Die Klein-Karoo se voorste volstruisplaas: ’n Unieke leer-en-kuier-ervaring
Maak vanjaar die Klein-Karoo jou vakansiebestemming – en skop sommer af by een van sy bekendste kuierplekke, die Highgate Ostrich Show Farm buite Oudtshoorn.
Behalwe die omgewing se uitsonderlike halfwoestyn-sonsondergange, die indrukwekkende Swartbergreeks en die asemrowende Kangogrotte, is dit nét die plek om eerstehands te ervaar hoedat ’n ondernemende familie dit kon regkry om ’n bedrywige boerdery oor dekades suksesvol met omvattende toerismeaantreklikhede te kombineer.
Highgate het die volstruisbedryf in Suid-Afrika in 1938 as ’t ware help inlui en speel steeds ’n reuse-rol in die sukses daarvan; dit is om ons die toonaangewendste land ter wêreld op dié gebied te maak. Terwyl ons sowat 75% van die goedere in die internasionale multimiljard-volstruismark lewer, bied die Oudtshoorn-streek ongeveer 90% van Suid-Afrika se volstruisprodukte, wat vir die plaaslike ekonomie groot voordele inhou.
Volstruisboerdery in Suid Afrika is hier rondom die vyftiger- en sestigerjare van die 1800’s in die Wes-Kaap begin. Die eerste pluime van wilde volstruise is in 1821 vanaf die destydse Kaapkolonie uitgevoer. Voorheen is die voëls bloot gejag om hul pluime te oes. In 1922 is volstruise as beskermde voëls verklaar om hulle van uitwissing te red.
Oudtshoorn staan internasionaal bekend as die wêreld se volstruishoofstad. ’n Mens kan nie help om te wonder nie: Waarom juis Oudtshoorn? Wat maak dié groot Karoo-dorp en tuiste van die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) dan so ideaal vir hierdie bedryf?
In die eerste plek is die omgewing en sy klimaat ideaal vir volstruisboerdery. Die grondtipe is boonop perfek vir die aanplant van lusern, die vernaamste voer vir die groot voëls.
Deesdae is Highgate, saam met ander volstruisplase in die omgewing, een van die verpligte bestemmings vir veral internasionale besoekers, want hier kan hulle – met die hulp van bedrewe, professionele toergidse – die diere van nader leer ken.
Billy Engelbrecht van Highgate vertel dat volstruise mense se nuuskierigheid prikkel vanweë hul uitsonderlike voorkoms en persoonlikheid, maar vanuit ’n boerdery-oogpunt is die vleis, die vere, die vel en die eierdoppe volstruisboere se topverdieners.
Nie dat hierdie produkte net kommersieel bemark word nie … in Highgate se The Pepper Tree-restaurant is volstruisfilet die gewildste item op die spyskaart, en bied die kuriositeitswinkel op die plaas jou snuisterye en duursame geskenke soos volstruisleerhandsakke en -beursies, verestoffers en die mooiste découpage-eierdopkunswerke.
Die omvang van die bedryf in Suid-Afrika word as indrukwekkend beskou omdat alles op grondige kennis en ervaring berus. “Suid-Afrika beheer nog die wêreldmark omdat ons veel langer met volstruise boer as enige ander land, en dus oor ’n baie langer tydperk baie meer kundigheid opgebou het. Suid-Afrikaanse volstruisboere weet hoe om optimaal te boer,” sê Billy.
Op Highgate is daar daagliks ’n groot bedrywigheid. Die eiers word versamel en in broeikaste uitgebroei. Die volstruise hou dus aan met lê; hulle sou andersins ophou produseer wanneer hul neste te vol word. Van Mei of Junie tot Desember of Januarie is dit die paarseisoen, want produksie word geprikkel deur die ommeswaai na langer dag-ure. Uitgesoekte teeldiere produseer al van tweejarige ouderdom af en bereik ’n optimale produksie vanaf driejarige ouderdom.
