DINK GRÓÓT

Seisoen 1 | Episode 15

Draakvrugte | Granate | Orgidieë

Ander wêrelde vol wins vir (Suid-) Afrika

Vandeesweek is die span gereed en gerat om ‘n paar eksotiese boerderye te besoek – en saam met Laeveld se bemarkingsbestuurder, Corné Liebenberg, terugskouing te doen oor die afgelope drie maande se reise en lesse. Die resultaat is ‘n program vol opwinding, inspirasie en potensiaal vir die toekoms.

 

Gereed vir pad vat…

In episode 15 ondersoek die span eksotiese plante – presies hoe ‘n mens te werk gaan om dit te verbou, en of daar ‘n mark voor is in Suid-Afrika. ‘n Opgewonde Simonia is oppad na die suid-kus van KZN om ‘n eksotiese-blom boerdery te besoek. Chris gaan kyk na iets wat hy nie eens besef het bestaan nie: draakvrugte. En die Nisboere-aanbieders gaan gesels ook met Laeveld Agrochem se bemarkingsbestuurder, Corné Liebenberg, oor alles wat hulle die afgelope drie maande gedoen het. Anrich laat val dat hy ‘n granaatboerdery gaan verken, waarop Chris hom inlig dat granaatsap baie ryk is aan antioksidante en vitamiene.

 

Granate

Ganico: Eksotiese vrugte vol ekonomiese belofte…

Anrich bevind hom by Ganico, ‘n organiese granaatplaas in Muldersdrift, net buite Johannesburg. Die eienaars van die plaas, Laiken en Jason Cullen, vertel hy, bring ‘n Kaapse gevoel Gauteng toe, en het alles wat hulle van boerdery af weet, ge-google.

Op Anrich se vraag wat hulle gedoen het voordat hulle begin boer het, antwoord Jason dat hy in rekenaaranimasie betrokke was en glad niks van tuinmaak gehou het nie. Hy het 12 jaar lank, dag in en dag uit, voor sy rekenaar gesit.

Laiken was ‘n kleuter-onderwyseres toe hulle op die plaas afgekom, en besluit het om ‘n granaatboerdery aan te pak. Die rede waarom hulle spesifiek op granate besluit het, is omdat die plante so maklik en pragtig in Johannesburg groei, en boonop gesog en in aanvraag is.

Terwyl die Cullens hul boerdery van die grond af gekry het, het beide in hul oorspronklike beroepe bly werk. Na drie jaar het hy en Laiken egter besef dat uiteindelike sukses voltydse betrokkenheid verg. Jason verduidelik dat dit sewe jaar neem voordat ‘n granaatboom volwasse in, wat beteken dat granaatboerdery ‘n langtermyn belegging is.

Laiken vertel die pad wat hulle geloop het was nie maklik nie, onder meer omdat hulle geen landbou-agtergrond gehad het nie en dus konstant moes leer.

Desnieteenstaande, sê Jason, was en is die ervaring baie opwindend – die plaas is baie lonend en vervullend.

Anrich vra of die Cullens vir hom iets interessants van granate kan vertel wat hy nie weet nie. Laiken sê granate is ‘n baie gesonde vrug, vol anti-oksidante en met kankerbestrydende eienskappe, en word in sappe, slaaie en smoothies gebruik. Verder is dit bloeiseltyd, wat beteken hy kan vir Anrich ‘n paar babagranate gaan wys.

Omtrent die groeifases van ‘n granaatboom, vertel Laiken dat ‘n granaat in drie stadia blom – van ‘n baie klein botseltjie wat groter word en dan blom, met die vroulike blomme wat uiteindelik vrugte word.

Dan wil Anrich weet hoe die organiese aspek van die boerdery uitspeel.  Jason verduidelik dat hulle aanvanklik organies gegaan het net om anders te wees. Die kern van die saak is egter dat ‘n mens boer in lyn met die natuur. ‘n Mens vra jouself af: maak wat ek doen sin? Is dit wat die natuur sou doen? Hoe bestry die natuur, byvoorbeeld, peste en plae? En hoe werk ‘n mens daarmee saam? Hy en Laiken neem ‘n wye verskeidenheid aspekte in groot diepte waar en doen die nodige navorsing. Hulle het egter nie al die antwoorde nie, voeg hy by, en hulle sal dit nooit hê nie.

Om hulle by te staan met die dag-tot-dag boerdery, het die Laikens twee voltydse werknemers, en wanneer dit by oes- en snoeityd kom, bring hulle tydelike arbeid in.

