DINK GRÓÓT

Harde werkers wat jou sak pas

Die voertuig waarmee Laeveld Agrochem se Corné Liebenberg en dr. Phillip Venter vanjaar Suid-Afrika deurkruis om nisboere te ontmoet, het al die eienskappe wat nodig is om teerpaaie, grondpaaie, agterpaaie, plaaspaaie, ruwe paaie en selfs bergpaaie gerieflik én stylvol kaf te draf.

Die JAC T9-dubbelkajuitbakkie bring hulle in veiligheid en luuksheid by al hul bestemmings, van die noorde van die land tot in KwaZulu-Natal, van die Oos-Kaap tot aan die Weskus, met omtrent elke denkbare roete tussen-in. Dit is moontlik omdat JAC Motors Suider-Afrika vanjaar saam met Laeveld Agrochem medetitelborg is van die TV-reeks Nisboere.

Dié voertuig, vertel Karl-Heinz Göbel, uitvoerende hoof van JAC Suider-Afrika, is een van die vervaardiger se gewilde T-reeks-bakkies, saam met die T6 en T8. “Die T9 is die luukse-een met die wow-faktor. Jy moet hom bestuur om werklik te verstaan op watter vlak van vervaardiging die JAC-voertuigprodukte is.” Dié vlagskip van die maatskappy is beskikbaar in vier modelle en spog met ʼn viersilinder-2 l-turbodieselenjin en ʼn outomatiese agtspoedratkas.

Corné en Phillip is dit eens: Om duisende kilometer in Suid-Afrika in die T9 af te lê, is allesbehalwe net ʼn manier om van A tot B te kom; elke kilometer van die langpad is ʼn plesier, ritte wat in vertroue afgelê word in die wete dat daar landwyd ʼn tak is wat steun kan verleen, indien nodig. Om die waarheid te sê, daar is meer as 70 handelaars in die hele Suider-Afrika, wat insluit Lesotho, Namibië, Botswana, Malawi, Zimbabwe, Zambië en Mosambiek. 

JAC Motors Suider-Afrika, verteenwoordiger van die Chinese maatskappy Anhui Jianghuai Automobile Group Corp, Ltd., het sy status as gesogte plaaslike voertuighandelaar nie oornag verwerf nie. Dit het harde werk en deursettingsvermoë geverg om erkenning te kry in die mededingende Suid-Afrikaanse voertuigmark. Karl-Heinz sê self: “Soos nisboere is ons ook ʼn nisproduk. Toe ons in 2017 in Suid-Afrika gevestig is, het niemand ons ʼn kans gegee nie.”

JAC is ʼn familiesaak, “en ons is in 2017 genader om JAC China hier te verteenwoordig. Ons was van die eerste voertuigmaatskappye wat Chinese voertuie na die land gebring het. Nadat ons hul produkte gesien het, het ons besef hier is ʼn mark daarvoor omdat Chinese produkte net al hoe beter en beter word. Toe hulle sê hulle het net een model vir ons mark, het ons besef dit gaan moeilik wees, maar terselfdertyd raakgesien dat dit ʼn groeiende mark is. Boonop is JAC die tweede grootste vragmotorvervaardiger in China. Die kwaliteit het ons beïndruk en ons het ʼn gulde geleentheid aangegryp – ons kan nou net ons beste doen.”

Deesdae spog JAC Suider-Afrika met ʼn uitgebreide reeks vir elke denkbare behoefte en vereiste. Daar is die X200-enkelkajuit- en dubbelkajuit- ligte vragmotor wat Karl-Heinz as die maatskappy se gewillige “werkesels” beskryf. Hulle het ʼn drakapasiteit van 1,5 ton, het valkante vir vinnige en maklike op- en aflaaiwerk, en kan maklik in landerye inbeweeg omdat die onderstel nie laag op die pad is nie.

Chinese produkte is aanvanklik met ʼn effense agterdog bejeën, deels omdat van dié land se handelsmerke hier rondom 2007 weens ekonomiese redes uit Suid-Afrika onttrek is. GWB, Haval en Cherry het egter vasgebyt, “en dit het gehelp om aan die publiek te wys dat Chinese produkte hier is om te bly”.

