DINK GRÓÓT

Seisone 1 | Episode 12

Wurms | Truffels | Wagyu-beeste

Organiese groente op ‘n dak, sampioene onder die grond en beeste wat met bier en masserings gepamperlang word… In Episode 12 gesels die span lekker oor lekker eet, oor dúúr eet… en natuurlik wat ‘n mens geldelik insit en uitkry met dié tipe ondernemings. Afgesien van die eksotiese kossoorte, is daar natuurlik ook ‘n eksotiese vooruitsig:  Laeveld Agrochem se SEIL-SAFARI – ‘n luukse bootreis na Mosambiek vanaf 9 tot 13 April 2018 – waaroor hulle lekker vérder gesels met Laeveld se bemarkingsbestuurder, Corné Liebenberg

Vandeesweek besoek die span ‘n klompie interessante nisboere wat fokus op eksotiese produkte wat ‘n mens nie elke dag op jou bord of jou supermark se rakke kry nie, en wat ook nie sommer sonder meer by jou begroting inpas nie. Terwyl Anrich uitvind hoe Linda Gavad met groente boer op ‘n dak by ‘n vyfsterhotel, vind Chris letterlik uit waar Neil van Rij die wortels gegrawe het en Simonia besoek ‘n wonderwêreld waar eksotiese beeste met bier en masserings gepamperlang word… En tussendeur gesels die driestuks kopstukke met Laeveld Agrochem se bemarkingsbestuurder, Corné Liebenberg, oor Aprilmaand se Seil-Safari.

 

Wurms

Potensiaal sonder plafon… op ‘n dak

Anrich kuier by Linda Gavad, die meesterbrein agter die organiese groentetuin op die dak van die vyf-ster boetiekhotel, The Saxon, naby Sandton. Deel van die waarde, en uiteindelik ook die weelde van die onderneming, verduidelik Linda, was die toevoeging van ‘n wurmplaas en komposhoop.

Sy wys vir ‘n ietwat huiwerige Anrich die ingevoerde “red wiggler” erdwurms wat met vars groente uit die kombuis gevoer word, maar ewe lekker vreet aan die kartonbedekking wat bo-oor hulle gesit word vir warmte. Onder die wurms en hul deklaag is ‘n dreineringstelsel wat sorg vir ‘n vloeistof vol mikro-organismes, genaamd kompostee of “black liquid gold”, wat as blaarvoedsel gebruik, of sommer direk oor die grond gegiet kan word.

Al dié aksie, en die tuin wat letterlik daaruit spruit, is te danke aan Linda wat die boerdery doen en haar ma, Hilda, wat as projekbestuurder optree en ook al die skryfwerk vir die media doen.

Die dakboerdery is baie, baie werk, verduidelik Hilda – van die invoer van sade en alles wat daarmee gepaard gaan tot die bestuur van kommersiële rekeninge.

Dié suksesverhaal het begin met ‘n telefoonoproep van die voormalige sjef by die Saxon hotel se restaurant, 500. Sy versoek aan Linda was om ‘n tuin te begin wat wonderlike vars groente produseer, wat hy in die restaurant kan gebruik om smaaksensasies te skep.

Die grondslag van die Saxon se organiese tuin, verduidelik Linda, is dat die grond bestaan uit ‘n mengel wat lig genoeg is sodat die gebou nie te veel druk ondervind wanneer die grond deurweek word nie.

In die weelderige restaurant wys Linda vir Anrich ‘n paar van die eksotiese groentesoorte uit die tuin, en gee vir hom nog wenke: Die duurste aspek van ‘n suksesvolle organiese groentetuin, sê sy, is die grond, want ‘n mens moet seker maak dit is perfek. Die groentesaad moet eweneens van die hoogste gehalte wees, en wat natuurlik ook deesdae aan ‘n mens se sak vat, is water.

Daar is egter ‘n indirekte kostevoordeel verbonde aan organiese groente: Leefstylsiektes, sê Linda, lei dikwels tot peperduur behandeling soos chemoterapie. As ‘n mens vanuit hierdie perspektief in jou gesondheid kan belê, reken sy, is daar nie regtig ‘n vergelyking wanneer dit by koste kom nie.

