Terugskou
In die laaste episode kuier Simonia, Chris en Anrich om ‘n lang tafel in die granaatboord van die organiese plaas, Ganico, saam met die Laeveld Agrochem-span en van die nisboere wat in die loop van die reeks verskyn het. Die aanbieders en die Laeveld-span vertel wat hul onderskeie hoogtepunte was, terwyl die boere hul insigte en suksesgeheimde deel. Die resultaat is ‘n episode propvol wonderlike herinneringe, om van bronne van inspirasie en bronne van pret nie eens te praat nie.
Lekker kuier en groot herinneringe tussen die granate…
In die laaste episode van die reeks kuier Simonia, Anrich en Chris saam met Laeveld Agrochem se span en van die nisboere in die granaatboord van Jason en Laiken Cullen – die eienaars van die organiese granaatplaas, Ganico, wat kykers in Episode 15 leer ken het.
Omring deur pragtige blomme en watertandgeregte, vertel Anrich vir Simonia dat hulle gaan partytjie hou en terugkyk, en noem dat baie van die watertandgeregte op die tafel van die reeks se nisboerderye af kom.
Corné kyk terug…
Chris vra vir Laeveld Agrochem se bemarkingsbestuurder, Corné Liebenberg, om ‘n oorsig te gee van die reeks – wat die onderneming daardeur bereik het, en of hulle tevrede is met die eindresultate.
Corné sê hulle is beslis tevrede en verduidelik dat Laeveld deur die nood, en by uitstek die hongersnood, in die land gemotiveer is om werk te skep en in die proses ook die kwessie voedselsekerheid aan te spreek. Uiteindelik, sê hy, het daar egter nog baie meer gebeur, danksy ‘n klomp suksesverhale wat reeds baie mense gemotiveer het deur die onderliggende boodskap – ‘as húlle dit kan doen, kan ons dit ook doen’.
Philip vertel van kundigheid oordra en saadpakkies deel…
Volgende aan die beurt is Philip van Laeveld wat vertel dat hy opdrag gekry het om kundigheid oor te dra. Die hele idee was trouens om die beste kundiges op spesifieke gebiede te kry om nie net hul kennis oor te dra nie, maar boere ook te leer om hul boerderye volhoubaar te maak. Simonia wys weer op die kwessie van voedselsekerheid, en Philip beaam dat dit baie belangrik is, veral in Suid-Afrika, waar baie mense nie kos het nie en honger gaan slaap. In hierdie opsig, sê hy, kan Laeveld Agrochem se saadpakkies ‘n belangrike rol speel.
‘n Boerdery wat Chris BYbly…
Chris sluit aan by Simonia, wat die aspek van selfonderhoudendheid noem. Hy vertel van wat hy geleer het by die Winterveldtse byeboer, Mmabatho Portia Marudi (Episode 9), wat haar hele gemeenskap by haar byeboerdery betrek.
Portia, wat ook saamkuier om die tafel, verduidelik dat haar projekte hoofsaaklik in die Winterveldt begin het om vir jongmense te wys hoedat hulle die meeste kan kry uit wat hulle het. Met verloop van tyd het sy ook besef dat sy die byeprojekte kan gebruik om armoede in die omliggende dorpies te help verlig deur, onder meer, blinde mense op te lei om met bye te boer, en dan die heuning by hulle terug te koop. Les bes maak sy ook ‘n verskil vir baie skole in die Winterveldt deur opvoedkundige programme met byedemonstrasies, wat die belangrikheid van harde werk aan die hand van die by-analogie demonstreer.
Anrich vertel van herleefde spesies en unieke daktuine…
Anrich merk op dat daar baie nisboere is wat ‘n bydrae maak – en sodoende ook ‘n verandering – wat hom laat dink aan die kwaggaprojek wat by die plaas, Bartholomeusklip in die Boland, van stapel gestuur word (Episode 4). Hy vertel dat die kwagga wat om en by 1887 uitgesterf het, onlangs weer deur genetiese manipulasie teruggebring kon word. Dit is moontlik gemaak deur die passie en toewyding van die belanghebbendes – en die feit dat die kwagga ‘n sub-spesie van die vlakte-kwagga is, wat beteken dat die genepoel van laasgenoemde gebruik kon word om die uitgestorwe kwagga te laat herleef.
Nog ‘n projek wat vir Anrich beïndruk het, was die organiese groentetuin in Episode 12 – kompleet met ‘n komposhoop en ‘n erdwurmplaas – wat onder die bestuur van Linda Galvad en op die dak van die Saxon-hotel in Sandton van krag tot krag gaan.
