Grondboontjiebotter | Medisinale plante | Bloubessies



Vandeesweek se episode gaan alles oor nisboerdery wat op gesondheid fokus – en in die proses gesonde opbrengste lewer. Simonia gaan kuier op ‘n bessieplaas, Chris vind uit waar ‘n sonderlinge span die wortels grawe met grondboontjieboerdery, en Anrich kry antwoorde op sy vrae en ‘n bottel medisyne vir sy olikheid by ‘n plaas wat plante met genesende eiendskappe verbou. Tussyle senin is daar ook heelwat vrolikheid, danksy ‘n trok vol groente, gekweek uit Laeveld Agrochem-saadpakkies, wat aankom by die skool van die kinders wat dit verbou het.
Vandeesweek gesels die span met nisboere wat op gesondheidsprodukte fokus. Simonia vertel sy gaan meer uitvind oor bloubessies, ‘n vrug wat nie net infeksie teenwerk nie, maar ook ‘n baie goeie anti-oksidant is. Sy merk op dat Anrich vir haar bleek lyk, en hy stel haar gerus dat hy op pad is na ‘n nisboerdery wat medisyne maak van plante. Wat hom wel reeds opkikker, is die vooruitsig dat hy, Simonia en Chris gaan help om groente uit te deel aan die kinders wat die saadpakkies daarvoor geplant het. Simonia sê sy kan nie wag om hulle gesiggies te sien nie. Dan vertel Chris dat hy besoek gaan aflê by ‘n organiese grondboontjieboer wat nie net met dié boontjies boer nie, maar dit ook in verskillende geure en kleure verwerk. Hy belowe hy sal vir Anrich en Simonia grondboontjies bring – as hulle hulle gedra.
Grondboontjiebotter
Grondboontjies vol loontjies…
Chris kuier in die Winterveldt by Karabo Mphaphuli, die stigter van Gog’ Lilly, ‘n onderneming wat op grondboontjie- en verwante produkte fokus. Karabo is besig om ‘n stuk grond voor te berei vir die aanplantfase. Hy vertel die doel van die proses is om uit te vind watter tipe bemesting en saad hy gaan nodig hê, en dat hy ook grondmonsters gaan neem wat hy na die laboratorium toe gaan stuur sodat hulle die regte aanbevelings kan maak.
Op Chris se vraag waar alles begin het, vertel Karabo hy en sy vennote het ‘n borg gekry om in Indië navorsing te gaan doen by ‘n navorsingsinstituut in Hydrabad. Karabo is geplaas in ‘n dorp genaamd Anandaphur, wat reeds 20 jaar lank deur ‘n droogte geteister is, met grondboontjies as die enigste produk wat hulle onder die omstandighede suksesvol kon verbou. Dit het vir die span die idee gegee om, terug in Suid-Afrika, in die droogtegeteisterde gebied waar hulle bly, ook grondboontjies te begin verbou.
Dit was die regte besluit. Die vorige seisoen het hulle een hektaar saad geplant, waaruit onlangs twee ton saad geoes is. En vooruitsigte vir die toekoms lyk belowend, gegewe die feit dat hulle sowat 42 hektaar tot hul beskikking het wat vir gewasvervaardiging gebruik kan word.
Karabo vertel daar is ‘n hele klompie boere in die omtrek wat hul sade gebruik. “Dis nogal opwindend dat ons so baie produksie kry uit so ‘n klein stukkie grond,” sê hy.
Hy verduidelik dat hulle die grondboontjies terugkry van die boere wat hul saad geplant het. Van daar af gaan dit na hul vervaardigingseenheid wat die oes in grondboontjiebotter en geroosterde grondboontjies verwerk.
Chris wil graag die fabriek sien, en terwyl hulle soontoe stap, mymer hy dat inspirasie soms kom uit plekke waar dit blyk die minste hoop is. “’n Klomp jongmense uit moeilike omstandighede en ‘n boon wat in droogte groei, maak ‘n mens se oë oop vir wat moontlik is,” sê hy.
By die fabriek aangekom, groet Chris die werkers en Karabo verduidelik hul hooftaak is om die grondboontjies uit te dop. En omdat dit nie sal deug om gesplete grondboontjies te hê nie, moet die uitdopwerk met die hand gedoen word. Met dié wil Chris weet presies hoe ‘n mens ‘n grondboontjie uitdop. Karabo verduidelik vir hom hoe dit werk.
Daar is egter ook ‘n masjien wat vir die roosterproses en die maak van grondboontjiebotter ingespan word. Karabo verduidelik dat die grondboontjies ontvel moet word voordat dit gerooster word. Tydens die proses word die gesplete en heel grondboontjies van mekaar geskei. Die heel grondboontjies word gerooster en die gesplete boontjies word die hoofbestanddeel van grondboontjiebotter.
Karabo vertel hulle het nie eintlik geweet wat hulle met hul lewens gaan doen voordat die geleentheid om met grondboontjies te boer opgeduik het nie.
Hierna wys Karabo vir Chris die verpakte grondboontjies en die verskeidenheid watertand smake waarin dit beskikbaar is – van gewoon en gesout tot Portugese speserye en paprika.
Chris vra wat sy advies vir jongmense sou wees wat in grondboontjieboerdery belangstel, waarop Karabo antwoord dat dit ‘n baie lewensvatbare opsie is – dit is droogtebestand, ‘n mens het minder kapitaal nodig om die boerdery aan die gang te kry, en jy kan daadwerlik op jou grond kapitaliseer deur iets daarop te verbou.
Les bes proe Chris die eindproduk: heuninggeur organiese grondboontjiebotter, en, as ‘n gesoute grondboontjiebotter-liefhebber wat oral ‘n flessie daarvan saam met hom ry, is hy baie beïndruk.
‘n Vragmoter ragmotor vol vreugde en voedingstowwe…
Die span kuier by ‘n informele nedersetting in die buitewyke van Mamelo, waar hulle wag vir die vragmotor – vol groente – wat die resultaat is van die Laeveld Agrochem saadpakkies wat deur ‘n groep skoolkinders verbou is. Dit is ‘n selfdoen-ingesteldheid wat deur die hele gemeenskap loop. Chris vertel dat die mense hier hul eie krag aanlê. Simonia wys daarop dat onderrig die sleutel tot ekonomiese groei is, en dat die leerkragte by die skool waar sy staan, nie kon wag vir boulisensies nie en daarom hul eie planne beraam het om klaskamers te skep.
Dan arriveer die vragmotor vol groente. Anrich stel vir Dawie, die bestuurder, voor aan Portia en Khuli van die skool. En wanneer die deure van die vragmotor oopgaan, word die aflaai van die groente ‘n spanpoging.
Uiteindelik is dit etenstyd, waar die kinders pragtig bid en gelukkig eet aan hul maaltyd wat bestaan uit vleis, rys en die groente wat hulle self verbou het.
Medisinale plante
‘n Plaas vol genesing…
Effens knieserig, dog entoesiasties, bevind Anrich hom op Waterkloof – ‘n plaas waar medisyne gemaak word van plante en nie, verduidelik hy, die “fancy plek in Pretoria” nie.
Hy gesels met Martin Feiter, die produksiehoof van Parcival Pharmaceuticals, die maatskappy wat plante met helende eienskappe kweek en in verskillende vorms en fases aan plaaslike, sowel as internasinale, kliënte verskaf.
Martin vertel dat sy pa, Ulrich Feiter – vandag die bestuurshoof van Parcival – die besigheid in 1992 begin het nadat hy vir ander soortgelyke maatskappye gewerk, en ‘n gaping in die mark raakgesien het, naamlik om die produk te neem van die saad tot die eindproduk wat op die rak verskyn.
Martin se eie betrokkenheid kom eweneens ‘n ver pad. Reeds van sy skooljare af, het hy op die plaas, in die fabriek en in die verskillende departemente van die onderneming gewerk, nie net omdat hy moes nie, maar ook om ekstra sakgeld te verdien.
Terwyl hulle gesels, wys Martin vir Anrich die hawer wat gebruik word as ekstrak in een van die produkte wat hulle vervaardig, en wat hulle ook later by die grond inploeg om die vrugbaarheid daarvan te verhoog. Hy vertel dat Waterkloof ‘n organiese plaas is, en dat hulle geen chemiese bymiddels gebruik nie. “Ons werk met die natuur en wat die natuur vir ons gee,” verduidelik hy.
Volgende gesels Anrich met Stephan Landsberg, die logistieke- en pakhuisbestuurder. Stephan is verantwoordelik vir al die logistiek, insluitend die in- en uitvoer van die plantmateriaal, sowel as die eindprodukte. Hy wys vir Anrich ‘n paar van die plante wat verbou word, insluitend die sogenaamde ysplant, waarvan Anrich ‘n stukkie afbreek en proe. Dit is souterig – nogal sag en lekker. Volgende aan die beurt is die sutherlandia, ook bekend as kankerbos wat, sê Stephan, ‘n goeie immuunversterker is, en boonop lekker is. Anrich breek ‘n stukkie af en proe – net om uit te vind Stephan het hom met ‘n slap – en bitter – riem gevang.
Hierna sluit Anrich aan by Wendy Clapham, die hoof van gehaltebeheer en navorsing en ontwikkeling, wat hom rondwys en hom gaan help met ‘n plantaardige kuur vir sy sinusse en om sy bors oop te kry.
Anrich vra vir Wendy om vir hom die baie spesiale storie te vertel van die kaktusse waarby hulle staan. Wendy vertel die kaktusse kom al die pad van Marokko af, en is ‘n bedreigde spesie wat in Duitse medisyne gebruik word vir sinusse en hooikoors. ‘n Klompie jare gelede is hulle deur ‘n Duitse maatskappy genader om uit te vind of hulle dit kan verbou. Die Parcival-span het die uitdaging aanvaar, en tussen twee en drie jaar later kon hulle voorraad aan die maatskappy begin verskaf.
Met verwysing na die kaktus, vra Anrich of hulle dit hier op die plaas oes en hy noem dat die melk van die kaktus giftig is. Wendy anwoord dat dit inderdaad die geval is – die kaktusmelk kan ‘n mens blind maak en jou sinusse affekteer – en dit is ook uiteindelik die beginsel waarvolgens dit genees. Sy verduidelik dat die medisyne wat daarvan gemaak word, homeopaties is. Die sap word uiteindelik sowat 10 000 maal verdun en in daardie stadium word die “rolle omgekeer”. Die sap word non-toksies en, eerder as om te vergiftig, genees dit dan hooikoors, sinusse en seer oë.
Wendy se advies aan mense wat hierdie tipe boerdery oorweeg, is om eers seker te maak dat daar ‘n mark is, veral vir Europese kruie, omdat dit gewoonlik makliker is om in te voer as om te verbou.
Dan gee sy vir Anrich ‘n botteltjie medisyne wat die helende kaktusmelk bevat. Hy spuit dit in sy neus – en voel onmiddellik beter.
Bloubessies
Lessies uit bessies…
Simonia bevind haar op Hillcrest, ‘n plaas met ‘n absoluut asemrowende uitsig – en vooruitsigte wat nie ver agter is nie.
Sy gesels met die eienaar, Raymond O’ Grady, wat vertel hy en sy vrou, Betty, is al sowat 30 jaar lank op die plaas. Hy was aanvanklik in die menslike hulpbronne-departement van ‘n Anglo American-plaas betrokke, en sy vrou was in die akademie met Frans as vak. ‘n Dekade of drie gelede het hy egter ‘n pos by die Universiteit van Wes-Kaapland aanvaar. In daardie stadium het hy ook die kleinhoewe gekoop wat vandag Hillcrest is, met die doel om eendag daarop af te tree.
Op Simonia se vraag hoekom hulle spesifiek met bessies boer, vertel Raymond dat hulle aanvanklik sekere areas met blomme, en ‘n klein area met youngbessies, beplant het. Die eerste bessie-oes was veronderstel om net konfyt en sap vir huishoudelike gebruik te lewer, maar daar was so baie dat Raymond dit moes verkoop. Met dié, en in ‘n stadium toe ‘n mens net aarbeie op winkelrakke kon kry, het hy die Mount Nelson-hotel in Kaapstad genader, en so het Hillcrest se bessies in die openbare oog beland.