Anrich wil meer weet van die pragtige dam op die plaas. Jason vertel dat al die boorgatwater in die dam gepomp word – wat ook krioel van die tilapia en koi. Die damwater word ook vir die granaatbome gebruik, en uiteindelik vorm alles deel van die ekologiese stelsel.

En dan wil hy natuurlik weet of die plaas geld maak. Die uitdaging, sê Jason, is die feit dat dit sewe jaar neem voordat ‘n boom volwasse is;  dit voel soms of ‘n mens geld in ‘n donker put gooi. Na die sewe jaar is alles egter die moeite werd en is dit beslis winsgewend.

Sy advies aan voornemende kleinskaal-boere is om dit op die natuur se manier te doen. “Dit sal werk,” sê hy. “Dit is harde werk, maar regtig vervullend, so begin net.”

Nog ‘n voordeel is dat daar geen ouderdomsbeperking op hierdie tipe boerdery is nie. “n Mens kan begin boer op die ouderdom van vyf, of 70,” sê Jason.

 
In gesprek met Corné Liebenberg:  Die Proefplaas as inspirasie-stasie…

Die span gesels met Laeveld Agrochem se bemarkingsbestuurder, Corné Liebenberg, oor die proefplaas. Anrich vra wat Corné se idee was met die plaas. Corné verduidelik dat dit ‘n geleentheid is om teoretiese kennis te deel, en prakties te demonstreer dat Laeveld nie net grootpraat nie, maar in die praktyk wil wys dat dit wat hulle sê en glo, regtig goed werk. 

Chris en Anrich dink terug aan alles wat hulle geleer het – onder meer grondontleding, onkruidbestuur en plantvoeding – en Simonia voeg by dat sy selfs weet van kultivars en die toepassing daarvan.

Chris vra vir Corné wat die hoofdoel van die televisiereeks was, en wat dit is waarop hulle kykers attent wou maak. Corné verduidelik die eerste woord wat in sy gedagtes opkom is “hoop” – om hoop te gee deur vir mense daarbuite te sê: “Jou omstandighede is dalk nie ideaal nie, maar daar is altyd planne om te maak, en geleenthede, so spring in”. Hy wys verder daarop dat daar ‘n klompie mense – selfs kinders – in die reeks was wat bewys het dat daar vir elkeen, ongeag ouderdom en geslag, ‘n geleentheid is. 

Die jong kinders wat by baie suksesvolle boerderye betrokke is, is ook iets wat vir Chris baie interessant was. Corné sê dit het hom lekker laat lag, want toe hy jonk was kon ‘n mens slegs sakgeld verdien deur koerante af te lewer. Nou is daar egter baie keuses, en daarom het die uitdrukking “klein begin, groot gewin” het vir hom nuwe betekenis gekry.

Anrich sluit daarby aan deur te sê dat daar baie hoop en geleenthede in die land is, en hy en Simonia bedank Corné daarvoor dat Laeveld Agrochem dit geïnspireer en bemagtig het.

Chris wys daarop dat tegnologie soveel makliker via die internet beskikbaar is om jong boere te help om meer inligting te bekom op hul pad na sukses. Corné sê dit is juis hoekom hulle uitgereik het – om vir mense te sê: “Help ons om julle te help; gebruik ons mense en ons kundigheid”. Baie van dié kundigheid, verduidelik hy, word op Nisboere en op Laeveld se webblad gedeel. “Daar is soveel geleenthede, wonderlike weer, baie grond en baie jongmense. Kom ons doen iets daarmee,” sê hy.

Chris bedank Corné en Laeveld Agrochem, namens die span, vir die geleentheid om vir mense te wys hoe om maklik te boer. Hy sê hulle het self ook baie daaruit geleer.

Simonia voel as sy dit kan doen, kan enigiemand dit doen, en dat dit ‘n voorreg was om aan die reeks deel te neem.

Les bes bedank Corné die span vir hul energie en vir wat hulle na die program toe gebring het. “Dit was baie aansteeklik – ek glo dit het iets groots aan die brand gesteek,” is sy slotsom.

 

Draakvrugte

Dragonfruit SA:  ‘n Asiatiese Geheim Floreer op Suid-Afrikaanse Bodem…

Chris kuier by ‘n geheimsinnige boerdery wat ruimte deel met die Paperworld Craft, Gifts & Accessories Shop by Hartbeespoortdam. Hy verwys na ‘n boord vol plante wat hy sê lyk soos ‘n kaktus en groei soos ‘n pes, maar dat die dorings daarvan Suid-Oos Asië se sappigste geheim beskerm.

