DINK GRÓÓT

Habitat Mature Tree Nursery: Bome is hul besigheid

Dean Kingham van Somerset-Wes het van kleins af ’n passie vir bome gehad. Vandat hy kan onthou, het bome met hom gepraat, sê hy. Hierdie “wonderlike goed”, soos hy hulle noem, was nog altyd sy verbintenis met die natuur. Hy vertel dat hy bome as die oppassers van die natuur beskou, staatmakers wat jou van voedsel tot beskerming bied, wat suurstof mildelik verskaf om die ekosisteem aan die gang te hou en “wat die wêreld net eenvoudig ’n beter plek maak”.

Sy onderneming, Habitat Mature Tree Nursery, wat hy in 1991 begin het, was dus ’n natuurlike uitvloeisel van sy voorliefde vir bome, sê hy. Hierdie kwekery met sy meer as 30 000 bome, van klein tot groot tot reusegroot, was die begin van die grootboomkwekerybedryf in Suid-Afrika waar daar hoofsaaklik gefokus word op volwasse bome in houers. As boomdeskundiges bied dié kwekery hoëkwaliteit-bome in verskillende groottes aan landskapontwerpers, kommersiële ontwikkelaars of private individue wat kits-estetika verlang.

“My belangstelling in bome het op ’n baie jong ouderdom begin. Op 12 het ek in die bonsaikuns begin belang stel. Toe ek ’n stadium in my lewe bereik het waar ek aan ’n loopbaan moes begin dink, was ’n toekoms op die gebied van bome een van my opsies. Ek het geen formele opleiding vir enigiets ontvang nie, en het verskeie moontlikhede in my belangstellingsveld oorweeg. Die één ding wat uitgestaan het, en wat toe ’n natuurlike loopbaankeuse geword het, was bome.”

Dean het terselfdertyd ’n gaping in die mark gesien: Dit is die behoefte van mense om groot, volwasse bome aan te skaf. “Ek het in daardie stadium besef ek loop al ’n lang genoeg pad met bome om te kyk na die moontlikheid om dié van groter groottes te koop aan te bied.” Sy marknavorsing het getoon daar is beslis ’n mark vir mense wat graag reeds uitgegroeide bome soek. 

Nie almal het die geduld, die tyd of die lewensverwagting om klein boompies tot ’n volwasse stadium groot te maak nie, het Dean besef. Dit verg ’n leeftyd se aandag en sorg, terwyl daar openbare instansies of private tuine is met die behoefte om onmiddellik groot bome vir doeleindes van verfraaiing of ander praktiese redes aan te plant.

“Ek het baie, baie klein begin, geleidelik voorraad opgebou en dié bome toe te koop begin aanbied. Toe ek om en by die 100 bome beskikbaar gehad het, het ek die mark betree. Reg van die begin af het dit redelik goed gegaan. Ek het maar aangehou om in die onderneming te herbelê, want ek het geglo in dit wat ek doen. Ek het geweet dat my toekoms in bome lê, omdat dit my passie is. En hier staan ek vandag, 34 jaar later. Kyk net wat het alles gebeur!”

Vandag het Habitat Mature Tree Nursery by die 30 000 bome van alle groottes – klein tot volwasse en uitgegroei – wat reuse-bome insluit. Hieronder is inheemse sowel as eksotiese boomsoorte. Dit wissel tussen jong boompies in houers van 20 liter tot die heel grootstes van veertig jaar en ouer in 4 000 liter-houers. 

Dean noem homself graag iemand wat met tyd boer, want om ’n boom dekades lank te versorg beteken inderdaad dat jy verdraagsaamheid aan die dag moet lê. Nie baie mense het die geduld om soveel jare te wag om die eindproduk te beleef nie, sê hy. “Ek verkoop aan verbruikers ’n produk wat baie jare lank stadig gegroei het om tot hierdie volgroeide vorm te gedy,” sê hy.

Terwyl die bome in die kwekery oor jare tot ’n volgroeide stadium ontwikkel, bied dit aan kliënte onmiddellike genoegdoening – sier-artikels wat in ’n baie spesifieke behoefte voorsien. Dean en sy span bied ervare, kundige advies en diens ten opsigte van boomkeuse en landskappering, wat insluit dat veral die groot bome deur sy toegewyde span aangeplant word, met die moontlikheid van nasorgdiens.

Die grootboommark het oor baie jare in Suid-Afrika ontwikkel, vertel hy. “Toe ek hiermee begin het, was daar nie professionele kwekerye in die land wat volwasse bome gekweek en verkoop het soos vandag nie. Dis ’n mark wat oor die jare beslis gegroei het.”

Habitat Mature Tree Nursery het dus nie net ’n behoefte vervul nie, maar ’n behoefte geskep wat deesdae onmiddellik deur hierdie unieke kwekery se wye verskeidenheid vervul kan word. Volgens Dean verskaf die moontlikheid om sulke volwasse bome in ’n nuwe tuin te kan hê, baie bevrediging aan mense wat nie lank op ’n mooi tuin wil wag nie.

’n Netjiese, relatief nuwe of jong tuin wat van die begin af gevestig lyk, raak ’n al hoe groter behoefte by individue sowel as maatskappye. “Ons kliënte het oor die jare gewissel van private, voorstedelike aankopers wat hulle graag van hul bure wil afsonder – iets wat ’n al hoe groter behoefte word – tot mense wat groter bome verlang as windbrekers, of vir blote estetika, selfs in die geval van gholfbaanontwerp. Ons het tot dusver met baie gholfbane gewerk, waar bome ’n inherente deel van die baanontwerp vorm. Dan is daar ook die behoefte van filmmakers vir hul filmstelle, asook hotelle, skole, wynlandgoedere en talle kommersiële persele met baie spesifieke versoeke. Ons voer ook baie bome uit, soos na ’n hele klomp Afrika- en Europese lande, sowel as die Midde-Ooste. Habitat Mature Tree Nursery het kliënte landwyd en oorsee tot so ver as Engeland, Singapoer, Angola en Namibië. 

“Die betekenis van bome vir die wêreld, sowel as vir my persoonlik, was my aanvanklike dryfkrag. Reg van die begin af het ek vir myself bepaalde doelwitte oor die lang termyn gestel, want bome laat hulle nie aanjaag nie. Ek het altyd geweet dat ek eendag sal bereik wat ek graag wil. En daardie ‘eendag’ is nou,” sê Dean.

Drie dekades is vir enigiemand met loopbaanvooruitsigte ’n lang tyd, maar Dean se geduld het vrugte – of is dit bome? – afgewerp. “Ek is baie trots op dit wat ons as ’n span bereik het. My kollegas is ’n wonderlike klomp mense, en ek kry baie ondersteuning van my gesin, familie en vriende. Ek kon nie vir beter vra nie.”

Dean se raad aan mense wat graag met bome wil werk en daaraan dink om ’n soortgelyke kwekery op die been te bring, is eenvoudig. “My advies aan enige entrepreneur wat énige onderneming wil begin, veral dié wat iets landbouverwant wil doen … wéét waar jou passie lê, glo in jouself, glo in dit wat moontlik is, en doen dit na die beste van jou vermoë. Sukses is dan gewaarborg.”