Haasboerdery | Slange | Eksotiese voëls



In episode 5 is daar hase wat nie uit hoede kom nie, slange wat nie in die gras wag nie en voëls wat nie naastenby van eenderse vere is nie. Sluit aan by Simonia, Anrich en Chris op hul besoeke aan eksotiese nisondernemings en vind uit wat dié tipe boerderye behels wanneer dit kom by inset- en instandhoudingskoste, en wat 'n mens te wagte kan wees in terme van winsgewendheid.
Haasboerdery
That Bunny Farm
Simonia is eerste aan die beurt met haar besoek aan That Bunny Farm, waar sy tot haar verbasing uitvind dat hasies nie regtig wortels eet soos ons altyd in stories lees nie. Eweneens verrassend is die storie van die eienares, wat ‘n werklose sjef was, en boonop allergies vir die hoenders waarmee haar familie geboer het. Die haasplaas, vertel sy, was te koop, sy het verlief geraak en die res is geskiedenis.
Shirae Verster het ook ‘n paar waardevolle wenke vir voornemende haasboere: Koop hase met goeie genetiese bloedlyne. Wees gereed vir ‘n baie arbeidsintensiewe onderneming, veral wanneer dit kom by aanteel, voeding en versorging. En behandel die diertjies met respek. Elke hasie se volledige besonderhede moet op sy of haar hok wees, en op jou rekenaar. Die pryse van hase begin by R350, tot ‘n hele paar duisend vir duurder bloedlyne, en Shirae Verster verkoop 40 tot 50 hasies per maand, asook hul bybehore en kos, by die winkel op die perseel.
Slange
Slange
Anrich het gaan besoek aflê by die Van Wyk-gesin in Pretoria, waar die 15-jarige Tjokkie die trotse eienaar is van 400 slange wat hy in drie motorhuise aanhou en met groot toewyding en noukeurigheid versorg – van die laaie waarin hulle teen konstant-gemoniteerde temperature gehou word, tot die muise waarvan elke slang een per week kry, en wat deur sy ouma geteel word.
Die geheim van Tjokkie se sukses is dat hy klein begin het. Sy besigheid is kaipitaalintensief. Dit verg harde werk en, bowenal, ‘n passie vir reptiele. Die beloning is dat hy sy slange verkoop vir enigiets vanaf R350 tot R100 000, hetsy by ekspo’s, aanlyn of aan die snelgroeiende oorsese mark.
Eksotiese voëls
Bird Paradise
Chris het ‘n draai gemaak by Bird Paradise waar Jacques en Elrene Steyn met eksotiese voëls boer. Die onderneming het as ‘n stokperdjie begin, met een ara-papegaai (“macaw”). Vandag staan dit sterk as ‘n volwaardige teel-en-verkoop-onderneming, asook ‘n toeriste-aantreklikheid (kompleet met ‘n restaurant) wat ‘n verskeidenheid eksotiese voëls verkoop, maar hoofsaaklik ara-papegaaie, wat die Steyns se primêre inkomste genereer.
Jacques se raad aan ara-papegaai-entrepreneurs is om by die begin te begin – met die regte voëls wat by jou en by die omgewing pas. “Koop die beste voëls by goeie voëlhandelaars en begin klein”, sê hy. Die onderneming is winsgewend, voeg hy by. “Met lone en kostes ingesluit, kan jy werk op ‘n winsgrens van sowat 50 tot 60%.”