Skoenlappers | Proteas | Heuning
Vandeesweek is dit tyd vir bytjies, blommetjies – én skoenlappers. Japie van Staden is die man met die plan agter Doornkraal Proteas in Cullinan. Hy vertel hoekom dit nie meer vir Gautengers nodig is om hul proteas “vars” van die Kaap af te bestel nie, en hoekom ‘n mens eintlik sommer jou eie Proteatuin kan begin. Die begin van The Village Market, ‘n verskeidenheid luukse- heuningprodukte, was Portia Mmabatho Morudi se besef dat “as die by van die oppervlak van die aarde af verdwyn, het die mens net vier jaar van lewe oor.” Sy vertel hoe sy met dié enorme gewaarwording en ‘n sonderlinge klein insek ‘n groot en groeiende onderneming tot stand gebring het. Dave Swart se Butterfly Valley in Ramsgate was eers ‘n tropiese vis-plaas wat in ‘n skoenlapperparardys omskep is. Gerugsteun deur Dave se liefde vir die spesie en sy toewyding tot bewaring en opvoeding is dit vandag ‘n suksesvolle onderneming. Hy verduidelik graag hoe ‘n mens, by wyse van spreke, ‘n skoenlapperboerdery van die grond af kan kry – en hou.
Lente is in die lug en die span is lus vir die lewe en gereed om te gaan waar die seisoen hulle neem.
Simonia laat val dat sy gaan kuier by ‘n boer wat met die nasionale blom boer, en Chris laat val ‘n leidraad dat hy nie net meer gaan uitvind oor klein insekkies nie, maar ook, danksy Laeveld Agrochem, oor reuse groentesoorte.
Terwyl Anrich nog nie in soveel woorde sê waarheen hy oppad is nie, gee sy groet – “Kom ek vladder weg” – ‘n mens se verbeelding vleuels…
Skoenlappers
Butterfly Valley, Ramsgate
‘n Paar uur se later land Anrich sagkens by Butterfly Valley in Ramsgate aan die suidkus van KZN waar hy die rustigheid in die lug kan aanvoel.
Gefassineerd kyk hy saam met die eienaar, Dave Swart, hoe skoenlappers uit hul papies te voorskyn kom en hoe hul vlerkies droog word.
Dave verduidelik dat papies in allerlei kleure kom, omdat kamoeflering so belangrik is vir skoenlappers, waarvan daar 12 spesies op Butterfly Valley is. Dit gaan egter nie om die hoeveelheid nie, sê hy, maar om die lewensiklus van die skoenlappers.
Eweneens belangrik, is dat daar ‘n verskeidenheid plante is, omdat verskillende skoenlappers verskillende soorte plante verkies. Die grootste verskeidenheid skoenlappers is in die tuin, waar ook baie van die aanteling plaasvind en waar elke skoenlapper haar spesifieke plantjie kies. “Dit is baie belangrik dat skoenlappers ma’s die regte plante kry om hul eiers op te lê, anders gaan die babas dood,” verduidelik Dave.
Die plaas wat vandag Butterfly Valley is, het hy baie jare gelede gekoop as ‘n tropiese vis-plaas. “Maar, mense wou nie meer vistenks hê nie,” mymer hy, “Kinders wil net Playstation speel.”
Met dié dilemma op hande, het hy na ander opsies begin kyk, en skoenlappers was een van die dinge wat opgekom het – en dit het gebly.
Terwyl Dave verder vertel van sy passie vir dié prentjiemooi spesie, stap hulle na die kweekhuis toe. Daar aangekom, vra Anrich hoekom dit so warm is. Dave verduidelik dat skoenlappers koudbloedig is en dat hulle daarom die hitte nodig het, wat hy kan skep en in stand hou met ‘n spesiale kweekhuis-plastiek.
Volgende gesels Anrich met Dave se regterhand, Chrystel Cilliers, wat haar eers doodgegril het vir wurms, tot die dag wat sy moes uithelp op die plaas. “Nou kyk ek onder elke blaar soos ek loop,” lag sy. “Dit het so op my gegroei. Ek is absoluut baie gelukkig hier.”
Sy en haar medewerkers by Butterfly Valley moet ook omsien na die teetuin en winkel. “Ons moet mense reeds by die deur laat tuisvoel… en hulle geïnteresseerd kry om seker te maak dat hulle die tuine baie meer waardeer,” verduidelik sy.
Op Anrich se vraag of die onderneming winsgewend is, blyk dit dat die opbrengste effens minder skouspelagtig is as die skoenlappers. “Jy gaan nooit ‘n miljoenêr word deur met skoenlappers te teel nie,” sê Dave. “Ons maak ons geld deur toegangsfooie – deur besoekers wat by ons deure inkom.”