‘n Organiese tuin hoef uiteraard nie ‘n groot dakruimte by ‘n vyfsterhotel te beslaan nie. Jy kan in jou agtertuin met ‘n komposhoop begin. Linda vertel dat sy mense leer om organiese groente te verbou – en hulle is goed op pad na sukses. Sy wys daarop dat ‘n mens verdere koste kan bespaar as alles nie noodwendig mooi hoef te lyk nie, en deur alles te hergebruik en te herwin.

Haar toekomsdroom is om, saam met haar ma, die wêreld te verander deur mense te oorreed om organiese groente te eet en dit self te verbou; dit is immers uiteindelik baie goedkoper as die groente wat winkels verkoop.

 
 Opwinding van die eerste water

Die span gesels met Laeveld Agrochem se bemarkingsbestuurder, Corné Liebenberg, oor hul SEIL-SAFARI, die luukse bootreis vanaf Durban na Mosambiek wat vanaf 9 tot 13 April 2018 plaasvind. Corné verduidelik dat dit ‘n unieke geleentheid is om al Laeveld se boere op dieselfde plek bymekaar te kry vir vier dae se saamkuier en idees uitruil.  ‘n Bonus is dat boere hul gesinne kan saambring, want afgesien van inligting en spesiale aanbiedinge vir hulle, is daar ook volop vermaak vir almal. En nóg ‘n groot plus is dat boere, deur middel van, onder meer, spesiale aanbiedinge en afslag, meer waarde uit die reis sal kry as wat hulle daarvoor betaal.

 

Truffels

Maak met sampione

Chris bevind homself op die plaas Mushrush in Howick, KZN, waar Neil van Rij met truffels boer.

Neil is sedert om en by 1994 in die landbou betrokke. Sy passie, sê hy, is sampioene en fungi. “Dit is een van die gewasse wat die meeste waarde vir die kleinskaalse boer inhou, en hom in staat stel om ‘n goeie inkomste te genereer,” sê hy.

Truffels is uniek, verduidelik Neil. ‘n Mens kan dit nie met enige ander voedselsoort vergelyk nie. En dit is juis die sonderlinge geur en smaak wat dit so duur maak.

Die proses wat Neil volg is ingewikkeld en behels alles van die opbreek van truffels en akkers wat in groot bakke geplaas word om te groei, tot die inenting van geskikte boompies.

Die truffels groei uiteindelik sowat 15-20cm onder die grond, en Neil gebruik sy getroue en goed opgeleide hond, Captain, om die kosbare lekkerny uit te snuffel.

Die grootte van truffels wissel vanaf sowat 80g tot ongeveer 200g, hoewel ‘n paar menere van 1.5kg al op Mushrush uitgesnuffel is.

Terug by die plaashuis, is dit proetyd. Chris wys op die skerp reuk van die truffels op die bordjie voor hom, en sê hy het nog nooit so iets geproe nie.

Op sy vraag hoe winsgewend truffels is, antwoord Neil dat dit die eerste gewas is wat, in sy ervaring, ‘n goeie inkomste op ‘n kleinhoewe kan bied. 

En as hy sê goed, bedoel hy baie goed – van R1 miljoen tot R2 miljoen per hektaar per jaar. Om alles te kroon, is beide die insetkoste en die arbeidsbenodigdhede relatief laag.

Neil se advies aan boere met ‘n neus vir truffels, is dat klimaat baie belangrik is, asook grond wat goed dreineer.

 

Wagyu beeste

Om ‘n bees Reg op te vryf

Terwyl Chris snuf in die neus kry, maak Simonia ‘n Kaapse draai by die plaas Oak Valley in Elgin. Ene Antoine Viljoen het die plaas in 1898 gekoop en vandag, vyf geslagte later, is dit steeds die trotse besit van sy agter-agter-agterkleinseun, Christopher Rawbone-Viljoen.

