Bapedi-skape | Colbrooke-varke | Hoenders
Bapedi-skape
Frikkie van Kraayenburg se plaas Grehenheim is pure Bosveld – en dit is die tuiste van beeste, hoenders en skape, laasgenoemde synde die rede waarom Nisboere besoek aflê.
Soos gewoonlik begin Anrich by die begin: Hoe en hoekom het die Van Kraayenburgs met die boerdery begin? Dekades gelede het hy begin besef hoe gevaarlik preserveermiddels is, vertel hy. Hy en sy vrou het trouens reeds voor hul troue besluit om dié voedsel-gevaarfaktor so ver as moontlik uit hul leefstyl te sny.
En wat is die storie agter die Bapedi-skape? Frikkie vertel hulle het aanvanklik eers met ‘n ander ras begin. Vyf jaar later kon hulle egter bitter min wys vir hul belegging: een skaap wat hulle geëet het, die res wat gevrek het en ‘n hemelhoë veearts-rekening.
Daarna het hulle op Bapedi besluit en nog nooit teruggekyk nie. Dié ras betaan reeds sowat 1 500 jaar lank in die gebied en het ‘n hoë immuniteit. Gevolglik het hul prentjie na nóg vyf jaar heel anders gelyk: daar was 40 skape, waarvan die Van Kraayenburgs 20 geëet en net twee verloor het. Die trop is nog nooit ontwurm nie en was nog nooit siek nie. Trouens, sê Frikkie, hy het tot dusver “zero veeartskoste”. Daar is net een effense nadeel: terwyl ander skaaprasse op sowat ses maande geslag kan word, moet ’n mens met Bapedi 11 tot 14 maande wag.
Interessant genoeg kom hierdie ras, wat so goed in die Bosveld aard, oorspronklik van Egipte af. “Sowat 2 000 jaar gelede het hulle in Afrika begin afbeweeg,” vertel Frikkie. “By die Kongo het hulle afgesplit in twee – met een ras wat uiteindelik hier uitgekom het.”
Nog ‘n interessante kenmerk van die Bapedi is sy vet stert wat sorg vir energie in maer jare. Aan die einde van ‘n droë seisoen kan ‘n mens letterlik sien hoeveel dunner hulle sterte is,” sê hy.
Frikkie se raad aan aspirant Bapedi-boere is om te begin met ‘n topram waarvoor jy tussen R5 000 en R7 000 moet begroot. Hy wys egter daarop dat dit moeilik is om ‘n totale boerdery uitsluitlik met Bapedi’s te bedryf. Dit kan ‘n uitstekende aanvulling tot jou pensioen of ‘n bestaande inkomste wees, is sy raad.
Colbrooke-varke
Zenzele Farm | Kolbroek-varke
Met sy kop vol kennis oor natuurlike plaagebeheer, gaan kuier Chris by Zenzele Farm waar Jens Giebelman boer met, onder meer, Kolbroek-varke.
Dié ras kom oorspronklik van Portugal af. En die naam? ‘n Gerug, vertel Giebelman met ‘n glimlag, het lank die rondte gedoen dat ‘n skip genaamd die Colbrooke gesink, en al die varke aan boord land toe geswem het. Wat eintik gebeur het, reken hy, is dat die ras saam met die oorspronklike Portugese setlaars hier aangekom het en dat hulle eenvoudig van daar af verder geteel het.
Die voordeel van Kolbroek- bo ander varke is dat hulle basies hulself voer, onder meer deur na wortels te soek, en wurms en akkers te vreet. Jens hoef net vir sowat 10% van die voer voorsiening te maak. Veeartskoste is laag, danksy die feit dat Kolbroek-varke baie minder gereeld as gewone varke ontwurm hoef te word. Teelkoste is eweneens laag, die vleis is lekker en die grond wat jy nodig het, nie buitensporig baie nie. Jens hou nege varke op 1½ hektaar aan.
‘n Onmisbare deel van die 1½ hektaar is die modderpoel. Dit is baie belangrik vir siektebeheer – en natuurlik vir die trop se pret en plesier, veral met die Bosveld se warm somers.
So, wat het ‘n mens nodig om met Kolbroek-varke te boer, en wat het die varke van jou nodig? Koop jy ‘n klompie klein varkies teen tussen
R1 000 en R2 000 stuk, kan jy na sowat ‘n jaar jou eerste werpsel verwag. Voergewys moet jy R10 – R15 000 per maand begroot. Oorhoofs gesien, sê Jens, kan jy met ses sôe en een beer uitsien na 90 varkies per jaar – en ‘n stewige kapitaalopbrengs.
Hoenders
Kraayenburg | Hoenderboerdery
Terwyl Chris besef varke kan helaas nie vlieg nie, maar hulle kan geld maak, is dit Simonia se beurt om by Kameeldrift aan te klop – hierdie keer om meer uit te vind van Frikkie van Kraayenburg se hoenderboerdery.
Vir hierdie vertakking van sy veelsydige onderneming, sê Frikkie, is absolute suiwer lyne deurslaggewend belangrik. “Dis die enigste grondslag waarop kleinboere teen groot maatskappye kan meeding,” verduidelik hy.
Dit is juis hierom dat die onderneming se toerusting en metodes uit die boonste rakke is – van spesiaal-ontwerpte hokke met sonpanele en beheermodules tot broeikaste met temperatuurbeheer – en natuurlik elke dag twee of drie uur se skroptyd vir die hoenders!
Frikkie se raad aan entoesiastiese hoenderboere is kort, kragtig en drieledig: Begin klein, bou jou besigheid van binne af op en kry goeie-kwaliteit rasse.