DINK GRÓÓT

Seisoen 1 | Episode 4

Buffels | Konyne | Kwaggas

Buffels

In episode 4 pak die span Ietterlik die bul by die horings met ‘n bielie van ‘n uitdaging: Om uit te vind wie dit is wat help om van die wêreld ‘n beter plek te maak, en waar dit alles gebeur. Terwyl Simonia haar slag wys met grondvoorbereiding op Laeveld Agrochem se proefplaas, ontdek Anrich ‘n wonderwêreld aan die oewers van die Bergrivier waar silwerskoon buffels geteel word en ‘n uitgestorwe sub-spesie letterlik nuwe lewe kry. Intussen ontdek Chris baie meer as net die verskil tussen ‘n haas en ‘n konyn…

Aangevuur deur Simonia se uitdaging om uit te vind wie van die wêreld ‘n beter plek maak, gaan kuier Anrich by Albie en Nick op Melkplaas, hul duisend-hektaar plaas aan die oewers van die Bergrivier. Dié twee voormalige advokate van die Kaapse balie is ‘n klompie jare gelede deur die wildgogga gebyt, en vandag behels ‘n groot deel van hul formidabele boerdery die teel van siektevrye buffels – ‘n onderneming wat nie so vanselfsprekend is soos dit klink nie. 

Die meerderheid buffels in Suid-Afrika, insluitend dié in die Kruger-wildtuin, is besmet met ‘n verskeidenheid siektes wat nie net die voortbestaan van die spesie bedreig nie, maar ook potensieel ‘n negatiewe impak op die ekonomie het, gegewe die astronomiese pryse wat wild op plaaslike, sowel as internasionale veilings behaal.

Albie en Nick het hierdie uitdaging egter letterlik by die horings gepak en ‘n reuse sukses daarvan gemaak.

Konyne

Terwyl Anrich hom verlustig in die wye vlaktes wat ‘n nuwe geslag skoon buffels nodig het om te floreer, besoek Chris Zenzele – die tuiste van Sally en Jens – en die Pendula-konyn.  

Ten spyte van ‘n stadige begin weens ‘n tekort aan konyne wat Suid-Afrika in ‘n stadium ervaar het, het die egpaar uiteindelik daarin geslaag om ‘n groter en beter gehalte spesie te kweek wat besig is om ‘n rewolusionêre skakel in Afrika se voedselsekuriteitketting te word.

Vandag pronk Zenzele, op ‘n relatief klein ruimte, met 15 mannetjies en tussen 100 en 150 wyfies wat met groot toewyding en presisie geteel, versorg en verkoop word.

Pendulas moet voldoen aan streng vereistes wat deur die Suid-Afrikaanse Konynbeoordelaarsraad gestel word betreffende hul kleur, tipe pels, gewig en so meer. Hulle optimum dieet is ‘n kombinasie van hawer, klawer en lusern wat gemeng is met onkruid en wat Sally self verbou op Zenzele, wat nie om dowe neute die Zoeloe-ekwivalent van “doen dit self” is nie. As ‘n mens nie self aan 80% van jou lewendehawe se voedingsbehoeftes voldoen nie, sê Sally, gaan jy sukkel om die mas op te kom.

Die resultaat van Sally en Jens se toewyding is diertjies wat nie net goed lyk en smaak nie, maar supergesond is, met meer proteïene en minder vet as soortgelyke voedingsbronne, asook hoë vlakke van vitamiene en minerale.

Sally se raad aan gesinne wat selfonderhoudend wil wees deur hulself van ‘n hoë-gehalte proteïenryke vleissoort wil voorsien, is om stadig te begin en dit klein te hou. Net twee mannetjie en wyfies, wat ses werpsels per jaar met sowat ses kleintjies per werpsel lewer, is meer as genoeg om ‘n klein gesin permanent van vleis te voorsien – en die beweging na voedselsekuriteit nog ‘n paar tree verder te neem.

Kwaggas

In die laaste deel van die program is Anrich terug op Melkplaas, waar hy meer uitvind omtrent ‘n projek wat letterlik besig is om die geskiedenis te herskryf. Afgesien van hul buffel-inisiatief, is Albie en Nick besig om ook baanbrekerswerk te doen met hul kwaggateel-projek. Die kwagga het in 1883 uitgesterf, maar danksy die egpaar se onvermoeide passie en toewyding, en die genetiese bydrae van die verlangs-verwante sebra, is dié eens verlore spesie nou weer besig om stadig maar seker te groei.

Teen sowat R580 000 per individuele kwagga, is dit ‘n nisboerdery wat plus-minus ‘n plaas se geld kos. Maar vir Albie en Nick is dit nie die geld wat tel nie – dit is die feit dan hulle kan help om ‘n misterieuse, majestueuse dier te laat herleef.

Terug na episodes