Rys | Macadamia-neute | Perlemoen
Vandeesweek besoek die span drie ongewone boerderye wat onder meer weens enorme Chinese belangstelling hul eienaars al die pad bank toe laat lag. Die HIK-perlemoenplaas naby Hermanus lewer al bykans 160 ton van hierdie gesogte seeslak nadat die eienaars die geleentheid gesien het om geld in dollars te verdien. ‘n Kortkoppie agter hulle volg Macadamiaboere wat skaars kan voorbly in hul verskaffing van hierdie relatief nuwe neutkultivar om aan die wêreld, en veral China, se vraag te voldoen. Nog ‘n sonderlinge sukses is die plaas van Leon Su, wat nie soseer vir Suid-Afrika wys waar David die wortels gegrawe het nie as om ons, op sy plaas naby Viljoenkroon, te leer hoe om rys te verbou.
Rys
Simonia ontdek rys in Noord-Wes…
Met die eerste besoek van die week bevind Simonia haar op die droë vlaktes van ons Noord-Wes provinsie, waar ‘n mens jou skaars kan indink dat ‘n eksotiese Oosterse gewas, soos rys, sal gedy. Maar, net buite Potchefstroom, aan die oewers van die Mooirivier, gaan dié stapelvoedsel van krag tot krag, danksy Leon Su en sy Mandaryn-sprekende bestuurder, Pierre Coetze.
Leon vertel hy het in 2000 met rys begin boer, hoofsaaklik om voorsiening te maak vir die 52 Chinese mense wat in sy fabriek gewerk het. “Hulle het rys nodig gehad,” beduie hy.
Teen 2014 het hy besef die mark vir rys is enorm. Sy ervaring in die bedryf was reeds gevestig, en kort op die hakke daarvan was die perfekte vennoot – Pierre Coetzee, wat vlot Mandaryns kan praat. Dié taal, vertel hy, het hy geleer toe hy ná universiteit in Taiwan gaan werk het. ‘n Paar jaar later het sy ouers afgetree op hul plaas, ook in Noord-Wes, en hy het gereken dis ‘n goeie geleentheid om terug te kom. En toe hy eers terug is en hoor van Leon, en Leon hoor hy kan Mandaryns praat, was daar geen keer nie.
Op Simonia se vraag hoe hulle saamwerk, antwoord Leon laggend: “Die regtig belangrike ding is dat hy Chinees praat – hy help my so baie.”
Leon wys vir Simonia hoe die saaiproses werk en verduidelik dat warm weer die ideale saaityd is. Van saaityd af neem dit slegs sewe dae voordat klein groen lote kop uitsteek. Simonia waag self haar hand aan rys saai, maar sit ‘n keer of wat in die modder vas – ‘n dilemma waaruit Leon haar galant help.
Met Simonia op haar voete, besoek hulle die fabriek waar ‘n aantal masjiene die rys verwerk – van die buitevelletjie wat afgestroop word tot die afwerking van die bruin- en witrys.
Les bes, terwyl Simonia weglê aan Leon se watertand eindproduk, wys hy vir haar van sy verpakte produkte en vertel dat sy boerdery baie winsgewend is. “’n Mens kan geld maak, groot geld,” sê hy. “Ek maak R120 000 per hektaar.”
Laeveld Agrochem Proefplaas: Wat om te doen as onkruid kop uitsteek…
Volgende aan die beurt is Anrich, wat kers opsteek oor onkruid by die enigste roos onder die dorings, oftewel Leana van Laeveld Agrochem, wat vir hom verduidelik hoekom onkruid so ‘n pes is. In die eerste plek kompeteer dit met die plant vir voedingstowwe en tweedens is dit ‘n draer van peste en plae. Les bes vertel sy hoe om klaar te speel met die probleem.
Macadamia-neute
Anrich vind uit hoe ‘n mens ‘n plaas se geld kan maak met macadamia-neute…
Anrich se volgende bestemming is die macadamia-plaas van Bossie en Heidi Kruger in die Tzaneen-omgewing. Bossie vertel hy was eers ‘n polisieman, maar het 13 jaar gelede bedank en toe ‘n besigheid op die dorp begin. Hy en Heidi bly egter al baie jare lank op die plaas, ‘n familieplaas, en het uiteindelik besluit om dit te koop.
Sedertdien het hulle baie veranderinge aangebring en besluit om te spesialiseer. “Ons moes besluit watter gewas pas ons beter, watter een geniet ons meer om mee te boer, en met watter een boer ons relatief maklik,” vertel hy. Op al hierdie vrae was macadamia-neute die antwoord.
Hoewel die plaas oorspronklik lemoene en later gemengde gewasse verbou het, was daar reeds ‘n boord macadamia-bome wat sowat 50 jaar gelede geplant is. En terwyl Bossie hom steeds besig gehou het met avokodo’s en lietsjies, het die bome bly groei.
Terselfdertyd het macadia-neute ‘n groot en groeiende tendens geword, wat beteken het Bossie was gereed met die regte gewas op die regte tyd.
