Sagtheid gebore uit harde lewensomstandighede.
Dit beskryf die ontstaan en uitbreiding van die wolproduksie- en verwerkingsmaatskappy Gerber & Co, wat in 2017 op die been gebring is tydens een van die langste droogtes wat Namakwaland nóg getref het.
Nege jaar later het Stefan en Francisce Gerber ’n sterk naam opgebou met hul onderneming wat spesialiseer in die vervaardiging van wolkledingstukke van die hoogste gehalte. Terwyl die skape op hul plaas in die Noord-Kaap aanhou wol lewer, het Gerber & Co se geïntegreerde truiproduksieaanleg in die Paarl reeds ’n reputasie vir kwaliteit en betroubaarheid gevestig.
Tydens ’n sewe jaar lange, knellende droogte het die egpaar besef hulle kan nie stilstaan en wag nie – hulle moes met dit wat hulle het oorleef en vorentoe beweeg. As Namakwalanders was hulle gewoond aan uiterstes: van versengende hitte tot ysige koue, en ’n landskap wat deurgaans deursettingsvermoë vereis. “Dit is ’n naakte, eerlike en robuuste omgewing, maar ook ’n plek wat elke jaar die sagtheid van blomprag bied. En daar, tussen die veld en die droogte, het ons besef die skape kan vir ons ’n waardevolle produk lewer.”
Stefan, ’n gekwalifiseerde wynmaker, en Francisce, ’n gekwalifiseerde sjef, moes besluit hoe om hul plaas volhoubaar te hou. In plaas daarvan om hul wol op die oop mark te verkoop, het hulle begin eksperimenteer met verwerking en waardetoevoeging. Dit het begin met eenvoudige tuisproewe om wol te was, en ná baie pogings het hulle teen middel 2018 hul eerste trui van eie wol voltooi.
Sewe jaar later is Gerber & Co ’n gerespekteerde kleremerk met ’n eie produksieaanleg in die Paarl. Die egpaar het hul model nie net rondom kwaliteit gebou nie, maar ook rondom werkskepping. “Die hoeveelheid werk wat ons kan skep is vir ons belangrik. Sowat 4 kilogram wol van een skaap lewer ses truie. Daarom sien ek elke skaap as ’n werkskepper – 100 000 skape kan deur die waardeketting heen ongeveer 1 900 poste ondersteun.”
Stefan sê die idee dat net groot maatskappye kwaliteit kan lewer, is ’n wanpersepsie. “Dit is ook ons verantwoordelikheid om die ekonomie te stimuleer. Elke werkgeleentheid maak ’n verskil in ’n huishouding. Hoe meer inkomstestrome ons skep, hoe meer koopkrag bou ons. Ons is deel van ’n groter ekonomiese sirkel.”
Ware entrepreneurskap beteken om mededingend te wees en nie bang vir mislukking nie. “Jy kan van enigiets ’n produk maak en dit verkoop – solank die mark jou vertrou.”
Sy raad aan voornemende entrepreneurs is eenvoudig: “Beplan finansieel, fokus op gehalte en kry jou bemarking reg. Die wêreld wag nie; jy moet self uitspring en doen. Moenie jou eie vermoëns en geleenthede onderskat nie.”
Boerdery, sê hy, verg konstante krisisbestuur. “Of dit ’n stukkende trekker of ’n droogte is, jy moet aanpas. Boere leef met adrenalien, hulle baklei vorentoe. Soos my skoonpa sê: om ‘vorentoe te skrik’ is die basis van volhoubaarheid.”
- Vir meer inligting, volg @Gerber & Co op sosialemedia, besoek www.gerberandco.com, skryf aan sales@gerberandco.com of bel 021 203 3162.
- Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om van die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.