DINK GRÓÓT

Future Africa Indigenous and Orphan Crops Collection

Future Africa – groen, eetbare innovering!

Verbeel jou ’n lowergroen spogtuin om jou dorpshuis, ’n rustige, estetiese oase wat selfs in ’n tuinontwerp-tydskrif sou kon pronk. Met dié verskil: Elke blaartjie in jou tuin is bruikbaar vir die eettafel of medisynekassie – jy kan letterlik jou hele tuin in maaltye of as helingsagent gebruik.

Dís die benadering van Future Africa se Indigenous and Orphan Crops Collection, ’n inisiatief van die Universiteit Pretoria om volhoubare landboupraktyke in Afrika te vestig.

Jason Sampson, kurator van die 100 jaar oue Manie van der Schijff- Botaniese Tuin van die universiteit, met sy verskeidenheid plantnavorsingsversamelings van duisende spesies vir eetbare, medisinale of industriële gebruik, vertel die Future Africa-konsep met sy gespesialiseerde groep plante, vorm deel hiervan. Hierdie plante is byeengebring spesifiek vir hul voedsel- en voernut. “Ons maak plante bymekaar wat die potensiaal het vir navorsing ten opsigte van kos, medisyne en industriële toepassings.”

Stap jy saam met hom deur die mooi tuin van die Future Africa-kampus van die universiteit, kan jy nie help om jou te verwonder oor wat hy, Richard Hay en nege voltydse werkers hier uitrig nie. Hulle erken hulle werk is nie klaar nie, want tuine is nie staties nie, en byna elke dag ontdek hulle nóg interessante plante wat by dié inisiatief inpas. “Die Future Africa-versameling is ons gespesialiseerde voedsel-en-voer-plantversameling en word hier, op die Future Africa-kampus van die universiteit, gehou.”

Jason en sy span se werksaamhede is deel van ’n groter plan as om nét hierdie botaniese tuin te versorg en te ontwikkel. “Future Africa is deel van die universiteit se plan om die konsep van volhoubare landboupraktyke verder te laat uitkring, veral in Afrika. Die Future Africa-benadering is om die stedelike lewe te herdefinieer deur stedelike landskappe te diversifiseer om kos vir mense sowel as vir fauna te voorsien. Dit sal die potensiaal van Suid-Afrikaanse sowel as ander Afrika-plante ten toon stel en die waarde van ’n oorwegend inheemse landskap demonstreer. Ons kies plantspesies sorgvuldig vir dié tuin om hierdie visie te ondersteun.”

Die grondslag van werksaamhede hier is aktiewe botaniese navorsing, om uiteindelik soveel moontlik inheemse eetbare plante en plante met medisinale eienskappe as versameling hier te huisves. 

Volgens Jason het die Future Africa-projek in 2015 begin. “Die landskapontwerp is sodanig dat dit ook esteties is, met ander woorde … dit moenie net ’n nuttige tuin wees nie, maar ook ’n mooi tuin wat eintlik maar net soos ’n gewone huistuin lyk. Die verskil is dat elkeen van hierdie plante eetbaar is, en in sommige gevalle ook medisinaal. Kulinêre navorsing is egter die hooffokus. Ek praat hier van ’n kombinasie van oes- en erfenisgewasse, sowel as wilde eetbare plante. Binne hierdie spektrum sal jy ’n wye verskeidenheid eienskappe van aanpasbaarheid vind.”

Hiermee bedoel Jason plante wat verskillende groei-omstandighede verlang. Sommige plante verkies volle son, ander volledig skaduwee of ’n kombinasie daarvan. Daar is ook plante wat eerder floreer in droë, goed gedreineerde grond, terwyl ander weer in water groei, soos waterhiasinte. “Beplanning is dus belangrik, so ook kennis oor wat elke plant verlang en die omgewing waarin dit sal floreer. As jy dít alles toepas, sal elke plant op sy eie manier gedy. Die bonus is natuurlik dat die resultaat ’n pragtige, estetiese en 100% eetbare tuin is!”

En dit, sê hy, is binne elke tuinier se bereik – waar jy ook al jou tuin vestig en ongeag die grootte van jou stukkie grond.

Daar is baie bronne waar plante en sade verkry kan word vir die Future Africa-tuin, vertel hy. “Sommige op die tradisionele manier, ander op plekke waar jy dit die minste verwag. Ons koop by saadhandelaars of ander botaniese tuine, selfs by versamelaars van hierdie soort plante. Ons kan natuurlik sade invoer, maar gewoonlik skaf ons dit plaaslik aan. Deur die jare het ons ontdek daar is ’n hele gemeenskap van versamelaars van eetbare plante in Suidelike Afrika, mense wat hulle hierop toespits.”

Hierdie gemeenskap doen ewe hard navorsing op hul eie, vertel hy. “Van die interessantste plante wat ons al opgespoor het, is in gemeenskapstuine langs grootpaaie, plekke waar jy gewoonlik net verbyry. Jy sien sekere plante langs die pad, en skielik besef jy … hier moet ek stop; kom ons gaan kyk ’n bietjie wat daar aangaan. Dit is heeltemal toevallige ontdekkings!”