Tussen die stappery deur, verduidelik Bossie vir Anrich hoedat een spesie macadamia-neut op ‘n ander ingeënt kan word, en hoe die macadamia ontwikkel van blom tot wat hy beskryf as “heerlike groot soet neute”.
Die macadamia se grootste bedreiging, vertel hy, is die stinkbesie. Hy probeer egter so min as moontlik gif spuit, en probeer eerder die plaag natuurlik onder beheer bring en hou met ‘n kolonie vlermuise.
Kom dit by oestyd, doen die macadamia-boom die eerste deel van die werk self: wanneer die neute gereed is, gooi die boom dit af. “Wanneer die neute die oggend geval het, word dit opgetel,” vertel Bossie. Daarna gaan dit skuur toe waar uitgedop, verwerk en verpak word.
Hoewel die Krugers hul winsgewende macadamia-boerdery gate uit geniet, is dit nie vir sissies nie.
“Voordat jy enige boom in die grond kan sit, moet jy hom bestel,” verduidelik Bossie. “En dit kan tot twee jaar vat voor die boompie by jou uitkom – dit is ‘n gevolg van die aanvraag in hierdie stadium. Grond is duur, en om die regte grond op die regte plek te kry, is moeilik. Dan moet jy twee jaar wag vir ‘n boompie om te arriveer en nog vyf tot ses voordat hy begin neute lewer.”
Desnieteenstaande, sê Bossie, is sy en Heidi se besluit om in macadamia-neute te spesialiseer die beste besluit wat hulle nog ooit gemaak het.
Anrich, met ‘n paar neute agter die blad en ‘n laaste blik op die prentjiemooi omgewing, se gevolgtrekking is eenvoudig: “Die macadamias groei so lekker, want hulle bly so lekker.” En daarom smaak hulle natuurlik so lekker.
Perlemoen
Chris verken perlemoen op droë grond…
Chris bevind hom in ‘n winderige Hermanus waar hy meer wil uitvind omtrent perlemoenboerdery. Die boerdery wat hy gaan besoek, HIK Abalone, vertel hy, is beslis nie ‘n kleinboerdery nie. Die feit dat perlemoenboerdery 20 jaar gelede nog glad nie bestaan het nie, beteken egter dit is wel ‘n nisboerdery.
HIK Abalone is in die laat 90’s begin. In daardie stadium was hul hoofaandeelhouers konstruksiemense wat rede gesoek het om te diversifiseer en ‘n dollar-inkomste te verdien.
Tussen die geselsery deur, neem ….. vir Chris na die broeikamer waar meestal wilde-perlemoen, wat HIK met spesiale permitte uit die see verkry, die lang en moeisame proses van perlemoen kweek aan die gang kry. Daarna word die eiers en sperme bymekaargesit om ‘n larwe te vorm. Van daar af gaan die larwe deur ‘n verskeidenheid voedings- en groeifases wat van 18 maande tot twee jaar neem, en waartydens hulle baie noukeurig en sorgvuldig versorg word.
Uiteindelik beland die kosbare oes in die fabriek. Na enigiets van 36 tot 8 maande weeg ‘n eenheid perlemoen sowat 105g. In daardie stadium word besluit of die perlemoen lewendig of geblik verpak gaan word.
Na 48 uur, waartydens die skulpdiere se stelsels gereinig word, word die meerderheid verpak in bokse wat gevul word met suiwer suurstof en ys. Daarna gaan dit lughawe toe en 50 uur later land dit in Hongkong. En, as alles reg verloop het, leef al die permoen nog.
HIK Perlemoen lewer 150 tot 160 ton per jaar. 50% hiervan word lewendig uitgvoer, 30% word ingelê, en 20% word gedroog of vir verskeie ander produkte gebruik.
Die proeslag beïndruk vir Chris ietwat minder as die produksieproses. Die rede hiervoor is moontlik die feit dat dié gesogte produk se mark merendeels in Asië is, wat beteken HIK moet die Oosterse smaak in ag neem met die ontwikkeling van hul produkvariante.
Kom dit by raad vir aspirant perlemoenboere, is …. se aanbeveling eenvoudig: “Kry sterk finansiële backers. Dis moeilik.”
“Dit gaan vyf jaar neem voordat jy begin produkuseer, verduidelik hy. En baie lank om al die resepte reg te kry. Intussen is die kapitaalinset hoog om die nodige infrastruktuur te skep.”
Groot ervarings, groot gevolgtrekkings…
Terug by mekaar, doen die span verslag oor hul ervarings. Chris is eerste aan die beurt en vertel van die onversadigbare mark wat HIK in China gevind het, en van al die variante – van lewendig tot vakuum-verpak – wat hulle “top dollar” in die sak bring.
Anrich vertel dat Bossie Kruger eweneens ‘n enorme uitvoermark in China het, wat daarop dui dat dié reuse-land waarskynlik ‘n ewe groot tree in die regte rigting kan wees vir nisboere wat groot wil gaan.
Les bes vertel Simonia van Leon Su se rysplaas in Potchefstroom, wat klein begin het omdat hy eers presies moes uitvind hoe om die gewas hier te verbou, maar dat dit nou van krag tot krag gaan en miskien selfs die mieliemark die stryd kan aansê.