DINK GRÓÓT

Seisoen 1 | Episode 11

Lovane wyn | Melkbeeste | Rooibostee

Vandeesweek kombineer die span ontspanning met ontdekking. Anrich proe die aanloklike smaak van sukses by die kleinste kommersiële wynboerdery in Suid-Afrika, terwyl Chris in die Suid- