Miniatuurperde | Alpakkas | Diskus-visse



Miniatuurperde
Chris en Coralezet Erasmus se boerdery met miniatuurperde is in 1984 begin as ‘n voortbouing op haar oupa, Koos Johnstone, se nalatenskap. Oupa Koos was van Skotse afkoms, en ‘n resiesperdteler wat elke dan en wan ‘n Engelse ponietipe aangekoop het wat afsonderlik as ‘n trop op die familieplaas in Amersfoort aangehou is om kinderperde vir sy kleinkinders te teel.
Coralezet was een van die kleinkinders waarvoor Oupa Koos sy poniekudde op die been gebring het. Sy was nog altyd lief vir perde, en het lank mededingend groter perde gery, maar die miniatuurperde was vir haar ‘n besonderse uitdaging: sy wou dié spesie teel sodat dit met enige groter perdeklas kon meeding. En dit is wat sy steeds doen.
Miniatuurperde, vertel sy, word uitstekend gebruik om selfvertroue te bou by jong kinders, en hulle maak eersteklas troeteldiere wat sommer by jou huis sal instap om ‘n lekkerny te kom bedel.
As teller, is Coralezet versigtig om nie ‘n vermenigvuldiger van perde te wees nie, maar ‘n teler van topgehalte diere. Sy hou 20 miniatuurperde aan en mik om tussen vyf en agt vullens per jaar te kry.
Die Erasmusse se plaas beslaan 25 hektaar, waarvan 5 hektaar die perde se area, insluitend weikampe en die stalarea, is. Al die perde se voer word aangekoop, omdat daar nie genoeg water vir besproeiing is nie.
Coralezet glo die teel van miniatuurperde is volhoubaar, mits dit kwaliteitperde is met bloedlyne wat vir geslagte opgevolg kan word. ‘n Enorme mark is besig om te ontwikkel vir reunperde as beginnerperde vir jong kinders. Dit is egter deurslaggewend belangrik, sê sy, dat hierdie perde uit stalle kom waar hulle van jongs af blootgestel word aan mense, en ook ‘n verskeidenheid ongewone omstandighede, soos skoue.
Die koste van perde wissel baie, afhangende van faktore soos grootte, gehalte en kleur. Coralezet se raad aan voornemende miniatuurperd-telers is om een of twee merries te koop van die beste bloedlyne wat hulle kan bekostig. Hulle moet ook seker maak dat die dwergstatus van die perde bekend is. Die merries moet dan gedek word deur hingste van die eienaar se keuse. Haar goue leuse, sê Coralezet, is dat die vul ‘n verbetering op sy ouers moet wees. ‘n Goeie merrie behoort tussen R20 000 tot R25 000 te kos, en ‘n dekking behoort beskikbaar te wees teen ongeveer R5 000.
‘n Miniatuurperdboerdery kan ‘n redelike inkomste genereer as jy jou oorhoofse kostes laag hou deur, onder meer, die meeste van die voer self te produseer of genoegsame weiding te hê sodat jou ruvoer-aankope minimaal is. As jy dan nog van jou aanteeldiere kan verkoop, omdat jou jonger diere ‘n verbetering op hul ouers is, is jy op die regte spoor.
‘n Onontbeerlike bestanddeel van Coralezet se suksesresep is passie. Vir haar is passie die ure wat sy tussen haar kosbare trop deurbring en die opleiding en blootstelling wat hulle ontvang. Sy sê dit maak van haar perde waardevolle lede van die perdegemeenskap wat jong kinders kan leer perdry, by skole en hospitale kan instap, en outehuise kan besoek waar hulle mense toelaat om aan hulle te vat.
Alpakkas
The Alpaca Loom
Dietmar Keil en Kerstin Heisterkamp se plaaslewe het in 2002 begin met ‘n paar skape en melkkoeie, en die produksie van kalfs- en vrylopende varkvleis op ‘n stukkie grond by Landskroon Old Houses, langs die Landskroon-wynlandgoed. Met hul stukkie grond wat beperk was en voerpryse wat die hoogte in geskiet het, moes hulle egter na ander alternatiewe begin kyk en so het hulle in 2004 die wonderwêreld van alpakkas by ‘n landbouskou ontdek.
Dit het hulle geïnspireer om ‘n paar diere te koop, waarmee hulle op vyf hektaar begin boer het, en die resultaat van die nederige begin en baie harde en volgehoue werk, is The Alpaca Loom – een van die grootste alpakka-plase in Afrika.
Alpakkas behoort aan dieselfde familie as lamas en kamele – die spesie staan trouens bekend as kameliede – en kom uit Suid-Amerika. Terwyl lamas egter oorspronklik pakdiere was, is alpakkas selektief geteel vir hul weelderige wol, wat vroeër slegs deur Inka-koninklikes gedra is.