Om ‘n bestaan te maak uit skoenlapperboerdery, beklemtoon hy dat dit deurslaggewend belangrik is dat jou onderneming op die toeristeroete is. “As dit nié is nie, gaan jy nie die regte aantal besoekers kry nie,” maan hy.
Sy raad aan aspirant-skoenlapperboere is dat hulle die passie moet hê. As ‘n mens dit nié het nie, mors jy jou tyd. Verder moet jy die natuur geniet. “Die hele insekte-koninkryk is so interessant,” se hy. “As jy eers met skoenlappers begin, stel jy kort voor lank in die insektekant van dinge belang.”
Goliath van Gat-Kompetisie
Terwyl Anrich terugvladder, gesels Chris letterlik groot dinge met Henri Combrinck, die voorsitter van die Cullinan-tak van die Transvaalse Landbou-unie. Dié tak het in 2003 vorendag gekom met die idee van ‘n groot pampoen-kompetisie – ‘n inisiatief wat entoesiasties deur Laeveld Agrochem ondersteun en geborg word.
Veertien jaar later, blyk dit dat ‘n mens ‘n pampoen gaan wees as jy nié aan die Goliath van Gat-kompetisie deelneem nie. Die kweker van die wenpampoen, verduidelik Henri, gaan wegstap met R12 000. Breek die pampoen die SA-rekord, kry hy nóg R15 000 by, en maak die pampoen skoonskip van die wêreldrekord, lag die boer al die pad bank toe met nóg R100 000.
Proteas
Doornkraal Proteas, Cullinan
Simonia is in haar element by die pragtige proteaplaas wat oom Japie van Heerden bykans 20 jaar gelede in Cullinan op die been gebring het, na ‘n lang loopbaan as ‘n ambagsman by die Premier-myn in die area.
“In 1999 het ons die plaas gekoop wat toe ‘n paar plantjies op gehad het,” vertel hy. Hy en sy vrou het die kat uit die boom, of liewer, die protea uit die bos gekyk, en gereken “dit lyk of hierdie bedryf kan werk.”
Proteas synde eie aan die Wes-Kaap, kon ’n mens in daardie stadium nêrens in Gauteng kry nie, verduidelik hy. Maar, hy het dit sy missie gemaak om die nasionale blom noord van die Oranjerivier te kry. Vir die eerste ses jaar het hy nog deeltyds as ambagsman vir Premier gewerk, maar sedertdien is hy voltyds by die proteaboerdery betrokke, en vandag word daar 30 soorte proteas, en nog baie ander blomsoorte, op Doornkraal gekweek.
Oom Japie verduidelik vir Simonia alles en nog wat omtrent die plantproses, maak haar toewys met die snoeiery, en gee vir haar ‘n protea present in die proses.
Simonia se besoek eindig in die skuur, ‘n lushof van kleur en verskeidenheid danksy die konstante toestroming van blomme, desnieteenstaande die seisoensgebondenheid van die verskillende spesies.
Terwyl sy haar verlustig in die gesig, verduidelik oom Japie dat ‘n mens nooit goed soos staal of aluminium in blombakke moet sit nie, omdat dit jou blomme se leeftyd sal verkort.
Op Simonia se vraag hoe hy dit regkry om regdeur die jaar proteas te kweek, antwoord oom Japie dat hy nie “sommer net meer plant nie”. “Ons verste blomme kom van Gansbaai af. Daar is ses verskillende boere in die omgewing wat ons help, en vier boere in die Kaap,” verduidelik hy.
Kom dit by rand en sent, sê oom Japie dat ‘n mens ‘n lewe van proteaboerdery kan maak. “Ek glo nie jy kan ‘n miljoener word nie, maar jy kan ordentlik lewe, en ek glo jy kan vir baie mense werk verskaf.”
Sy raad vir entrepreneurs met proteaplanne is dat hulle die regte blom vir die regte plek moet kry en dat hulle vir raad moet aanklop. “Iemand wat wil boer, moet liewer advies inwin vóór hy begin, anders gaan hy sy vingers brand. Proteaboerdery is nie ‘n maklike ding nie. Ons doen dit al vir 18 jaar.”
Heuning
The Village Market, Winterveld
Met ‘n glinster in sy oog, ‘n wit pak aan en ‘n helm in sy hand, vertel Chris hy is op ‘n baie spesiale plaas in die Noordwes, waar hy saam met Portia (Mmabatho Morudi) gaan korwe skuif.
