DINK GRÓÓT

Seisoen 1 | Episode 6

Krokodille | Skaarswild | Forel

Voordat hulle op hul onderskeie ekspedisies vertrek, filosofeer die span bolangs oor vakansiegangers, toerisme en nisboerdery. Chris is opgewonde oor die advies wat hy by Laeveld Agrochem se besproeiingdeskundige gaan kry. Anrich kry by voorbaat lekker vir sy eksotiese bestemming. En Simonia kry rillings en grillings by die blote gedagte aan haar nisprojek vir die week. Sy vat die pad voordat Anrich en Chris haar daaruit praat – min wetende dat sy kort voor lank krokodilvel gaan streel!

 
KROKODILLE – Le Bonheur Crocodile Farm

Simonia staar haar vrese in die gesig deur besoek af te lê by Le Bonheur in Simondium in die Wes-Kaap. Dié wêreldberoemde krokodilplaas is 30 jaar gelede begin deur die eienares, Elzette, en haar man. Hul trekpleister, vertel sy, was die hoë pryse wat krokodilvel reeds in daardie stadium op internasionale markte behaal het. 

Desjare was daar egter geen krokodille in die Wes-Kaapse riviere nie, wat beteken het sy en haar wederhelf moes al die pad Botswana toe reis om voorraad aan te koop by ‘n boer wat die reptiele in die vlei- en moeraslande geteel het. Die lelike gediertes, vertel sy, is met groot moeite en teen groot onkoste na die mooiste Kaap vervoer, en dit was die begin van Le Bonheur.

Terwyl die plaas gegroei het, was die situasie steeds nie ideaal nie – die grootste probleem synde die lang, koue Kaapse winters, vertel Elzette.  Vyf jaar later het hulle besluit om die teelbedrywighede na Limpopo se meer subtropiese klimaat te verskuif, met die res van die aktiwiteite wat steeds in die Kaap bly.

Vandag pronk Le Bonheur met 1 000 krokodille – en meer as 30 000 toeriste (waarvan 50% van oorsee kom) wat jaarliks besoek aflê en hulle verlustig in alles van begeleide krokodildam-toere en krok-hokduik tot krokodille streel… soos wat Simonia toe nou doen met Charlie, een van die baba-krok ambassadeurs wat daaraan gewoond is dat mense aan hulle vat. (Dit is eintlik nice, was haar gevolgtrekking, maar sy sal hom nog nie as ‘n speelding in haar swembad aanhou nie.)

Begin die honger knaag (by die mense, nie die krokodille nie), is daar ‘n pizzeria met ‘n pragtige tuin en veilige speelplek vir kinders. Piekniekgangers kan ‘n piekniekmandjie reël wat met ‘n gratis visvangvoordeel gepaard gaan (daar is ‘n dam vol tilapia en baars), en daar is ook braaigeriewe.

Begin die kooplus byt, is daar ‘n winkel wat pronk met alles van krokodilvelhandsakke vir modebewustes (teen ‘n gemiddeld van R16 000 per handsak) tot krokodilolie – en -room vir probleemvelle – vir meer begrotingbewuste besoekers.

Terwyl Le Bonheur hoofsaaklik gerig is op ‘n verskeidenheid van pret en plesier, beklemtoon Elzette dat kennis van en opvoeding rondom hierdie sonderlinge reptielspesies en hul bewaring eweneens belangrik is.

 
SKAARS WILD – Arc-en-Ciel Game Breeders

Terwyl Simonia wik en weeg of sy gereed is om weer die jongste Charlie te streel, gesels Anrich land en sand met Fernando Rueda, die eienaar van die skaars-wild plaas, Arc-en-Ciel (die Frans vir “reënboog”) aan die voet van die Groenberg in die Wellington-area.

As ‘n klein seuntjie het Fernando se ouers Suid-Afrika toe geëmigreer, en oor die jare het hy nie net baie lief geword vir die land nie, maar ook vir die fassinerende verskeidenheid skaars wild. Vandag boer hy en sy vrou met alles van baster blesbokke en buffels tot goue wildebeeste.

Gedryf deur die strewe na hoë-gehalte diere wat hoë waardes behaal, is dit ‘n potensieel winsgewende bedryf. Dit is egter nie sonder gevaar nie.  Tydens ‘n rit op ‘n oop viertrek-voertuig verduidelik plaasbestuurder, Schutz Marais, vir Anrich dat ‘n mens jou storie moet ken as jy, byvoorbeeld, buffels wil voer. Die rede? Dié diere sien mense nie as weerstand nie – as hulle kos sien, storm hulle!

Marais beaam dat dit meer lonend kan wees om met skaars as gewone wild te boer. Kom dit by die komplekse teelproses, sê hy, is dit egter nie so eenvoudig soos om ‘n groot bul by ‘n groot koei te sit en ‘n groot nageslag te verwag nie. Hy wys daarop dat die Suid-Afrikaans skaars-wild bedryf in hierdie opsig nog baie jonk is – wat beteken daar is ruimte vir groei en vooruitgang.

 
FOREL – Lunsklip

Chris is in die sewende hemel tussen berg en rivier op die forelplaas Lunsklip – een van die eerste forelplase in die land wat in 1971 deur Gerrie en Hannetjie van der Merwe begin is. Die plaas is geleë in die Kwena-opvanggebied tussen Dullstroom en Lydenburg in Mpumalanga en is bekend vir sy suiwer watergehalte en omgewingsvriendelike en volhoubare boerderypraktyke.

Gerrie en Hannetjie het mekaar op universiteit ontmoet, waar hy landbou gestudeer en later ook baie navorsing oor forelboerdery gedoen het. Terwyl Hannetjie aanvanklik vir haar ma gesê het sy wil nooit met ‘n boer trou nie omdat boerdery so ‘n gesukkel is, het die liefde oorwin en sy en Gerrie het kort voor lank voor die kansel gestaan. Dit was egter nie maklik nie, vertel sy. Soms is hy vyf-uur die oggend al by die huis uit om na agt saans eers terug te kom.

Al die harde werk het egter oorvloedige vrugte, of liewer visse, afgewerp. In die middel 1990’s het die Van der Merwes se seuns, Stephan en Rainier, by hulle aangesluit en saam het die gesin die Lunsklip Groep van Maatskappye gestig wat lewendige, asook verwerkte forel vir die Suid-Afrikaanse mark, en siektevrye gesertifiseerde foreleiers aan internasionale mark, verskaf.

Terug by mekaar, is die span dit roerend eens dat die band tussen nisboerdery en toerisme inderdaad sterk en vol potensiaal is.

Terug na episodes