Simonia wil weet hoe die aanplant van bloubessies van die van ander bessies verskil. Raymond verduidelik dat die vorm anders is, asook die tipe grond wat nodig is. Anders as ander bessies, het bloubessies suur grond nodig en word die plante nie teruggesny nie. By swartbessies, daarenteen, word die lote afgesny van plante wat die vorige jaar vrugte gedra het. Hy voeg by at hulle slegs veilige spuitmiddels gebruik.
Kom dit by bessies plant, het jy ‘n keuse: óf in oop grond, óf in sakke. Oop grond, sê Raymond, is egter nie so goed nie. Hy plant sy bessies in sakke, in ‘n mengsel van boombas en dennenaalde.
En dan is hy geduldig. Want, as alles vlot verloop, kan ‘n mens na twee jaar reeds ‘n klein oes verwag, met ‘n volle oes wat jou eers na sewe jaar beskore is.
Volgende gesels Simonia met Bettie. Sy wil weet hoe die rolverdeling tussen hulle werk. Bettie sê Raymond het die plaas ontwikkel en eksperimenteer steeds met verskillende tipes bessies, terwyl sy omsien na verkope en bemarking en die ontwikkeling van verpakking en etikette. Hulle het begin met net drie of vier konfyt-variante, maar verkoop tans 24 tipes, insluitend ander vrugtesoorte, soos groenvye-konfytstukke en appelkooskonfyt.
Hillcrest se konfyte word in groter flesse verpak vir die kleinhandelmark, en in 30g-botteltjies vir luuksehotelle. Hul bevrore bessies word landwyd verkoop, maar hul vars bessies is slegs in die Wes-Kaap te kry, omdat bessies weens hul broosheid nie goed vervoer nie.
Om met bessies te boer, sê Raymond, sou nie winsgewend wees as hulle net die vars bessies verkoop het nie. Met die bevrore bessies, asook die restaurant op die plaas, is dit egter beslis winsgewend.
Dan is dit proetyd – en Simonia is beïndruk met die bloubessies-en-room wat Bettie vir haar voorsit. Dis die beste wat sy nog ooit geproe het, sê sy.
Raymond se advies vir voornemende bessieboere is om eers baie navraag te doen. “Want as almal met dieselfde bessies boer, is dit miskien tyd om meer aandag te gee aan swartbessies,” sê hy.
Terug by die Ronde Tafel…
Simonia gee entoesiasties terugvoering oor haar besoek aan Hillcrest. Sy vertel van die verstommende medisinale voordele van bessies. Eweneens indrukwekkend, sê sy, is die feit dat die boer en sy vrou beide aanvanklik in die akademie was, dat hulle 28 jaar gelede die boerdery as ‘n stokperdjie begin het, en nou hul gesogte produk aan hotel- en supermarkgroepe verskaf.
Die groepie wat hy gesien het, vertel Chris, was werkloos en is deur ‘n mentor raakgesien. Hulle is Indië toe gestuur en het daar geleer om grondboontjies in droogtetoestande te verbou. Afgesien van die suksesvolle verbouing van die gewas, verwerk hulle dit ook in verskillende geure. Anrich proe aan die Gog’ Lilly-grondboontjiebotter en kom tot die gevolgtrekking dat dit baie lekkerder is as enige organiese grondboontjies wat hy al geëet het. Chris reken dis miskien die heuninggeur.
Teen hierdie tyd is Anrich nie net gereed om sy terugvoering te gee nie – hy is, danksy Wendy se homeopatiese medisyne, ook weer perdfris en gesond. Hy vertel hoe Martin se pa ‘n klompie dekades gelede ‘n nis in die mark raakgesien het, dat die plaas nou van krag tot krag gaan – en dat hy piekfyn voel.
Les bes vertel hy hoe lekker dit was om saam met die kleintjies groente te eet. “Dis waarvoor Laeveld Agrochem se saadpakkie daar is,” sê hy, om kinders te leer om hul eie groente te verbou.”