DINK GRÓÓT

Gaia’s Grace Farm

Blitsige wins uit ’n stadige slak

Toe Sandra Whitehouse se kantooromstandighede haar sowat agt jaar gelede begin verveel het, het haar navorsing oor geleenthede in die landbou haar tot dié gevolgtrekking gelei: Daar is géén rede om nié met slakke te boer nie. Veral in Suid-Afrika, waar die vraag daarna baie groter is as die aanbod.

Sy het ontdek markgeleenthede, lae insetkoste, eenvoud, omgewingsvriendelikheid, winsgewendheid, geringe onderhoud, min ervaring en min grond is pluspunte … al dié elemente is maar net ’n paar van die boustene van slakboerdery wat aan haar ’n volhoubare toekoms as entrepreneur gaan bied. Haar navorsing en persoonlike voorkeure het haar laat besef helikultuur – die teel van slakke vir menslike gebruik – is nommerpas.

Daar kan egter nóg ’n element bygevoeg word – dit is dat jy ’n slakboerdery op enige plek kan begin. Jy hoef nie ’n spesiale lap grond aan te skaf vir jou onderneming nie. Die agterplaas of motorhuis is meer as genoeg.

Die beste is dat jy in ’n relatief kort tydjie sommer ’n stewige wins kan toon.

Op Gaia’s Grace Farm is helikultuur dus so ses, sewe jaar gelede as die stapelonderneming van haar boerdery op die been gebring, en dit sonder dat Sandra enige ervaring of kennis daarvan gehad het. Haar dryfveer was om kreatiewe verandering in haar lewe te bewerkstellig. Sy het dus uit haar werk in ’n oproepsentrum bedank. Slakboerdery, het sy bevind, is ’n landbouterrein wat splinternuwe uitdagings aan haar gaan stel.

“Ek wou iets anders met my lewe doen, iets betekenisvol. Daarby wou ek graag buitenshuis werk, en het dus na mikroboerderye begin kyk. Dit het met my waardestelsel ooreengestem. Slakke is uniek omdat dit ’n baie klein voetspoor het, reukloos is, met geen afval nie. Jy kan ’n baie groot hoeveelheid slakke in ’n relatief klein, afgeslote ruimte aanhou, met ander woorde ek kan ’n etiese boerdery op ’n beperkte ruimte bedryf.”

Vir Sandra was volhoubaarheid en haar liefde vir die natuur twee groot oorwegings, ook om binne ’n relatief kort tydjie weer ’n inkomste te kon genereer.

Dié diertjie wat vir die meeste mense ’n blote tuinpes is, is al lank ’n gesogte item op restaurantspyskaarte. Die geskiedenis van dié bedryf toon mense eet dit al duisende jare. Die eerste getuienis hiervan was sowat 30 000 jaar gelede in Spanje. Dit het ’n hoë proteïeninhoud en lae cholesterol, dit verstewig die immuunstelsel en het ook anti-inflammatoriese eienskappe. 

Deur die jare het dit ’n al hoe meer gesogte delikatesse in restaurante geword, gewoonlik bedien in ’n knoffelbottersous.

Fyngemaalde slakdoppe word soms as ’n bestanddeel in die papierbedryf gebruik, met slakslym wat ’n erkende pluspunt is in sommige kosmetiekware.

Jy kan met so min as 500 slakke kan begin boer, maar die vermeerdering daarvan is so drasties, dat jy net sowel van die begin af uitbreiding in gedagte moet hou. Moet dus nie te skraps dink oor die grootte van die perseel waarop jy dit wil bedryf nie, is Sandra se raad.

Slakke lê elk tussen 30 en 400 eiers per siklus, teen gemiddeld vyf siklusse per jaar. In Suid-Afrika word slakke teen omtrent R3 elk aan restaurante verkoop – of R8 aan individuele kopers – of nagenoeg R60/kg, wat dan sowat 100 en 120 slakke per kilogram beteken.

Sandra het haar stuk grond “Gaia’s Grace” gedoop – dis geleë in die Alkmaarvallei aan die Olifantsrivier, sowat 25 km van Mbombela (voorheen Nelspruit). Daar is ’n spesifieke rede waarom sy dié naam vir haar plasie gekies het, vertel sy. “Gaia beteken Moeder Aarde. My filosofie is dat Moeder Aarde die middelpunt is van alles wat ons doen. Hier op die plaas is ons die hele tyd bewus van hóé ons boer, nie net waarmee ons boer nie. ‘Grace’ is vir my uiters belangrik, want dis net deur genade dat ons ’n opbrengs kan genereer.”