Met ‘n korf tussen hulle, gesels Chris en Portia oor hoe bye kan aanvoel as mense senuweeagtig is. “Ek sien dit… Wanneer ek ook al te senuweeagtig is, word ek op die ou end gesteek,” sê sy.
Portia beduie vir Chris hoe en hoekom ‘n mens delikaat te werk gaan met bye. Die rook wat gespuit word, laat die bye dink daar is ‘n brand, wat hulle laat voorberei om te vlug. Dís wanneer hulle in die korf ingaan en die heuning begin opsuig, ‘n proses wat hulle lomerig maak.
Van hier af begin die komplekse proses om heuning te maak.
Gewoonlik besoek hulle die korwe een keer elke twee of drie weke om seker te maak dat daar nie kewers is wat die bye pla nie, verduidelik Portia. “Die kewers is nie skadelik nie, maar die bye bestee soveel tyd om teen hulle te stry, in plaas daarvan om heuning te maak. En dit is baie harde werk om heuning te maak.”
Juis daarom, sê sy, sorg hulle ook dat die bye baie ekstra voer kry om hulle in die proses te help.
In die verwerkingskamer, verduidelik Portia dat die tyd van die jaar verby is vir die onttrekking van heuning uit die korwe. Die rou heuning is reeds in emmers, gereed om gebottel te word vir kliënte.
En dis nie sommer sulke emmers nie; elkeen weeg ‘n stewige 30 kg. Terwyl Portia haar verder met die heuning besig hou, vra Chris watter projekte alles uit die byeboerdery voortspruit.
Aanvanklik het sy net bestuiwingsdienste aan boere in die Winterveld verskaf, verduidelik sy. Kort voor lank het sy egter besef sy kan die projek gebruik om armoede in die area te verlig. Met dié het sy, onder meer, begin met opleiding vir die blinde gemeenskap. Sy leer hulle hoe om met bye te boer, en wanneer hulle begin produseer, koop sy die heuning terug.
Portia is ook betrokke by ‘n vennootskap met Elephants, Rhinos & People aan die Mosambiekse grens. “Ons het ‘n byeheining opgerig om olifante te verjaag wat die dorpie daar naby geplunder het,” verduidelik sy.
Maar dit is steeds nie waar haar filantropie ophou nie.
Daar is baie skole rondom die Winterveld, vertel sy. Dit het haar die idee gegee van ‘n opvoedkundige projek waar sy byedemonstrasies gebruik om vir kinders die belangrikheid van harde werk aan die hand van die by-analogie te leer.
Die soet sukses wat Portia vandag beleef en deel, het begin op die einste plaas, waar sy steeds bly, waar hulle desjare so baie bye in die plafon gehad het dat die plafon op die ou end begin insink het.
In 2012 het haar oupa, ‘n boer, besluit om al sy kleinkinders uit te nooi vir ‘n kursus in byeboerdery. “Ek het dit geniet,” erken Portia glimlaggend, “So baie, dat ek my werk bedank het.”
Haar advies aan voornemende byeboere is om te begin met wat hulle het. “Ons het nie enigiemand gehad wat vir ons ondersteuning gegee het, of subsidies nie. Ons het begin met R13 500 om die bye en 10 korwe te koop, en dit was genoeg om ons op die pad na byeboerdery te sit.”
Terug by die spantafel…
Simonia vertel dat proteas eintlik van die Wes-Kaap af kom, maar dat oom Japie besluit het om dit Gauteng toe te bring, en dat hy oor die jare die formule reggekry het om, ten spyte van verskillende spesies se seisoensgebondenheid, die hele jaar lank ‘n volgehoue stroom blomme to produseer. Die insetkoste vir hierdie tipe boerdery is medium, so ook die opbrengs.
Anrich sluit by haar aan op die punt van seisoensgebondenheid, en verduidelik dat Butterfly Valley wel ‘n teetuin en winkel het, maar dat die boerdery in ‘n groot mate afhanklik is van die toeristeseisoen aan die Suidkus van KZN, wat Desember tot Februarie is. Omdat Dave egter die kweekhuis het wat die nodige hitte in kouer maande verskaf, kan besoekers wel heeljaar lank skoenlappers sien. Die insetkoste om met skoenlappers te begin boer, is medium. Die opbrengs is relatief laag.
Met bye, wat ook seisoenaall funksioneer, verduidelik Chris, is die insetkoste laag en die opbrengs medium. Hy is nie net beïndruk met Portia se byeboerdery nie, maar ook met hoe sy dit gebruik om gemeenskappe te bevoordeel.