Corné deel sy A-lys…
Anrich vra vir Corné wat hom die meeste beïndruk het. Nadat hy eers ‘n bietjie Anrich se been trek, noem Corné die reptielboerery van die tienerjarige Tjokkie van der Merwe, by sy ouerhuis in die ooste van Pretoria (Episode 5). Verder het die 15-jarige Rikalize Reyneke se akwaponikaplaas (Episode 13), Corné opnuut laat besef dat ‘n mens gewoonlik dink die woord “boer” verwys na ‘n man, terwyl dit eintlik ‘n werkwoord is vir iets wat jy doen. Les bes, en ewe hoog op sy lys, is Zenzele, die plaas waar die Giebelmann-egpaar met Phendula-konyne boer (Episode 4). Met twee mannetjies en drie wyfies wat ses werpsels per jaar lewer – sowat ses kleintjies per werpsel – kan ‘n klein gesin begin bou aan ‘n belowende, bekostigbare en voedsame proteïenbron vir die toekoms.
Simonia koop grond…
Anrich korswel dat hy ook grond sal moet koop om ‘n verskil te maak, en Simonia sê sy hét reeds grond in die Vrystaat in die rysgordel gekoop – wat verwys na haar skouspelagtige, en skreeusnaakse val in die modder van Leon Su se rysplaas (Episode 8).
Oor Google-kennis, granaatboerdery en Laeveld Agrochem se ekstra steun…
Nadat almal klaar gelag het, bedank Anrich vir Jason dat hulle op Ganico kan kuier. Hy verduidelik vir Karel van Laeveld Agrochem dat Jason en Laiken die granaatbome geplant het op grond van advies wat hulle uitsluitlik via Google gekry het, en sê dat hy reken Laeveld kan hulle nog beter help.
Laiken vertel dat sy en Jason nie uit ‘n landbou-agtergrond kom nie en dat hulle daarom konstant besig is om te leer, wat baie opwindend is. Jason stem saam, maar voeg by dat dit ook baie lonend is om op die plaas te stap – dat ‘n mens vervul voel en weliswaar na Maandae kan uitsien.
Karel stem saam met Anrich dat Laeveld inderdaad vir boere soos Jason kan help – by uitstek deur middel van die tegniese ondersteuningspan van Agri Technovation.
Anrich mymer oor die kinders op die proefplaas…
Anrich sê nog iets wat hom bybly, is die kinders wat betrokke was by die proefplaas – dat Laeveld hulle kon leer om hul eie groente te kweek, wat ‘n vaardigheid is wat hulle lewenslank kan gebruik.
Chris word geïnspireer deur forelle en futuristiese plase…
Dan is dit Chris se beurt om sy hoogtepunte te noem. Eerste op sy lys is die forelplaas, Lunsklip Fisheries, in die Laeveld (Episode 6). Gerrie en Hannetjie van der Merwe doen baanbrekerswerk op die gebied sedert hulle met die boerdery begin het, en vandag is Lunsklip ‘n vlagskap in die forelbedryf, waarby ook die egpaar se twee seuns en hul wederhelwe betrokke is.
Chris is ook gaande oor Gideon van der Merwe se futuristiese plaas, e-smart foods in die ooste van Pretoria (Episode 13). Hy sê vir Gideon, wat ook saamkuier in die granaatboord, dat hy nog nooit in sy lewe so iets gesien het nie.
Gideon verduidelik dat hy en sy vennoot, as “stedelike boere”, probeer om ‘n simbiotiese bestaan tussen al die verskillende sektore en dissiplines op die plaas in ‘n holistiese “mandjie” saam te vat ten einde voedselonsekerheid hok te slaan. Chris reken wat hulle doen – om ‘n klein stukkie grond so produktief te bedryf – is ongetwyfeld die toekoms van boerdery.
En, Simonia sê haar sê oor plastiekbottel-plasies, babakrokodille en die vreugdes van blomboerdery…
Dan noem Simonia iets wat haar baie na aan die hart lê: die projek Farmkids, waardeur weeskinders of kinders wie se ouers Vigs het, geleer word om groente in plastiekbottels te verbou – weer eens ‘n vaardigheid wat hulle lewenslank van nut sal wees.
Volgende op Simonia se gunstelinglysie – en heel bo op haar gil- en grillys – is haar besoek aan die krokodilplaas, Le Bonheur (Episode 6), waar sy weliswaar aan ‘n babakrokodil geraak het – iets wat vir haar verrassend “nice” is, hoewel sy beslis nie saam met die kroks sal swem nie.
Dan was sy ook dol oor al die blomboerderye wat sy besoek het. Eerste aan die beurt is ‘n terugflits van haar gesprek met ‘n laventelboer wat sy sukses daaraan te danke het dat hy ‘n klompie jare gelede nie geld gehad het om vir sy vrou blomme te koop vir haar verjaarsdag nie. Met dié het hy ‘n paar laventelplantjies by sy buurvrou gesteel en vir haar ‘n ruikertjie gemaak. Sy het gesê dis baie mooi. Net om die draai van waar … as ‘n motorverskoopsman gewerk het, was daar ‘n bloemis vir wie hy ook ‘n ruikertjie geneem het. En vir haar was dit so mooi, dat sy tien van hulle vir die volgende dag bestel het. Die tien was teen die einde van die dag uitverkoop, wat haar laat besluit het om vir die volgende dag 20 te bestel – wat ook in ‘n kits uitverkoop is. Na die tweede dag het hy sy werk bedank, en vandag blom sy onderneming letterlik en figuurlik.
Nog ‘n nisboerdery wat blom in Simonia se geheue, is Doornkraal – oom Japie van Heerden se proteaplaas naby Culllinan (Episode 9). In ‘n terugflits, gee oom Japie raad aan aspirant-proteaboere: Om die regte blom vir die regte plek te kry, en advies in te win voor jy begin. En hy gee ‘n waarskuwing: mens gaan jou vingers brand, want proteaboerdery is nie maklik nie.
Volgende aan die beurt is ‘n videogreep uit Episode 15 van Simonia se besoek aan Stephward Orchid and Exotic Plant Nursery, waar mede-eienaar, Howard, vir Simonia verduidelik dat hy en sy lewensmaat en vennoot, Stephen, trots daarop is om ‘n eksotiese kwekery met plante van regoor die wêreld te bestuur, en dat hulle vir besoekers iets interessants kan wys. Hy voeg by dat dit nie net oor die geld gaan nie, maar dat die boerdery ook baie lonend is omdat ‘n mens iets besit wat blom én wat jou gelukkig maak.
Liana Steenkamp van Laeveld praat goggas, krokodille en alpakkas…
Simonia vra vir Liana wat vir haar uitgestaan het. Sy antwoord dat dit lonend was om te wys hoe om ‘n groentetuin te ontwikkel, en noem dan dat ‘n mens gereeld op sosiale media sien dat mense, byvoorbeeld, ‘n foto van ‘n gogga plaas en vra wat dit is. “Om kennis met mense te deel, is belangrik,” sê sy.
Kom dit by die stories en die boere, het sy nie net die krokodilplaas, Le Bonheur, geniet nie – sy sal ook saam met die krokodille swem, MITS sy in ‘n hok is. Simonia vra of sy bereid sou wees om dit op rekord te plaas.
Les bes was The Alpacca Loom in Episode 2 vir haar baie interessant, veral hoe dié sonderlinge diere ingespan word om ‘n bate vir die boer te word.
En dan is dit weer Philip se beurt…
Op hierdie punt merk Simonia op dat hulle darem nou lekker geëet het, en almal stem saam, waarna sy vir Philip van Laeveld Agrochem vra wat sy hoogtepunte was. Philip antwoord dat dit lekker was om kundigheid met mense te deel en om die kos te oorhandig aan die kinders wat dit verbou het en om hulle dankbaarheid te kon sien (Episode 14). Hy vertel hulle het ‘n bietjie verder gegaan en vir elke kind ‘n saakpakkie gegee, en dat een seuntjie vir hom gevra het of hy die pakkie huis toe mag vat. Philip het gesê ja, en dat hy mooi moet lees, want daar is mooi instruksies. Simonia onthou ook sy gesiggie, en sy en Philip stem saam dat kinders spesiaal is.
Anrich noem dat hulle ook saam met die kinders geëet het. Simonia terg dat hy altyd alles terugbring na kos.
Simonia vis vir inligting by ‘n tiener-entrepreneur…
Dan stel Simonia almal voor aan Rikalize Reineke, wat onder aan die tafel sit, en vra haar om te vertel hoe sy haar boerdery begin het. Rikalize sê sy was 12 toe sy die film Dolphin Tale gesien het, wat haar laat besluit het sy wil ‘n marinebioloog word. Tot haar ontsteltenis het sy egter ontdek dat daar geen visse oor sal wees teen die tyd dat sy klaar gekwalifiseer is nie. Desnieteenstaande het sy aangegaan met navorsing, en in die proses afgekom op ‘n webtuiste met drywende vlotte waarop mense boer. Sy het vir haar pa gevra of sy dit kan doen en hy het geantwoord sy kan – wanneer sy gekwalifiseer het. Kort daarna het sy afgekom op inligting omtrent ‘n akwaponikakursus, wat sy en haar pa toe albei bygewoon het. Na hulle die kursus voltooi het, het Rikalize met ‘n klein stelsel begin, wat sedertdien van ‘n klein tot ‘n groot kommersiële onderneming gegroei het.
imonia vertel dat Rikalize haar hele boerdery van die skool af op haar foon bestuur en dat sy vir almal, insluitend haar pa, instruksies gee. Rikalize antwoord laggend dat sy ook werkers het en dat haar pa nie alles hoef te doen nie, waarop Simonia opmerk dat beide haar werkers én haar pa na haar luister.
