Om te boer sit nie in enigiemand se broek nie. Met klimaatsverandering, onvoorspelbare uitdagings en ‘n mark wat voortdurend verander, verg dit deursettingsvermoë en aanpasbaarheid om ‘n suksesvolle nisboerdery te bou. Green Grove Farming is ‘n uitstekende voorbeeld van hoe belangrik dit is om saam met die tye te ontwikkel en nuwe geleenthede raak te sien.
Green Grove Farming het oorspronklik slegs met laventel begin nà hulle ‘n groeiende aanvraag daarvoor in die mark geïdentifiseer het. Maar namate verbruikers se behoeftes verander het, het hulle besef dat die vraag na laventel nie dwarsdeur die jaar konstant bly nie. Hulle het dus voor ‘n belangrike keuse te staan gekom: hou vas aan een produk en hoop vir die beste, of brei uit en omarm nuwe uitdagings. Hulle het die tweede opsie gekies, en dit het die rigting van die boerdery ingrypend verander.
Vandag is Green Grove Farming veel meer as net laventel. As jy rustig oor die plaas stap, sal jy alles aantref, letterlik vanaf verskeie bessiesoorte en potplante tot neute en suurlemoene. En hulle is nog lank nie klaar nie. Met elke nuwe geleentheid wat oor hul pad kom, is hulle bereid om te leer, aan te pas en verder uit te brei. Dit is juis hierdie vooruitdenkende ingesteldheid wat die boerdery laat blom. Een van hul nuutste en snel groeiendste afdelings is bloubessies, ‘n gewas waarna die aanvraag in Suid-Afrika die afgelope paar jaar aansienlik toegeneem het.
By Green Grove Farming kan jy ook ‘n verskeidenheid snyblomme vir spesiale geleenthede aankoop. Benewens hul pragtige laventel, kweek hulle ook blomme soos proteas en euro greens. Hierdie uiteenlopende aanbod maak dit moontlik om pragtige ruikers saam te stel wat by verskillende style, temas en seisoene pas. Die fokus is nie net op mooi blomme nie, maar ook gehalte en varsheid wat elke geleentheid ekstra spesiaal maak.
Green Grove Farming verwelkom besoekers met ope arms. Of jy ‘n fotograaf is wat die skilderagtige landskap wil vasvang, of bloot na ‘n rustige wegbreek in die gastehuis op soek is, hierdie plaas bied iets besonders vir elke besoeker. Green Grove Farming bewys dat suksesvolle boerdery nie net gaan oor wat jy vandag produseer nie, maar oor die bereidwilligheid om aan te pas, nuwe moontlikhede te omarm en voortdurend te groei. Dit is juis hierdie ingesteldheid wat verseker dat die plaas jaar na jaar floreer.
Vir meer inligting, volg @Green Grove Farming op sosialemedia, besoek https://greengrovefarm.co.za/ skryf aan franco@greengrovefarm.co.za of bel 072 156 9172.
Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.