DINK GRÓÓT

Fijn Botanicals: Fyngeure sorgsaam geskep uit ʼn heilsame omgewing

In die prentjiemooi Keisievallei in die Wes-Kaap, tussen die Kogmanskloof en die Rooihoogtepas, lê die dorpie Montagu … bekend om sy kultuur, vrugteboorde, warmbronne en geskiedkundige argitektuur.

Dit is ook die tuiste van Fijn Botanicals, die onderneming van Liana en Petrus Jansen op Kogman & Keisie Organic Farm waar hulle hul eie paradys geskep het.

Montagu, een van die stylvolste dorpies in die land, met sy beeldskone omringende landskap, vrugbare grond en rykdom aan uitsonderlike plantegroei, is vir hierdie egpaar die ideale plek om hul drome uit te leef.

Want Montagu, sê Liana, is ook algemeen bekend as ʼn “genesingsentrum” vanweë sy natuurlike plantegroei met ʼn magdom genesende eienskappe. Dit is nommerpas vir dié gekwalifiseerde landskapsargitek en antropoloog met haar diepgaande liefde vir en kennis van veldplante … kundigheid wat sy en Petrus ingespan het om ʼn florerende sakeonderneming te ontwikkel.

Op hul plaas aan die voet van die Langebergreeks en digby die Keisierivier kan hulle put uit die rykdom van flora wat die Sukkulente Karoo, Langeberg-fynbos en renosterveld insluit: alles noodsaaklike “bestanddele” vir vel- en ander lyfsorgprodukte wat staat maak op die heilsame uitwerking van essensiële olies. Ná jare se eksperimentering het die egpaar dit wat die natuur in oorvloed bied, verfyn tot produkte wat vir hulle ʼn leefwyse geword het.

Dis Petrus wat vertel dat hierdie koers wat hul lewe ingeslaan het, allesbehalwe ʼn kitsplan was. Dit gaan ver terug, na sowat 14 jaar gelede, toe die omgewing se mense “my jammer gekry het oor my alleenlewe op my plasie”, en hom aan die aantreklike antropoloog voorgestel het. Liana, het sy vriende gevoel, is nét die regte een om hom op sy stukkie grond, toe nog genoem Kogmanshoek-plaas, aan te vul.

Voordat hy haar leer ken het, het hy vier jaar op sy eie hier geboer, vertel hy. “Ek het destyds gevoel die plaas se naam moet verander … dis geleë presies waar die Kogmansberg en die Keisierivier bymekaarkom, en daarom het ek die plaas Kogman & Keisie Farm gedoop. Ek het seker maar ʼn bietjie alleen gelyk vir die mense hier. Toe ek hoor Liana bedryf ʼn wurmplaas, het ek onmiddellik belang gestel.”

Uit hul huwelik is twee kinders gebore, sê Petrus, “maar ons het oor die jare ook geboorte gegee aan verskeie besighede”.

Terwyl hy fokus op die vrugteboorde, lê Liana se liefde by veldplante – plante wat natuurlik in hierdie mooi vallei voorkom. “My liefde vir plante, plantgeure en genesing deur middel van plante kom van kleindag af, toe ek en my suster allerhande plantbrousels gemaak het,” vertel sy. “Ons het gespeel dit is medisyne. Hierdie herinneringe het my nooit verlaat nie. Ek het daarna landskapsargitektuur en antropologie gestudeer en by Tukkies en Ikeys klasgegee oor die verhouding tussen plante en mense, omgewings en landskappe, so ook oor die genesingseienskappe van plante vir mense.”

Die plaaslewe het haar reg van die begin af soos ʼn handskoen gepas. “Die ontdekking van die plantegroei was vir my soos ʼn uitvloeisel van alles wat ek altyd was, dit wat my ware belangstelling is. Ons is so gelukkig hier by Montagu … vir eeue staan dit al bekend as ʼn genesingsentrum. Ek het baie gou agtergekom daar is iets baie spesiaal aan die omgewing en sy plantegroei.”

Haar produkontwikkelingsproses behels die skep van ʼn doelgerigte reuk op aanvraag van individue, ondernemings of hotelle … pasgemaakte geure wat aansluit by die profiel van hierdie mense of plekke. “ʼn Besigheid sal byvoorbeeld na my toe kom en sê hulle verlang ʼn geur wat hulle onderneming se karakter vasvang en wat hulle dan in hulle ruimtes kan gebruik. My eerste stap is om die landskap óm hulle te ervaar. Ek gaan ruik dit, en ek oes plante op die plase in die omgewing om die olies te ekstraheer.”

Liana sal haar dan ook vergewis van die “storie van die plek”, soos sy dit noem, “asook die etos en die karakter daarvan”. Met al hierdie kennis en sintuiglike ervarings sal sy na haar fabriek en werkswinkel op hul plaas terugkeer en ʼn geurprofiel vir haar kliënt ontwikkel. “As ek plante geoes kon kry, maak ek ʼn tinktuur daarvan, en met hierdie tinktuur sal ons ʼn geur maak, in ooreenstemming met dit wat die karakter van die persoon of besigheid verteenwoordig. Net om die tinktuur te ekstraheer duur minstens twee maande. Daarna is genoeg tyd nodig vir die parfuum om te verouder. Dit kan dus tot vyf maande vat vir hierdie geur om na my goedkeuring te ontwikkel. Dis ook moontlik om dit dan in ander produkte toe te pas.”

Die Fijn Botanicals-reeks sluit in Fynbos-vloeiseep en -lyfroom, asook Fynbos-sjampoe en -haaropknapper. Die geurryke kamersproei en olies is 100% natuurlik, en die lyfolie en skroproom is nie net ʼn luuksheid vir stort of bad nie, maar ideaal vir hardnekkige veltoestande. Die Sensitive Skin-reeks is spesiaal vir sensitiewe velle, sowel as vir babas, geskep.

Elke produk bevat uiters gekonsentreerde fynbos-essensiële olies uit die Langeberg-gebied, die Cederberg-omgewing en die Kougavallei.

Die fynbosspesies wat in die meeste produkte gebruik word, is kapokbos (Eriocephalus africanus), boegoe (Agathosma betulina), kamille (Eriocephalus punctulatus), die Cape May-bos (Coleonema alba), kooigoed (H. splendidum, H. odoratissimum) en asbos (Pteronia incana). Geen chemiese stowwe, sintetiese geure of kleure word by produkte gevoeg nie.

“Herinnering” en “gevoel” is die heel belangrikste eienskappe wat aan so ʼn geurprofiel, en uiteindelik aan ʼn parfuum, gekoppel moet word, sê Liana. Sy beoog ʼn reeks van nege unieke Fijn-parfuums, en is tevrede daarmee dat vyf reeds op die rak staan. Aan elke pafuum koppel sy ʼn menslike eienskap: Die eerste is sterkheid van gees, die tweede geloof, die derde vrede, die vierde vreugde, die vyfde goedheid, “en dan is daar nog vier wat op pad is – soos liefde, gemaak van hibiskus. Die geure verteenwoordig elk ʼn spesifieke landskap wat deel is van my binnelandskap.”

Van hierdie geure, sê Liana, laat haar dink aan mense of plekke of die tuine van haar oumas waar sy as klein dogtertjie gespeel het, of byvoorbeeld aan Mauritius, wat haar herinner aan die reuk van vanielje. “Die geure verteenwoordig dus herinneringe en stories van my lewe. Die belangrikste is dat mense kan agterkom dat almal met liefde gemaak is. Ek maak niks as ek in ʼn slegte bui is nie! Ons sing in ons werkwinkel, en ek hoop ons kliënte kan daardie vreugde aanvoel.”

Tussen die plaas en die Fijn-produkte is daar ʼn goeie simbiose, vertel Petrus. “Ek het weer ʼn groot voorliefde vir erfenissaad, en veral ook vir verskillende soorte tamaties … allerhande kleure, geure en vorms. Dit lyk dalk na ʼn kleinerige plasie, maar hier gebeur regtig baie. Hier is altyd iets aan die gang.”

Van die ander uitvloeisels van die Jansens se sakevernuf is gasteakkommodasie, ʼn restaurant en ʼn venue vir boetiektroues of klein onthale, sowel as Fijn Botanicals-werkwinkels.

Terwyl Petrus sterk voel dat daar nog baie sakegeleenthede op Kogman & Keisie Organic Farm opgesluit lê, sê Liana sy doen elke dag wat sy kan, en kyk nie vyf jaar vooruit nie. “Ek is iemand wat in wonderwerke glo. Geloof maak deure vir jou oop. Ek vat dit dag vir dag.”

Sy is oortuig dat Fijn Botanicals nooit te groot moet raak dat sy haar persoonlike toewyding moet inkort nie. “Ek wil graag steeds vir elkeen wat hierheen kom of produkte van ons webblad af bestel, ʼn persoonlike briefie kan skryf.”

Persoonlike aandag, glo sy, is die grondslag vir suksesvolle entrepreneurskap.