DINK GRÓÓT

Hoe kry jy jou appels en pere van die boord tot by die mark?

Die relatiewe stabiliteit van die Suid-Afrikaanse appel- en peermark vanweë ’n konserwatiewe maar bestendige groei bied ’n gulde geleentheid vir nuwe toetreders. Volgens landboukenners is voldoende kennis een van die grootste knelpunte vir sulke voornemende boere.

Verbruikers in verskeie wêrelddele verkies byvoorbeeld nie noodwendig dieselfde kultivars nie. Daar is ook heelwat spesifieke plaaslike en internasionale kwaliteitstandaarde waaraan jou vrugte moet voldoen voordat dit op die verskillende markte verkoop of op winkels se rakke geplaas kan word.

Tru-Cape is juis in 2001 deur Ceres Fruit Growers en Two-A-Day gestig om produsente met dié uitdaging by te staan. Vandag is Tru-Cape die grootste uitvoerder van appels en pere in Suid-Afrika. In 2020 het hul uitvoere byvoorbeeld ’n rekord-dubbelsyfergroei behaal en teen 2021 het hulle reeds bykans 18 miljoen kartonne vrugte uitgevoer.

Nisboere het onlangs by hul hoofkantoor in Somerset-Wes gaan inloer om meer oor die onderneming te wete te kom. Die taak van hul hoofkantoorspan is nie net om produsente te adviseer oor markneigings en -voorkeure nie, maar ook om hulle deurlopend met wetenskaplike en tegniese advies by te staan om hul boerderye te laat floreer.

Calla du Toit van Tru-Cape verduidelik dat gehalte ongetwyfeld hul hoofprioriteit is. Vir dié rede maak hulle van hoogs gespesialiseerde kwaliteitsisteme gebruik, van die boord tot die oes – tot die na-oes en verkoelingsproses.

Die heel belangrikste toets vind natuurlik plaas op die dag rég voor ’n karton vrugte die perseel verlaat, want dis dán die laaste geleentheid om 100% seker te maak dat dit op standaard is voordat dit die verbruiker bereik. Tru-Cape voer ook toetse uit om die rypheid van die vrugte te bepaal. Laasgenoemde is uiters belangrik omdat die vrugte oor afstande verskeep word en ’n beperkte raklewe het.

Die produsent moet dus presies weet wanneer om te oes sodat die vrugte nie oorryp is nie, maar tόg ryp genoeg is teen die tyd dat hulle die verbruiker op die supermarkrak bereik. Daar is verskeie rypheidstoetse wat uitgevoer kan word vir hierdie doeleindes, waarvan een van die bekendstes die styseltoets is. 

Volgens Calla bly die heel beste toets egter die “proetoets” – dis waarom hulle die kwaliteitbeheerspan aanmoedig om self van die vrugte te eet. Hy vertel verder dat hierdie hele proses, van die vrug in die boord tot op die winkelrak, uiters lank is – dit kan tot 10 jaar duur. 

Dis waarskynlik ook waarom die meeste boerderye in hierdie mark familieboerderye is waar die een generasie by die vorige oorneem, en so aan. Dit maak die deur natuurlik wawyd oop vir jong, voornemende of opkomende boere om vir hulself ’n toekoms in hierdie landbousektor te skep.

Calla sê ’n mens hoef egter nie net ’n produsent te wees om munt te slaan uit al dié geleenthede nie, aangesien daar ’n hele landbouwaardeketting is, van die bemarkings- en kommersiële aspek tot verskeping of logistiek, of selfs data-ontleding om produksie te verbeter. Hoe dit ook al sy, sou jy dit oorweeg om ’n bestaan uit landbou te maak, sal jy vir seker nie verveeld wees nie. 

Indien jy ’n opkomende appel- of peerboer in Suid-Afrika is wat bystand met jou verspreiding nodig het, klik gerus hier om met Tru-Cape te gesels. Indien jy reeds op skeppende maniere begin het om van die ander geleenthede in die landbousektor te ontgin, volg @Nisboere op Facebook en deel jou storie met ons.