Daar is, volgens hom, geen einde aan die interessantheid en moontlikhede van hierdie besonderse plante nie. “Dis iets wat jy jou hele lewe lank kan doen. Jy moet net jou oë en ore oophou.”

Die kurator vir die spesifieke Future Africa-versameling is ’n jong navorser, Richard Hay, wat tans besig is met sy doktorale studie in agrobiodiversiteit, “wat eintlik net ’n spoggerige woord is vir landboukundige diversiteit”, vertel Jason.

Volgens Richard is die hele idee van hierdie soort tuin om voedselproduksie met die stedelike omgewing te integreer.

“Daar is ’n baie sterk fokus op droogtebestande oesgewasse of gewasse met ’n redelik hoë weerstandigheid wat goed sal aard in huis- of gemeenskapstuine. Sulke gewasse en tuine maak versorging nie net makliker nie, maar verg ook minder water en voedingstowwe wat nodig is vir goeie produksie.”

’n Verdere pluspunt van die Future Africa-tuin is dat dié hele kampuslandskap só ontwerp is dat water inderwaarheid “geoes” kan word. “Ons hele besproeiingstelsel word direk gevoed uit ’n dam wat weer gevul word deur die kampus se waterafvoerstelsel Ons probeer werklik die gebruik van water hier tot die minimum beperk, so ook ons steun op ánder waterbronne as boorgate.”

Volgens Richard is hul gemeenskapsfokus binne die Future Africa-inisiatief van die grootste belang. “Ons bied gereeld gemeenskapswerksessies aan om mense oor hierdie soort oeste in te lig en hulle bloot te stel aan verskillende oes-opsies. Ons verskaf ook opleiding vir daaglikse produksie.” 

Studente aan die Pretoriase Technikon en Unisa is ook op hierdie besonderse span se radar. “Hulle kan hierheen kom en saam met ons werk as deel van ’n geïntegreerde kurrikulum wat deel vorm van hul diplomakursusse in hortologie en oesproduksie.”

Een van die grootste mikpunte van hierdie inisiatief is dat die bestuurspan hoop dis ’n tuinboubenadering wat soveel aandag sal kry, dat dit dwarsoor Suid-Afrika in huis- en gemeenskapstuine toegepas sal word. “Ons is altyd beskikbaar om inligting en opleiding aan gemeenskappe te verskaf, want dit help ons weer met ons doelwit om die bevolking te leer om hul eie voedsel te produseer.”

Richard sê die kampusomgewing is taamlik uitdagend as tuinboulandskap. “Hier vind so baie aktiwiteite plaas, en ons moet dit in ag neem dat dié tuin letterlik tussen geboue aangelê is. ’n Mens sou dit nou nie juis kon beskryf as ’n omgewing met optimale toestande vir oesproduksie nie! Maar dít is ook die werklikheid waarmee die meeste Suid-Afrikaners daagliks worstel. Hulle probeer voedsel produseer binne hul gemeenskappe, selfs in hul agtertuine. Ons fokus dus op gewasse wat geproduseer kan word buite die tradisionele landboukundige ruimtes.”

Dis sy groot wens dat bewusmaking van hierdie tipes oesgewasse in gemeenskappe sal posvat en al hoe meer mense as gevolg hiervan groen ruimtes in en om stede sal begin sien as ’n plek waar eetbare en medisinale plante verbou kan word, met ander woorde werklik nuttige plante wat méér is as net vir die doel van estetika of groenigheid. “Om plante te kweek, beteken jy moet jou hande vuil maak. ’n Mens leer net deur ervaring. Dis ’n lewenslange reis, en jy gaan nêrens kom as jy te bang is om te begin nie. Ons wil al hoe meer mense aanmoedig om al hoe meer verskillende oes-opsies te beproef. Selfs binne konvensionele oesgewasverbouing is daar soveel moontlikhede.”

Future Africa is dus nie net ’n navorsingsplek wat op die toekoms gerig is nie, maar een wat gemeenskappe prakties wil betrek deur hulle kreatief oor plantverbouing en die talle opsies daarvan te laat dink. Richard se droom is dat dit gemeenskappe sal verenig rondom ’n groen, eetbare leefstyl. “Nie net vir hulself nie, maar ook vir hul bure en hul hele gemeenskap. Mense moet begin eienaarskap neem van die groen ruimtes wat hulle rondom hulle sien.”

Die koers wat ons land inslaan ten opsigte van verstedeliking behoort ’n duidelike rigtingwyser te wees vir elke lid van die gemeenskap oor wat sy of haar bydrae kan wees – nie net om self voedsel op beskikbare grond te verbou én die omgewing te verfraai nie, maar ook hoe om met die regte aanplantings die bewaring van hulpbronne soos water aan te spoor en voedselskaarste teen te werk. “Deur inheems te plant en ons erfenis te benut, kan ons ons lewensgehalte verbeter en bestaande hulpbronne maksimaal benut.”

  • Volg @Future Africa en @Future Africa Indigenous and Orphan Crops Collection op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.up.ac.za/future-africa; bel 012 420 3111; e-pos ssc@up.ac.za of info@futureafrica.science
  • Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
  • Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za