Appelliefies | Essensiële olies | Organiese boerdery
Vandeesweek maak die hele span ‘n Kaapse draai om die “fyner” dinge in die lewe te gaan verken. Simonia sien uit daarna om organiese kwepers te proe, iets wat nie vir Anrich en Chris juis opgewonde maak nie. Anrich laat val dat hy iets gaan “voel” en Chris erken prontuit hy gaan die wel en wee, meestal wel, van ‘n appelliefieplaas verken – en tussendeur ook tyd maak om by Laeveld Agrochem se deskundige raad te kry oor grondvoorbereiding.
Appelliefies
Keisie Valley Gooseberries
Chris lê besoek af by William Pulles se appelliefieplaas, Keisie Valley Gooseberries. Keisie Valley, vertel William, was eers ‘n appelplaas, maar hy het besluit om liewer te soek na ‘n produk wat meer waarde het. Sy keuse het geval op appelliefies, en hy het nog nie weer teruggekyk nie.
Na ‘n wandeling in die boord, is Chris en William se volgende bestemming die pakstoor, waar ‘n span dames se hande vir niks verkeerd staan nie. Van die boord af, vertel William, gaan die vrugte na die pakstoor, waar dit onmiddellik in die koelkamer gesit word teen 12 grade Celsius. Die rede hiervoor is om die rakleeftyd te verleng vir die groot supermarkkettings waaraan William sy gesogte produk verkoop.
Wanneer die appelliefies uit die koelkamer kom, word hulle uitgedop en geklassifiseer, hoofsaaklik op grond van kleur, maar ook volgens fisiese eienskappe – ‘n gebarste of gebreekte bessie sal eenvoudig nie deug nie. Tweedegraadse bessies word gevries, terwyl eerstegraadse appelliefies vars verpak word vir direkte verkope aan die publiek.
Van daar af, verduidelik William, gaan die produk na die konfytfabrieke.
Die kleinste ruimte vir verbouing wat jy tot jou beskikking moet hê, vertel hy, is 3 hektaar, en die grootste sowat 20. Die insetkoste per hektaar hang af van faktore soos of jy besproeiing het en kunsmis gebruik. En die onderneming is hoogs winsgewend.
Die hoogtepunt van die besoek, is wanneer Chris die produk proe en tot die gevolgtrekking kom dat die “Kaap se hart appelliefies klop”!
Essensiële olies
Cape Mountain Oils
Terwyl Chris die soet vrugte van William en sy span se arbeid proe, lê Anrich besoek af by oom Jaap en tant Stoffelina Moses op hul plaas, Cape Mountain Oils, aan die randjie van die Sederberge. Beide oom Japie en tant Stoffelina is daar gebore, en so lief soos wat hulle vir hul geboorteplek is, is hulle vir die kruie wat in die omgewing floreer. Dit is trouens juis hul liefde vir kruie wat die begin was van Cape Mountain Oils.
Dit is ‘n verskriklike lekker werk, vertel oom Japie. Hy geniet elke hoekie en draaitjie van sy plaas en hy is hoogs kundig wanneer dit kom by die helende eienskappe van die kruie wat om hom floreer.
Hy is ewe knap wanneer dit by die snyslag kom, en demonstreer vir Anrich hoe jy op ‘n bos moet gaan sit soos ‘n skaap voor hom jy hom begin oes.
Na die oes word die plante in ‘n groot drukkoker teen net die regte temperatuur oor ‘n gasvlam verhit, met oom Jaap wat stip na die drukmeters kyk om seker te maak dat die temperatuur gehandhaaf word. Van daar af loop die olie na ‘n houer waar dit van die water geskei word. En op lange laas – enorme hoeveelhede kruie later – het jy die finale produk: heerlike, welriekende essensiële olie. 12ml suiwer sneeubosolie word verkoop teen R50 en 12ml laventolie teen R40.
Op Anrich se vraag of ‘n mens hierdie tipe boerdery van die huis af kan doen, antwoord oom Jaap dat mens inderdaad kan begin met jou tuin. “Net ‘n bietjie olie – klein bietjies,” sê hy. “Daar’s ‘n olie vir elke dingetjie.”