Slakke is wel Gaia’s Grace se hoofinkomste, maar die plaas het geleidelik uitgebrei na pluimvee, groente soos pampoen, botterskorsies en tamaties, asook koffie, makadamianeute, kruie en medisinale plante. Deesdae is daar selfs keurige toeristeakkommodasie op dié plaas beskikbaar – duurder fynproewersverblyf asook geriewe vir rugsakreisigers.

Sandra het die slakspesie Helix aspersa, die groter soort, uit Griekeland ingevoer. Daar is dit so algemeen soos die gewone bruin tuinslak in Suid-Afrika. Sy het ook gefokus op dié wat die beste voortplant. Teenoor ons tuinslak is dié Griekse kalant witter en deurskynender.

Net een hektaar van Gaia’s Grace word aan helikultuur afgestaan, “waar ons ons slakke in ’n gesonde en so natuurlik moontlik omgewing aanhou. Op hierdie afgeslote stukkie grond boots ons ’n stadstuin na soos waarin slakke gewoonlik floreer. Ons gee baie aandag aan die grondgehalte. Ons verskaf droë voedsel, maar vul dit aan met groenigheid, ook kakiebos waarvan hulle baie hou.”

Gaia’s Grace verg egter nóg drie baie belangrike elemente – betroubare arbeid, naamlik werkers wat Sandra uit die omgewing aanstel, afsetplekke vir haar produk en stewige bande met die mark. Vir laasgenoemde het Sandra die Johannesburg Culinary and Pastry School genader en ’n ooreenkoms met hulle gesluit om nuwe slakdisse te skep en te toets. “Gaia’s Grace en dié kookskool deel ’n passie vir samewerking en innovasie, en sowel die slakboerdery en die kulinêre bedryf floreer op spanwerk.”

Só het daar ’n kookkompetisie uit dié samewerkingsooreenkoms ontstaan, onder meer om die klassieke knoffelbotter-slakgereg vanuit ’n ander hoek te benader. “Hierdie kompetisie het opwindende en verbeeldingryke disse opgelewer, soos gerookte slakke met ’n Meksikaanse pynappel-en-slaksalsa. Die belangrikheid van hierdie kreatiewe vennootskap het die veelsydigheid van ons produk beklemtoon. Ons moet onthou dat slakke ’n nisitem op die spyskaart is.”

Fynkookkuns en delikatesse is ’n ander passie van Sandra, “vir mense wat kos en kosteksture wil ervaar, saam met die manier waarop ons geure kan kombineer”.

Gaia’s se gewildste afsetplekke is deli’s, restaurante en veral spyseniers wat fynkookkuns beoefen, so ook spysenieringsmaatskappye wat troues en groot geleenthede reël.

Vandag kan Sandra terugkyk en nuttige raad en wenke gee aan mense wat nisondernemers in die landboubedryf wil word. “Wees ontvanklik vir enige advies wat jy kan kry. Doen vooraf ’n risiko-ontleding en maak seker dat jy ’n ordentlike sakeplan het. In die landbou moet jy van meet af besef jy moet baie veranderlikes verwag. Jy moet weet wanneer om vas te byt en net so ook wanneer om te laat gaan. Daar gaan tye kom dat jy net wil oppak en tou opgooi, maar dis dan dat jy moet besef jy is eintlik baie na aan sukses.”

Een van die belangrikste lesse wat Sandra geleer het, is dat sukses op samewerking gedy. Dis die grootste faktor om ’n volhoubare bedryf te verseker – ’n onderneming wat sy mark verstaan en weet hoe om dit met selfvertroue uit te brei.

  • Volg @Gaia’s Grace Farm op sosialemedia. Vir meer inligting, bel Gaia’s Grace Farm by 072 181 5432 of skryf aan sandra@gaiasgrace.co.za
  • Tree ook in verbinding met @HFASA (Heliculture Farmers Association of Southern Africa) by www.yumecosmetics.co.za
  • Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.
  • Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.