Hy vra vir Liza Steyn waar die bome vandaan kom. Sy verduidelik dat die eienaar van Paperworld van Thailand afkomstig is en sowat tien jaar gelede draakvrugplante van haar tuisland af Suid-Afrika toe gebring het. Haar man het die verbouing daarvan aanvanklik as ‘n stokperdjie beoefen, maar dit het kort voor lank te groot geword vir ‘n stokperdjie. Tans voorsien hy steggies aan boere in die Hartbeespoort-area, asook ander dele van Suid-Afrika, terwyl die vrugte plaaslik verkoop word.

Chris merk op dat die plante soos kaktusse lyk, waarop Liza antwoord dat draakvrugte familie van die kaktusplant is.

Op sy vraag wat haar betrokkenheid by die boerdery is, antwoord Liza dat sy oorspronklik die bestuurder van Paperworld was. Sy was nie self betrokke by die vrugte nie, maar het dit leer ken. Wanneer kliënte haar egter oor draakvrugte uitgevra het en die eienaar was nie beskikbaar nie, het sy ingespring en hulle geleer hoe dit werk – hoe om dit te plant en wat die voordele en voedingswaarde daarvan is.

Dit neem sowat ‘n jaar vandat jy ‘n steggie plant tot jou boom begin draakvrugte dra, vertel Liza. In omgewings met hoë humiditeit, soos Thailand en KZN, kan die bome egter binne nege maande begin vrugte dra.

Chris wil weet of draakvrugte gesond is, en Liza verseker hom dat dit is – dit help vir toestande wat die spektrum van cholesterol en bloeddruk tot respiratoriese probleme dek.

Gegewe die feit dat baie mense nie van draakvrugte weet nie, is deel van Dragonfruit SA se missie om die publiek van die sonderlinge vrugte bewus te maak deur dit in die Paperworld-winkel te verkoop en mense daaraan te laat proe. Dit word ook op plaaslike markte verkoop, en steggies word oor die hele land versend.

By die kweekhuis aangekom, vra Chris vir Liza hoe mens ‘n steggie plant. Sy verduidelik dat die steggie minstens sewe dae lank moet lê nadat dit afgesny is, sodat die punt gesond en droog kan word voordat dit geplant word. “Daar is baie vog binne-in die steggie,” sê sy, “en grond trek die vog uit. Jy wil hê jou steggie moet onder seël voor jy hom in die grond druk, dan groei hy vinniger en beter.”

Liza sê draakvrugte kan winsgewend wees, afhangende van die skaal waarop jy boer – jy kan so groot gaan as wat jy grond voor het.  Die feit dat die plante 15 tot 20 jaar lank lewe, beteken jy hoef nie elke jaar te plant nie, plus jy kan somer in en winter uit met jou boerdery aangaan.

Om sukses te behaal, moet die grond egter reg wees. Draakvrugte hou van grond wat baie vinnig dreineer, en ‘n mens moet die bome nie te veel water gee nie. As die wortels te veel water kry, vrek hulle. Verder moet die grond bo kurkdroog wees. In ‘n warm gebied, kan jy draakvrugte min of meer een keer elke twee weke water gee, en in ‘n baie warm gebied, een keer per week.

Om met draakvrugte te begin boer, sê Liza, het jy net ‘n paar steggies nodig. “Plant ‘n paar, kyk hoe dit groei en kyk of jou grond reg is – dat jou klimaat reg is,” verduidelik sy. Sy voeg by dat mense wat in ‘n baie koue klimaat bly, dikwels skadunet oor hul bome, of selfs hul draakvrugte in potte plant of die bome in ‘n vertrek of motorhuis sit wanneer dit koud word.

Laastens wys Liza vir Chris hoe die draakvrug-steggies verpak word. Eers word dit met toutjies vasgemaak en in ‘n boks gesit. Daarna word dit met borrelomhulsel bedek, waarna die boks toegemaak en verseël word… en dan is die besending draakvrug-steggies gereed om gepos te word.

 

Orgidieë

Stephward Orchid and Exotic Plant Nursery:  Waar  verbeelding, plante en winste groei… 

Simonia is in haar element by Stephward Orchid and  Exotic Plant Nursery in Uvongo aan die suid-kus van KZN – ‘n plek wat die woord “paradys” nuwe betekenis gee. Stephward is die breinbaba van twee lewensmaats, wat dit hul missie gemaak het om ‘n eksotiese droomwêreld te skep wat ‘n mens se verbeelding na êrens in Suid-Amerika meevoer.

Sy vra vir Howard waar alles begin het. Hy antwoord dat die onderneming spruit uit ‘n leeftyd van plantversameling, en dat hy en Stephen 18 jaar gelede hul deur vir die publiek oopgemaak het. 