Volstruisboere erken dis nie ’n maklike bedryf nie – voortgesette navorsing, soos op die Oudtshoorn Navorsingsplaas, is noodsaaklik
Billy vertel dat Highgate as boerdery volstruise verskaf aan die plaaslike slagpale, wat die invoer- en uitvoermark beheer. “Dis egter méér as net ’n uitvoer- en invoermark,” sê hy. “Hulle vind vir die boere afsetpunte vir die vleis, die leer en die vere. Volstruisfilet is baie gewild in Europa. Die Europese Unie is dus een van ons bedryf se grootste handelsvennote.”
As skouplaas fokus Highgate op ’n opvoedkundige program vir toeriste vanweë die unieke eienskappe van hierdie besonderse diere. “Ons doen vanselfsprekend ons eie bemarking, maar die volstruisskouplaaskonsep is baie gewild in die internasionale mark. Buitelandse toeriste assosieer volstruise met Suid-Afrika, spesifiek met die Klein-Karoo – eintlik net soos die pandabeer met China en die kangaroe met Australië geassosieer word.”
Die volstruis (Struthio camelus) is die grootste lewende voël en word deur dierkundiges saam met die emu, die cassowarie, kiwi en rhea gegroepeer onder die naam Ratite of “vluglose voëls”. Sover bekend is Afrika, Assirië en Arabië die natuurlike habitat van die volstruis, alhoewel dit tans slegs in Afrika in die natuur voortbestaan.
Daar is vier subspesies, naamlik die Noord-Afrika-, die Keniaanse Rooi-, die Somali Blou- en die Zimbabwe Blou-bloedlyn. Die Suid-Afrikaanse Swart-volstruis (“SA Black”), die bekende volstruis waarmee daar hoofsaaklik in Suid-Afrika geboer word, is ’n kruising wat waarskynlik ontwikkel is om beter veerkwaliteit te bekom.
Billy vertel vir die buitelanders én plaaslike toeriste is ’n besoek aan ’n werkende volstruisplaas soos Highgate hoog op hul prioriteitslys. “Vir die plaaslike mark bly dit eweneens ’n unieke ervaring om honderde van hierdie eienaardige, groot voëls in hul kampe en by hul broeiplek van nader te leer ken. Ons gidse is almal Engels- en Afrikaanssprekend, met Duits en Frans as bykomende tale. Die begeleide toer duur net meer as ’n uur. Jy kry kans om die kuikens te sien, die volstruise met die hand te voer, foto’s te neem, en die broeikamer en die teelkamp te besoek. Veral die Instagram-generasie is mal hieroor!”
Verskillende toerpakkette is beskikbaar waarin ’n tradisionele volstruistoer met ’n restaurant-ete en egte Karoo-sonsondergang gekombineer kan word, afgerond deur die bediening van plaaslike wyne en produkte soos olywe wat eie is aan die streek. Elke toer bestaan uit twee afdelings – die hoofwerf, waar die gidse jou van die verskillende soorte volstruisvere, die broeikaste en die werking daarvan vertel, asook die plaas self waar jy meer te wete kom van die anatomie van volstruise en die broeipare se neste kan besoek.
Volgens Billy is so ’n besoek aan ’n werkende volstruisplaas ’n leersame onthou-ervaring.
Vir jong entrepreneur-boere het hy waardevolle advies: “Gee aanvanklik klein treetjies. Begin stadig en groei organies. Hou aan met dit wat jy doen om jou passie uit te leef, en moenie dat klein hekkies of heuweltjies jou keer nie. Druk deur en gaan voort, fokus op jou visie sodat jy jou doelwitte kan bereik. Volhard en moenie te gou te groot wil boer nie, want dis gewoonlik wanneer dinge deurmekaar begin raak.”
- Bykomende inligting: https://www.elsenburg.com/wp-content/uploads/2022/02/volstruis2ndedition.pdf
Vir meer inligting oor die bedryf, nader die Suid-Afrikaanse Volstruissakekamer by info@saobc.co.za of besoek die webtuiste by www.ostrichsa.co.za; bel die Oudtshoorn Navorsingsplaas by 044 203 9404 of besoek hul webtuiste by https://www.elsenburg.com/oudtshoorn-research-farm/
- Volg Highgate Ostrich Show Farm op sosialemedia, besoek https://highgate.co.za of skakel 044 272 7115 vir meer inligting. Adres: R328, Oudtshoorn.
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za