Organiese boerdery
Tierhoek cottages & organic farm, Porterville
Toe Bruce en Alison Gilson dié prentjiemooi plaas in 1998 gekoop het, was dit ‘n perskeplaas wat uitsluitlik inmaakvrugte gelewer het. Die Gilsons het egter besluit om “organies te gaan”, omdat hulle ‘n verskil wou maak. “Om ‘n klein plaas in die toekoms in te neem, kon ons nie net op inmaak staatmaak nie,” vertel hy. Want hoewel die plaas 1 000 hektaar groot is, kan slegs 25 tot 38 hektaar daarvan bewerk word.
Deel van die uitdaging van organiese boerdery is die volgehoue poging om voordelige insekte te behou en swamme en soortgelyke tipes toestande te beheer. Eweneens belangrik, is die optimalisering van die grond. “Gesonde grond is gelykstaande aan ‘n gesonde boom,” sê Bruce.
Met organiese boerdery, verduidelik hy, is jou insetkoste minder, maar jou tonnemaat is laer, hoewel ‘n mens op die ou end plus-minus gelyk speel.
Tussen die geselsery deur neem Bruce vir Simonia deur sy Shiraz-wingerd. En ‘n mens kan sien dis organies, verduidelik hy, want daar is onkruid oral, omdat hy geen onkruiddoders gebruik nie. Kunsmis word eweneens soos die runderpes vermy – die grond word net met kompos, guano en ‘n deklaag bemes. Die resultaat, sê én wys Bruce, is pragtige, sagte, donserige grond vol “goggos”, met ‘n lieflike aardse reuk wat Simonia reken ook sommer eksie-perfeksie sal wees om in te speel.
Op Simonia se vraag of die plaas winsgewend is, antwoord hy dat hulle nie tonne geld maak nie, en dat dit ook nie hulle doel is nie, maar dat hulle ‘n goeie lewe het. Saam met die Gilsons op die plaas, bly vier families. “Hulle is die mense wat dit laat werk,” sê Bruce.
Sy advies aan aspirant organiese boere is om die saak ontspanne te benader met die oortuiging dat hulle dit kan doen. ‘n Mens het selfvertroue nodig, sê hy.
Op hierdie hoë noot neem hy vir Simonia na die droëvrugte- en konfytafdelings toe.
En dan is dit proetyd. Simonia se mond water ten aanskoue van Tierhoek se verleidelike produkte-aanbiedinge wat deur Alison verduidelik word. Eerste aan die beurt is die kweperkonfyt met sy pienk kleur en sonderlinge geur en smaak wat vir Simonia eindeloos beïndruk. Ewe lekker en meer ongewoon is die gedroogde naartjie waarvan sy amper nie genoeg kan kry nie. Nog ‘n Tierhoek-nuutjie is gedroogde uie, wat, saam die sondroë tamaties wat Tierhoek ook vervaardig, nie net hoogs smaaklik is nie, maar ideaal vir kampeerders wat nie groente wil saamkarwei nie, maar steeds die smake in hul kos wil proe.
Alison sê sy en Bruce is trots op die feit dat hulle so ‘n wye reeks kan verkoop en steeds die goeie smake, lang raklewe, kleur en gehalte kan behou.
Wanneer die span weer bymekaarkom, is die een meer beïndruk as die ander. Anrich vertel dat Jaap en Stoffelina Moses reeds 15 jaar lank essensiële olies vervaardig. Hoeveel geld hulle maak, is moeilik om te bepaal omdat ‘n mens so baie kruie nodig het om ‘n miniskule hoeveelheid olie te lewer. “As jy groot wil gaan, sal jy groter masjiene en bemarkings- en uitvoerplanne moet hê,” reken hy.
Chris wys daarop dat meeste mense deesdae essensiële olies in hul huise het en dat die oorsese mark nog nie behoorlik verken is nie, terwyl Simonia wys op die enorme potensiaal vir die gesondheidsmark.
Dan is dit Chris se beurt om sy entoesiasme oor die appelliefieboerdery te deel. Dié onderneming is arbeidsintensief en die wins is hoog, vertel hy, gegewe die feit dat William nie kan voorbly met sy produk vir groot supermarkte nie. “As ek my geld moes wed, sou ek dit op appelliefies gesit het,” sê hy.