Die eintlike begin was egter, by wyse van spreke, per ongeluk. Howard en sy lewensmaat, Stephen van Belkum, was op pad van ‘n vakansie in Zimbabwe af in twee ernstige motorongelukke betrokke. Hulle moes hul destydse besigheid vir vier maande sluit omdat hulle in en uit by hospitale was en het uiteindelik besluit om liewer die kwekery te open.

Simonia wil weet wat alles aangaan waar hulle staan, en Howard verduidelik hoe sy en Stephen se twee mikrovoortplantingsmetodes werk. Die een metode is selverdeling – selle word uit ‘n plant geneem en in proefbuise gesit, en so kan ‘n paar duisend plante uit ‘n paar selle gekweek word. Die tweede metode behels dat plante gekweek word uit steriele saad wat nie gewoonlik in die natuur sou ontkiem nie. Howard sê die tweede metode is vir hom interessant omdat dit hom in staat stel om in sy eie laboratorium sy eie plante te kruis en so heeltemal nuwe plantsoorte te skep. Daarna, verduidelik Howard, gaan die plante wat hy en Steve wil hou na die kwekery waar dit verder groei en die surplus word plaaslik verkoop of uitgevoer.

Volgende gaan kyk Simonia na die kwekery en wil weet wat alles daar aangaan. Steven verduidelik hoe die komplekse proses werk wat die plante se groei en die pragtige omgewing rugsteun.

Hy sê dit is vir hom en Howard ‘n bron van trots om ‘n eksotiese kwekery te hê, met plante van regoor die wêreld, en dat hulle daarvan hou om vir besoekers iets interessants te wys. Hy voeg by dat die kwekery nie net vir hulle oor geld gaan nie, maar oor die beloning wat spruit uit die feit dat hulle iets besit wat blom en wat hulle gelukkig maak.

Op aanvraag van Simonia wys Stephen vir haar hoekom en hoe orgidieë aan hout vagemaak is – hierdie eksotiese blomme groei nie in grond of potgrond nie, maar net in boombas. 

Na die orgidieëles, loer Simonia weer by Howard in om te sien wat in die twee groenhuise gebeur. Die verskil tussen die twee is basies temperatuur – die een is baie warmer as die ander een – en dit is wat uiteindelik bepaal waar spesifieke plante geplaas word. Die warmer groenhuis, verduidelik Howard, word gebruik vir orgidieë uit warmer plekke soos Thailand, Maleisië en die Fillipyne.

Howard verduidelik dat die groter plante aan die publiek verkoop word en dat hulle soms ook skoenlappers in daardie deel van die tuin loslaat.

Simonia merk op dat die onderneming nie net ‘n besigheid is nie, maar ook ‘n leefstyl – met ‘n kapel, gastehuis, restaurant en kwekery – en vra hoe winsgewend die kwekery is.

Howard sê die kwekery is baie voordelig vir al hul besighede. Besoekers sal byvoorbeeld die kwekery besoek en bly vir koffie of middagete. Baie mense, van regoor die land, bly oor vir ‘n naweek om die kwekery te besoek en plante te koop. Pryse wissel van R30 vir ‘n Afrika-viooltjie tot R2 500 vir ander baie skaars, eksotiese plante.

Sy advies aan voornemende eksotiese plantboere is dat hulle ‘n passie vir plante moet hê. Hy wys op die enorme vraag na eksotiese plante en dat dit daarom nodig is om genoeg navorsing te doen, jou plante te ken en te kweek, en altyd die regte advies te gee.

Op hierdie inspirerende noot groet Simonia vir Howard, en hy verseker haar dat sy altyd welkom sal wees by Stepward.

 
Terug by die ronde  tafel…

Simonia vertel vir Chris en Anrich dat sy in haar element was tussen die eksotiese plante en dat Howard en Steven se onderneming nie net ‘n paradys is nie, maar ook ‘n leefstyl.

Chris merk op dat draakvrugte welbekend is in Suid-Asië, maar nie in Suid-Afrika nie. As deel van hul missie om die produk bekend te stel, stel die eienaars van Dragonfruit SA hul tegnologie en kundigheid beskikbaar aan mense wat belangstel – ‘n gebaar wat die span saamstem baie onselfsugtig is.

Les bes doen Anrich terugvoering oor die voordele van organiese granaatboerdery, wat daarop neerkom dat ‘n mens nie net baie geld kan maak nie, maar dat die organiese benadering beteken dat jou bome tot vier keer langer kan leef.

Terug na episodes