Dietmar en Kerstin sê die Alpakka-trop het die afgelope klompie jare flink gegroei. Intussen het die spesie se invoermark boonop vergroot en sluit nou die VSA, Europa, Australië, Nieu-Seeland en Sjina ook in. En ‘n Suid-Afrikaanse Alpakkatelersvereniging het tot stand gekom, wat met ‘n ledetal van 50 telers pronk.
Alpakkas se grootte en lae instandhoudingsvereistes maak hulle ideaal vir kleiner plase en kleinhoewes. En hulle het oulike persoonlikhede. Hulle byt, stamp of stoot nie. Spoeg is een van die min maniere waarop hulle hulself verdedig en om hul dominansie oor ander alpakkas, eerder as mense, te toon. Hulle is skoon en nuuskierig. En elke jaar lewer hulle ‘n groot opbrengs van waardevolle wol.
Die alpakkabedryf in Suid-Afrika is nog baie jonk. Die beperkte hoeveelheid wol wat wel geproduseer word, word aan handspinners en wewers verskaf, asook ‘n klein meule in Wellington, wat in die verwerking van alpakka-vesel spesialiseer. Omdat alpakkas stadig voorplant, sal dit egter nog etlike jare gaan neem voordat die spesie uitsluitlik vir wol verbou kan word.
Dietmar en Kerstin sê hul alpakkaboerdery is volhoubaar, danksy waardetoevoegende aspekte soos ‘n koffiewinkel en handgeweefde alpakka-produkte. Hulle besef dit is ‘n langtermyn verbintenis, met deskundiges wat reken dat die industrie oor die volgende 15 tot 20 jaar merkwaardig sal groei en aansienlike opbrengste sal lewer.
Diskus-visse
Discus Divana
Die jonge Nelize, ook bekend as Discus Divana, bedryf haar visteel-plasie van haar huis af. Maar dis ‘n storie wat van ver af kom… Haar familie, by uitstek haar pa, het nog altyd in diskusvisse belanggestel. Hulle kon egter nooit gehaltevisse in troeteldierwinkels kry nie en het ook nie van enige telers in die omgewing geweet nie.
In 2015 het haar pa toe vier diskusvisse gekoop en grootgemaak. Nelize het gehelp, en dis waar haar passie vir diskus- en akwariumvisse begin het.
Intussen het die oorspronklike vier heelwat meer geword. In 2016 het pa en dogter nog visse in die hande gekry, wat die paringsproses verder aangehelp het. Hulle het besigheidsplanne begin beraam, die mark begin toets en uitgevind daar is inderdaad ‘n mark vir hul gesogte produk.
Een van die redes waarom dit so moeilik is om diskusvisse te bekom, is dat die spesie soms hul broeisels opvreet. Die spesie se nadeel was egter Nelize se voordeel: sy is besig om te werk aan ‘n kunsmatige metode wat die grondslag van haar besigheidskonsep vorm.
Dit is ‘n konsep wat sy beplan om soos volg uit te rol: Die eerste fase het gefokus op die aankoop van alles wat sy benodig, ‘n geleidelike uitbreiding van die besigheid en die akklimatisering van die visse. Tydens fase twee het die visse gebroei en Nelize het haar kunsmatige “hand-grootmaak”-tegniek bemeester. Met die derde fase word gekyk na die verkope en die lewensvatbaarhheid van die produk aan die publiek, sowel as troeteldierwinkels. En Fase 4 fokus op die toekoms, met die klem op interprovinsiale en, uiteindelik, internasionale uitvoere.
Intussen produseer die Discus Divana reeds tussen 50 en 150 kleintjies per maand, afhangende van paartjies se broeisiklusse, wat dan vyf maande na geboorte verkoop word.
Om die nodige vistenks en hardeware te akkommodeer, het ‘n mens genoegsame ruimte nodig. Nelize bedryf haar onderneming tans op 20m², wat ‘n maksimum inkomste van R70 000 kan genereer met verkope aan die algemene publiek en ‘n paar troeteldierwinkels in Gauteng. Op die lang termyn is dit ook hoogs volhoubaar, onder meer danksy ‘n sterk en stabiele vraag van tot 800 vissies per maand.
Om hierdie tipe boerdery op die been te bring, sê Nelize, sal jou R77 900 kos – onder meer vir die toebehore, bestaande uit die uitgroei- en broeitenks, en die gepaardgaande toerusting, asook die die visse en hulle kos.
Van aankope tot verkope neem sowat 18 maande, maar die beloning is aantreklik: R450 per jong Diskusvis.