Ryan Nienaber, mede-eienaar van die maatskappy Greenfish van Kaapstad, se loopbaan in die visbedryf het al voorskools begin. Dit was die dag toe hy ’n klein, geel visstokkie as verjaardaggeskenk gekry het.
“Ek het vyf geword toe ek die eerste keer lyn in die water gegooi het,” vertel hy. “Ek het afgestap rivier toe, en daar vang ek toe my eerste vissie.”
Dié geskenk en sy eerste vangs sal hy nooit vergeet nie, sê Ryan, want dit was die oomblik dat visvang hóm ‘gevang’ het.
Terugkyk was daar nie. “In ons grootword jare het ek en my broer, Andrew, elke rotspoeletjie, elke rivier, elke dam ontdek … dit het deel van ons geword. En ja, die see. Water, die oseaan, was nou in ons bloed. Ons kon nie ophou visvang nie.”
By visvang het dit nie gebly nie … die twee boeties het besef hul stokperdjie kan ook vir hulle begin wérk. Vanaf hul hoërskooljare het hulle hul vangste van die hand begin sit – eers by hul ma se werkplek, met die volgende verkoopspunt hul huis se inrit. Die gesin se Bantam-bakkie het die vervoerwerk gedoen.
“Daar lê dus ’n lang, interessante storie agter die begin van Greenfish,” vertel Ryan. Nou, meer as twintig jaar later, spog die twee broers met hierdie suksesvolle vismaatskappy wat landwyd bekend en gewild is. Dit het oor die jare gegroei tot ’n onderneming wat hoog aangeskrewe is in die Suid-Afrikaanse seekosbedryf, bekend vir sy lewering van topkwaliteit-produkte wat luukse restaurante landwyd, sowel as direkte verbruikers, bedien. Die personeel het oor die jare saam met die ontwikkeling van die onderneming gegroei …. tot vandag waar Greenfish meer as 200 werkers in diens het.
Vir die Nienabers was verdienste en welvarendheid nog nooit die spilpunt van hul maatskappy nie. Hulle is trots daarop dat Greenfish se bekendheid gegrond is nie net op gehalte nie, maar op etiese, oftewel “groen”, vangspraktyk en die vinnige lewering van produkte. Tog kan dít nie gebeur sonder ’n gelukkige, goed bestuurde personeel nie, sê Ryan.
Volgens hom is Greenfish op drie hoofpilare gebou: Kwaliteit, herbeplanning en krisisbestuur indien omstandighede daarvoor vra, sowel as navorsing en innovering.
“Ons heel eerste doelwit is die lewering van kwaliteitvis vir die uitvoermark, maar ook aan plaaslike restaurante en aan die gasvryheidsbedryf in Suid-Afrika in die algemeen. Ons tweede doelwit het hom aangemeld tydens die Covid-19-pandemie, toe Greenfish weens die inperking en gepaardgaande streng maatreëls al sy restaurante as klante verloor het.” Dit kon ’n ernstige uitwerking op die maatskappy gehad het as die bestuur en personeel nie onmiddellik krisisbestuur toegepas en buite die boks begin dink het nie. “Daar was skaars tyd vir herbeplanning, maar ons het die mag van virtuele verkope besef en dit dadelik in werking gestel. Dit was die Maandag ná die Donderdag se inperkingsaankondiging dat ons aanlyn-advertensies die eerste reaksie getoon het en ’n bestelling geplaas is, sommer ’n lekker grote. Hierdie ‘been’ van die maatskappy is uit noodweer gebore, net om te oorleef en die ligte aan te hou.”
Wat ’n massiewe terugslag kon wees, het onmiddellik in vooruitgang verander, want die Greenfish-span het die voorraad wat hulle gehad het, in ’n japtrap in kontant verander.
Die mag van innovering, wat Greenfish se derde been van vooruitgang sou word, is gevestig toe Ryan ’n nuwe voorkeur ontdek het tydens ’n reis na die beroemde Tsukiji-vismark in Japan. “Daar het ek ’n ander manier van vis eet geleer, ook van die voorbereiding en bediening van soesji wat nie verswelg word deur Westerse souse nie. Greenfish Sushi is gebore. Ons is baie opgewonde oor hierdie nuwe deel van die besigheid. Ons let op die keurige voorkoms van elke stukkie soesji, so ook die keurige verpakking daarvan. Ek glo die basiese bestanddele vir sukses is eenvoud, maar perfek aangebied.”