Dan vra Simonia vir Rikalize of sy met haar skoolmaats oor haar boerdery gesels. Rikalize sê sy doen dit wel, maar sy dink nie hulle verstaan wat dit alles behels nie. Daarom sê sy gewoonlik maar iets soos “Ek gaan gou na die visse toe” of “Ek gaan boer”. Hulle ondersteun haar wel, en hulle het al kom kuier by die boerdery waar hulle net wil vissies vang.
Op Simonia se vraag hoe haar onderwysers haar boerdery hanteer, antwoord Rikalize dat hulle haar ondersteun, maar dat sy eintlik net nog ‘n skoolkind is wat moet leer en wat nie enige spesiale aandag van hulle af wil hê nie. As daar iets oor visse in die klas is, voeg sy ondeund by, kyk hulle gewoonlik vir haar, omdat sy die vraag sal kan beantwoord.
Heel laaste wil Simonia weet wat sy die meeste van haar visse geniet. Rikalize antwoord dat dit is om te kyk hoe die klein vissies groei en ook wanneer sy nuwe visse kry – iets wat die klein vissies ook baie opgewonde maak. Haar heel beste is egter as sy soggens by die tonnels instap en al die hordes visse swem na haar toe omdat hulle weet hulle gaan kos kry.
Jason vertel van die uitdagings en vreugdes van granaatboerdery…
Na Rikalize se visse, kom Jason se granate aan die beurt, met Anrich wat vir hom vra of hy as ‘n boer, wat nooit opleiding gehad het nie, darem ‘n bietjie inspirasie geput het uit die kundigheid rondom die tafel. Jason sê hy het beslis. “As ‘n mens nog nooit in jou lewe geboer het nie, het jy inspirasie nodig,” verduidelik hy. Juis daarom gaan hy en Laiken uit hul pad om soveel verskillende boerderye as moontlik te besoek. “Of hulle met vis, groente of vrugte boer, ons leer altyd iets nuuts,” sê hy. “Boer is ‘n kunsvorm, ‘n mens moet dit leer en jy het baie verskillende mense nodig om vir jou baie verskillende dinge te vertel. Ons is dol daaroor – ons is dol oor boer.”
Anrich reken dis ‘n goeie ingesteldheid, en dat dit net goed kan gaan met mense wat die lewe so benader.
Na ‘n flits uit Episode 15, waar Anrich die Cullens uitvra oor interessanthede omtrent granate, vra hy vir Jason wanneer hulle oes. Die antwoord: in Februarie 2018.
Nuwe horisonne wag met Seil-Safari…
Les bes vra Chris vir Corné om vir hulle meer van Seil-Safari te vertel.
Corné verduidelik dat baie van wat reeds in Nisboere gewys is, gaan oor die deel van kundigheid, maar dat die delery, ook tydens boeredae, beperk is. Deur boere, en plaaslike sowel as internasionale kundiges, vier dae lank aan boord van ‘n boot te hê, skep vir Laeveld die geleentheid om oor ‘n wye spektrum en ‘n langer tydperk inligting met boere te deel, en vir boere om na die tyd vrae te vra en skouers te skuur.
Op Chris se vraag, antwoord Corné dat die datum van dié luukse bootreis vanaf 9 tot 13 April 2018 is. Chris noem dat kykers ook VIA moet dopbou, en Corné voeg by dat daar inderdaad binnekort meer inligting op VIA, en ook in die pers, sal wees en hy herinner boere om betyds te bespreek.
En dan is dit totsiens, maar nie vaarwel nie – en gesondheid in die rondheid!
Anrich sluit die episode en die reeks af deur vir Corné te bedank dat hy saam met hulle op die reis was, en voeg by dat dit lekker was om saam met hom te kuier.
Laastens herinner hy kykers om Nisboere se webwerf te besoek vir meer inligting en vrae, en wens hy hulle alles van die beste toe.
En dan stel almal om die tafel heildronke in.