Suid-Afrika is werklik ryk aan veelsydige plase en nisboere; party meer alledaags as ander. Een nisboerdery wat ‘n mens nie elke dag teëkom nie, is alpakas. Hierdie besonderse diere is nie net bekend vir hul sagte wol nie, maar ook hul rustige geaardheid. Dit is juis hierdie eienskappe wat Christopher en Alison Notley geïnspireer het om hul eie alpaka-boerdery te begin.
Aan die einde van 2002 het die egpaar Notley vanaf Zimbabwe na Suid-Afrika geëmigreer. Om te boer was nie noodwendig hul oorspronklike droom nie. Inteendeel, hulle was bloot op soek na ‘n stukkie grond vir hul twee perde. Hulle het hulle op ‘n plaas, Helderstroom, in die pragtige Villiersdorp-omgewing gevestig toe Alison heel toevallig op ‘n artikel oor alpakas afgekom het. Binne ‘n paar maande was hul eerste alpakas reeds onderweg vanaf Chili. Sedertdien het Helderstroom gegroei tot een van Suid-Afrika se voorste alpakaplase, waar luukse alpakaprodukte vervaardig word en waardevolle kennis oor alpakaboerdery opgebou is.
Hoewel dit ‘n groot prestasie is om as een van die eerste volwaardige alpaka-boere in Suid-Afrika beskou te word, bring dit ook unieke uitdagings mee. Gespesialiseerde toerusting en alledaagse benodigdhede is nie altyd plaaslik beskikbaar nie, en daarom moet Christopher en Alison dikwels plan maak. Een van die grootste uitdagings bly die verwerking van die alpakawol. Omdat die vesel besonder fyn is, bestaan daar nie die nodige toerusting in Suid-Afrika om dit te verwerk nie. Gevolglik word die wol steeds met die hand skoongemaak en gesorteer.
Al is die proses baie arbeidsintensief, is die eindresultaat die moeite werd: pragtige, unieke produkte wat dikwels volgens die kliënt se spesifieke vereistes vervaardig word. Alison verkoop hierdie luukse alpakaprodukte by plaaslike markte, sowel as aanlyn. Dit verg tyd en toewyding, maar met die hulp van hul ervare span kan hulle produkte van uitstaande gehalte lewer.
Een van die maniere waarop Christopher en Alison die gehalte van hul kudde voortdurend verbeter, is deur noukeurige selektiewe teling. Gedurende die teelseisoen word elke alpaka se wol geëvalueer, waarna die beste teeldiere sorgvuldig gepaar word om die gewenste eienskappe vir toekomstige geslagte te bevorder.
Dit is juis hierdie toewyding aan gehalte en aandag aan detail wat Helderstroom Alpacas so ‘n besondere nisboerdery maak. As jy dus op soek is na ‘n luukse kledingstuk wat jou vir baie jare sal hou, besoek gerus Helderstroom Alpacas en ontdek die uitsonderlike gehalte van egte alpakawol.
Vir meer inligting, volg @helderstroomalpacas op sosialemedia, besoek https://www.helderstroomalpacas.co.za/ skryf aan alpacas@helderstroom.co.za of bel 082 662 9670.
- Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.