Kwaliteit en reputasie is vir die Greenfish-span ononderhandelbaar; dus word die onderneming wyd geprys vir die uitsonderlike varsheid van sy produkte. Dit is in Maitland naby Kaapstad, wat sentraal genoeg geleë is vir plaaslike aflewering op dieselfde dag, selfs tot so ver as bestemmings in die noorde van die land vanweë die gerieflike nabyheid van die lughawe. “Ons tuisafleweringsdiens bedien Kaapstad tot so ver as wat ons binne ’n dag kan bereik. En wat restaurante betref – oral in die land … as daar ’n lughawe naby jou is, is jou restaurant binne bereik. Soms gaan ons versendings selfs vinniger Johannesburg toe as na die V&A Waterfront in Kaapstad weens swaar verkeer. “Dis vir ons belangrik dat restaurante hul vis binne 24 uur ná vangs kan bedien.”
Oseaanbewaring en die voorkoming van habitatskade was vir die Nienaber-broers van meet af van die grootste belang. Etiese visvangmetodes verseker ’n volgehoue toekomstige aanbod uit die see, glo hulle. Daarom maak Greenfish gebruik van handlyn- en stokvangmetodes, hou by EU-gesertifiseerde vangpraktyk en fokus op groen-gelysde spesies.
Ryan is nie positief oor die gonswoord “volhoubaar” nie. “Ek verpes die woord en het my hele webtuiste gefynkam om te sorg dat dit verwyder word. Daar is reuse-maatskappye wat massiewe hoeveelhede vis vang net buite die grens van waar mense dit agterkom. Dit doen baie skade aan die omgewing, maar die publiek besef dit nie. Hierdie maatskappye etiketteer dan hul aksies met die woord ‘volhoubaar’ – dit beïndruk mense. Ek verskil heeltemal hiervan. Greenfish volg ’n lae-impak-benadering, want alles wat ons doen, het ’n invloed op die oseaan. Dit is so dat ons aktiwiteite ook ’n invloed op die omgewing het, maar dis gering. Ons vang met stok en lyn en hoek, net ’n paar visse uit ’n hele skool … ons wis nie die hele skool uit nie. Ons gee die skool dus kans om sy getalle te herstel.
“Daarteenoor beteken nywerheidsmetodes dat groot bote hele skole vang, die oseaanbedding of -riwwe beskadig en niks agterlaat nie. Ons is trots daarop dat ons gehalte bied sonder om skade aan te rig. Ons gaan vang ook nie in vreemde waters, net om dit in Kaapstad te verbruik nie.”
Greenfish se benadering sal altyd die handhawing van ’n waardeketting wees, van die hoek tot in die kombuis, sê Ryan.
Tog is dit die onderneming se personeel waaroor hy die passievolste is. Dis ’n span wat met die hand uitgesoek is, wat die maatskappy help opbou het, en van wie sommige van werkloos tot senior poste gevorder het. “Ons is een groot familie, baie divers wat kleur en kultuur betref. Ons samewerking bind ons.” Dit sluit in die vroue in die verkoopspan, sy broer, eggenote, ma en skoonsuster. “Hier is nie hierargieë, waar sommige werkers weier om iets te doen omdat hulle ’n bepaalde taak nie as hul rol beskou nie. Almal doen alles, almal spring in waar dit nodig is. Ons begin en eindig die dag as ’n span. Ek dink dis waarom ons so geseënd is. Dis een van die redes waarom ons in al hierdie jare ’n nul-personeelomset gehad het. Ons het ’n kultuur van ondersteuning opgebou.”
Om nou al te praat en dink oor waar hy Greenfish oor vyf jaar sien, is dalk voortydig, sê Ryan. “Ek is nie seker nie … as ek 20 jaar gelede gedink het ons sal nou wees waar ons is, met so ’n onderneming en soveel mense, sou ek dit nie geglo het nie. Die groot pluspunt is dat ons selfonderhoudend is. Ons beheer alles, elke fase van die proses. Hierdie benadering het wel veroorsaak dat dit ons langer geneem het om te kom waar ons is, maar nou wéét ons ons is ’n besigheid met ’n soliede basis.
“Ons hoef nie groter en beter te word nie. Ek word nie aangevuur deur geld nie … ek word gedryf deur doelwitte. Ek het soveel vrede in my hart gevind om die verhaal te vertel van die oseane om Suid-Afrika; so ook die verhale van elkeen van ons vistermanne.”
Dit wat hy wel die meeste van die toekoms verlang, is om dit vir ander mense moontlik te bly maak om gesellig om ’n stukkie vis bymekaar te kom. “En natuurlik as ek kan voortgaan om die lof van ons oseane te besing … dit is vir my genoeg.”
- Vir meer inligting, volg @Greenfish op sosialemedia, besoek www.greenfish.co.za, skryf aan sales2@greenfish.co.za, of bel of WhatsApp 063 666 2802.
- Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om van die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.