Simonia wil by Christopher weet wat hom op beeste laat besluit het. Hy verduidelik dat hulle wou kyk na ‘n gespesialiseerde manier om waarde tot hul lewendehawe toe te voeg. 

Een van die maniere was om ‘n groot Japanese geheim Suid-Afrika toe te bring: Wagyu-beeste.

In 2008 het Christopher die eerste embrios uit Australië ingevoer en dit in sy Simmentaler-beeste laat inplant. Vandag bestaan die kudde uit 80 volbloed Wagyus.

“Wagyu-vleis is net ‘n briljante eetervaring,” verduidelik hy. “Die tussenspierse vet sorg vir hope geur, rykheid en tekstuur”.

Tot op hede is daar egter nog nie ‘n enkele Wagyu geslag nie. “Dit het 10 jaar geneem net om die teeltrop op te bou,” verduidelik Christopher.  Die plan is egter om die eerste een in April 2018 te slag, om uit te vind presies watter kaliber genetika ter sprake is en of die proses van marmering – die vorming van stroke vet in lenige vleis – na wense plaasgevind het… En natuurlik om die Suid-Afrikaanse mark te toets. 

“Ons mark is nog nooit aan Wagyu-beesvleis blootgestel nie,” sê Christopher. Dit beteken daar sal baie opvoeding nodig wees rakende aspekte soos wat dit is wat die hoë prys regverdig, en wat mense te wagte moet wees wanneer hulle dié sonderlinge vleis eet.

Hierna gaan stap Simonia verder saam met die plaasbestuurder, Werner Karg, wat al 14½ jaar aan die stuur van Oak Valley se lewendehawe-afdeling staan. Simonia wil weet wat die verskil tussen gewone beeste en Wagyu’s is, en Werner verduidelik dat Wagyu’s se marmering beter is, wat die kudde meer waardevol maak. Hul groeitempo is egter nie so goed soos die van Simmentalers nie, wat hulle eweneens meer eksklusief maak. Les bes word geen groeihormone gebruik nie, wat beteken Oak Valley se beeste is 100% organies.

Een van die redes waarom mense so lekker aan Wagyu’s eet, is omdat Wagyu’s so lekker eet aan kuilvoer en appelmoes wat baie hoog in energie is. In die pyplyn is planne om bouersgraan by die voerrantsoen te voeg, omdat hops belangrik is vir die bevordering van marmering.  Les bes eet hulle nie net lekker nie; hulle kry ook lekker, danksy ‘n masseermasjien wat verder help om die marmering te verbeter.

Werner se raad aan aspirant Wagyu-boere kom daarop neer dat hulle ryk en geduldig moet wees. As jy die projek wil eskaleer, kan jy embrios direk invoer en op surrogaat-Simmenthaler of -Anguskoeie inplant.  Maar prys is weer eens ‘n faktor. ‘n Enkele embrio het onlangs, op ‘n Suid-Afrikaanse veiling, ‘n prys van meer as R60 000 behaal.

 
Terug by die Ronde Tafel…

Steeds oorweldig deur die prys van ‘n Wagyu-embrio, vertel Simonia vir Chris en Anrich van dié Japanese geheim wat van Australië af na Suid-Afrika ingevoer is, en van die eerste bees wat in April 2018 geslag gaan word om uit te vind of al die kruisteling reg plaasgevind het, en om ons ‘n eerste smakie van “Japanese koeivleis” te gee.

Chris vertel dat die insetkoste om truffels te verbou nie so hoog is nie, maar dat ‘n mens steeds baie geduld aan die dag moet lê met die verbouing daarvan. Met die vooruitsig van ‘n opbrengs van R1 miljoen per hektaar, is dit egter deur en deur die tyd en moeite werd.

Anrich vertel baie opgetoë dat, hoewel die nederige erdwurm baie van duur beeste en eksotiese ondergrondse sampioene verskil, dit steeds gebruik word om met gesofistikeerde eindprodukte vorendag te kom.  “As sjefs daaraan glo, kan ons ook maar daaraan glo,” is sy slotsom.

Terug na episodes