerpunte

Boere regoor die wêreld wend hulle weens stygende kostes toenemend tot presisielandbou om doeltreffender te boer. Presisieboerdery, wat hoëtegnologie- en ontledingsinstrumente vereis, was om dié rede voorheen egter net beskore vir diegene wat ’n omvattende IT-infrastruktuur kon bekostig om dit te rugsteun.

Die opkoms van hommeltuie, of drones, is besig om ons landboubedryf onherroeplik te verander en maak presisieboerdery ook vir kleiner boere baie toegankliker. Nisboere het onlangs met twee gesertifiseerde hommeltuigkundiges en -verskaffers, Phil Smerkovitz en Jacques Coetzee van GoUAV, hieroor gesels.

Hommeltuie kan ’n omvattende reeks landboufunksies vervul wat jou onder meer in staat stel om die veranderlikes in jou gewasse deurlopend waar te neem en te meet, verduidelik hulle. Boonop kan sekere aspekte van die hommeltuigtegnologie jou selfs in staat stel om boerderykwessies betyds te identifiseer, tot soveel as twee weke voordat sigbare tekens daarvan begin opduik.

Dit maak dit natuurlik van onskatbare waarde om vroegtydig op te tree, ingeligte besluite te neem en buitensporige kostes te voorkom wanneer jy jou tweede ronde insette moet lewer om hierdie kwessies aan te spreek.

Sommige van die hommeltuigfunksies waarmee boere van oraloor reeds noemenswaardige resultate bereik, het betrekking op die saaiproses, gewasbespuiting en veldkartering. Ten opsigte van die saaiproses kan hommeltuie sade stoor en in die grond skiet, en dít versprei die sade baie vinniger en ewerediger as wanneer jy dit met die hand plant. Jy kan dus ook meer saad per vierkante meter aanplant.

Wat gewasbespuiting betref, stel hommeltuie jou in staat om jou kunsmis, onkruiddoders, plaagdoders, swamdoders en droogmiddels baie noukeuriger én kostedoeltreffender toe te dien. Laastens, met die gebruik van hommeltuie in veldkartering kan jy jou gebiede baie effektiewer karteer en nuwe insigte inwin, wat heelwat van die raaiwerk uit die groeiproses neem.

Terwyl hommeltuie baie meer voordele in presisielandbou bied as wat ons hier kan bespreek, is die algehele konsensus dat dit bedryfskostes aansienlik verminder en die kwaliteit en groeikoers van jou gewasse verbeter, wat alles uiteindelik tot groter wins in jou sak lei.

Waar begin ’n mens egter om hommeltuie met jou landboupraktyke te integreer? Jacques sê ons Wet op Burgerlugvaart stel dit duidelik dat enigiemand wat hommeltuie vir handels- of bedryfsdoeleindes wil aanwend, oor ’n lisensie moet beskik om seker te maak dat daar aan al die vereistes en veiligheidsmaatreëls voldoen word.

Om ’n lisensie te bekom sal jy opleiding vir jou afstandsvlieënierslisensie moet ontvang by ’n akademie wat deur die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid geakkrediteer is. Afhangende van of jy jou hommeltuig slegs bedags of ook snags (buite jou siglyn) wil vlieg, duur die teoretiese en praktiese opleiding so tussen drie tot vier en ’n half weke.

Daarna sal jy ’n eksamen moet slaag en jou hommeltuig moet registreer. Sodra jy jou lisensie bekom het, beveel die ouens van GoUAV aan dat jy eers met kundiges konsulteer om seker te maak jy koop die regte hommeltuig vir die regte funksie aan. 

GoUAV kan sommige van hul hommeltuie aanpas om veeldoelige funksies te vervul. Boonop bied hulle twee dekades se praktiese ervaring en opleiding, naverkoop-ondersteuning en deurlopende instandhoudingsopsies om te verseker dat jy die meeste uit jou hommeltuie haal. 

Besoek gerus www.gouav.co.za vir meer inligting of om jou spesifieke boerderykwessies met hulle te bespreek. Volg @Nisboere op Facebook om ons te vertel watter verskil hommeltuie in jou boerdery gemaak het.