DINK GRÓÓT

Fauxmage: Suiwelvry dog smaaklik

Wanneer mens aan smullekker kaas dink, is suiwelvrye produkte nie noodwendig die eerste ding wat by jou opkom nie. Maar dit is presies wat by Fauxmage gebeur: heerlike fopkase wat heeltemal suiwelvry is! Fauxmage, geleë in Stanford, die prentjiemooi en rustige dorpie in die Wes-Kaap, glo in die krag van lekker kos sonder dat dit ten koste van die natuur hoef te wees.

Die naam Fauxmage is ’n prettige woordspeling op die Franse woord vir kaas, fromage, en die bekende term faux, wat “vals” of “nagemaak” beteken. Voeg die twee saam, en jy kry Fauxmage, letterlik vertaal as fopkaas.

Maar waarvan word hierdie kase gemaak as daar geen suiwelprodukte gebruik word nie? Die hoofbestanddeel is kasjoeneute. Wie sou dit kon raai? Oor baie jare heen het Fauxmage hul resepte verfyn en vervolmaak, vasbeslote om die smaak en tekstuur van tradisionele kaas te behou sonder om hul waardes in te boet. Hul kasjoeneutgebaseerde resepte het aan al die vereistes voldoen, en die res is geskiedenis. Die eindresultaat is ’n reeks produkte wat selfs gesoute kaasliefhebbers laat regop sit. Met romerige teksture en sorgvuldig ontwikkelde geure bewys Fauxmage dat suiwelvry beslis nie smaakloos hoef te wees nie.

Fauxmage spog egter met veel meer as net kase. Hul reeks sluit ook botters en olies in. En die beste van alles? Elke produk word met die hand gemaak. Hierdie benadering stel hulle in staat om nie net gehalte te verseker nie, maar ook om hul impak op die omgewing te beperk.

Hierdie nisboerdery omhels ook trots die bekende sêding: “Local is lekker.” Waar moontlik gebruik hulle kruie en bestanddele wat hulle self verbou of plaaslik verkry. Só ondersteun hulle plaaslike produsente en verminder hulle boonop die afstand wat bestanddele moet aflê voordat dit hul eindbestemming bereik.

In ’n wêreld waar groter en vinniger dikwels die norm is, kies Fauxmage om dinge anders te doen. Deur handgemaakte produkte, plaaslike bestanddele en ’n passie vir die natuur te kombineer, bewys hulle dat volhoubaarheid en smaak die pad saam kan stap. Dit is hierdie unieke benadering wat Fauxmage nie net ’n vervaardiger van fopkaas maak nie, maar boonop ’n egte nisboer met ’n storie wat die moeite werd is om te vertel.

Vir meer inligting, volg @fauxmagenutcheese op sosialemedia, besoek www.fauxmage.co.za/ skryf aan info@fauxmage.co.za of bel 060 987 0395.

  • Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.