Die volgende JAC’s wat in Suid-Afrika aangesluit het, is die T-reeks – die T6- en T8-dubbelkajuitbakkie. “Ons het met die T6 begin, want die prys is goed en dit werk uitstekend vir alledaagse gebruik, veral vir mense soos plaasbestuurders en plaaswerkers. Volgende was die T8, ʼn luukser dubbelkajuitmodel, en onlangs het die T9 in die mark gekom.”

Karl-Heinz sê die T9 is die ideale voertuig vir sorgvrye vakansies saam met jou gesin, vanweë die luuksheid en die gerusstelling van ʼn uitstekende diensplan en waarborg, ook in die wete dat jy nie ver vir ʼn JAC-handelaar hoef te soek nie. En volgende jaar gaan die T9, wat pas bekend gestel is, ook beskikbaar wees as ʼn sportiewe sewesitplek-nutsvoertuig.

Voorts bied JAC ʼn klein en beweeglike drietonvragmotor wat ideaal is vir landerye, asook ʼn sestonner en ʼn negetonner, “en die kersie op die koek was toe ons twee jaar gelede ons eerste elektriese vragmotor in Suid-Afrika bekend gestel het. Sover ek weet, is ons die eerste vervaardiger hiervan, maar beslis die enigste een wat ʼn vierton- elektriese vragmotor het.”

So ʼn voertuig werk goed vir boere, “want boere het toegang tot baie son en dus sonkrag. Bedags ry hulle sorgvry en kosteloos rond, vanaand prop hulle hom in en môreoggend is hy weer reg vir werk”. 

JAC Suider-Afrika het ʼn bepaalde teikenmark geïdentifiseer, sê hy. “Ons kyk na mense wat voel hulle soek ook weelde, dieselfde toerusting en spesifikasies as ander, duurder modelle, voertuie wat nuwerwets en innoverend is en lyk. Voertuie wat lig is op brandstof, wat ook as dieselmodelle beskikbaar is, wat ʼn ordentlike waarborg en diensplan het en aan ʼn wye verskeidenheid behoeftes voldoen. “Daar is min mense wat in ʼn bepaalde prysklas voertuie kan bekostig met al hierdie eienskappe.”

Die bonus is dat al die JAC-voertuie aantreklik is, in nuwerwetse kleure, met van die modernste toerusting en alle ekstras wat ander soortgelykes het, maar in ʼn bekostigbare prysklas. “Dit alles toon dat die Chinese nie gaan verdwyn nie.”

JAC Suider-Afrika kan nou ook nog opwindende nuus vir 2025 aankondig: Dit is die bekendstelling van die eerste JAC-passasiersvoertuig in Suid-Afrika. “ʼn Blink toekoms lê vir JAC Suider-Afrika voor, want daarna is nóg voertuie op pad.”

Karl-Heinz en sy span moet dikwels dié vraag beantwoord: Wat maak JAC-voertuie anders? Hy lys dit:

  • Waarde vir geld, ʼn belangrike aspek in Suid-Afrika, waar vervoerstelsels nie altyd betroubaar is nie en mense afhanklik is van voertuie vir hul ondernemings, veral ook eenmansake;
  • Hulle is lig op brandstof;
  • Hulle is betroubaar;
  • JAC-handelaars is wyd verteenwoordig in die land en in buurstate;
  • Dis mooi luukse-voertuie wat nie ʼn tree terugstaan vir mededingers nie;
  • Al die JAC-produkte is beskikbaar in ʼn meer bekostigbare prysklas as hul eweknieë; en
  • Die voertuigwaarborg en diensplan is van die beste: In albei gevalle 5 jaar of 100 000 km.

JAC is nuut, opwindend en getuig van entrepreneurskap en versiendheid. “Ons het besef entrepreneurs moet soms berge oorsteek om suksesvol te wees. Jy moet vasbeslote wees om jou doel te bereik, en in Suid-Afrika moet jy teruggee terwyl jy jou lewensideaal uitleef. Dís die soort benadering wat die verskil maak.”

Besoek jacmotors.co.za en volg @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel.