Soms besef mens nie jou eie potensiaal om ‘n positiewe impak op ‘n gemeenskap te maak tot daar geen ander keuse is nie. Fig Tree Farm se geskiedenis strek terug tot 1896, en vir meer as 120 jaar is die grond deur die eienaars benut en geniet. Maar met die aanbreek van die Covid-19-pandemie was die gemeenskap van Hillcrest desperaat vir ’n stukkie oop natuur waar hulle veilig kon ontspan en die buitelug geniet. Fig Tree Farm het gevolglik in 2020 sy hekke vir die publiek oopgemaak en só ’n veilige hawe vir talle mense gebied.
Sedertdien het die plaas behoorlik gegroei en uitgebrei. Die gemeenskapsgogga het hulle gebyt en hulle het begin om elke nuwe idee vanuit een oogpunt te benader: Wat kan ons vir die gemeenskap bied wat hulle nie reeds elders kan kry nie? Hulle grootste wens is immers om mense bymekaar te bring om goeie geselskap, lekker kos en die buitelug te geniet.
Wanneer jy by Fig Tree Farm aankom, is daar omtrent iets vir elke smaak. Jy kan jouself trommeldik eet by een van die eetplekkies of kies om aktief te raak met ’n potjie padel. As padel nie jou ding is nie, is daar ander aktiwiteite om te geniet, vanaf gholf tot stap- en fietsroetes. Solank jy net nie vergeet om ná die tyd ’n lekker Italiaanse roomys te kry nie!
Fig Tree Farm ondersteun ook plaaslike entrepreneurs en kunstenaars deur unieke produkte by die winkeltjies op die perseel te verkoop. Vanaf serpies tot sepies … daar is iets vir almal. Besoekers kan ook die plaasgronde tydens ’n piekniek geniet of hul fietse saambring om van die vele roetes te verken.
Wat Fig Tree Farm egter ’n besonderse nisboerdery maak, is hul blomtuin. Hier word pragtige blomme met organiese en volhoubare metodes gekweek, en die gemeenskap word genooi om deel van die ervaring te word. Besoekers kan deur die tuin stap en self blomme pluk om hulle eie ruikers saam te stel. Met ’n sterk fokus op volhoubaarheid en respek vir die natuur, verwelkom Fig Tree Farm die natuurlike prosesse van die omgewing, selfs al beteken dit dat ’n gogga of twee soms saam kom kuier.
Fig Tree Farm is ’n pragtige voorbeeld van boerdery vir die gemeenskap. Dit gaan hier oor veel meer as net ’n besigheid of produk; dit is ’n leefstyl en ’n plek waar mense kan saamkom, ontspan en die natuur geniet. As jy jouself dus ooit in Hillcrest bevind, is hierdie beslis ’n ervaring wat jy nie wil misloop nie.
Vir meer inligting, volg @fig_tree_farm_hillcrest op sosialemedia, besoek https://figtreefarm.co.za skryf aan office@figtreefarm.co.za of bel 076 808 1455.
- Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.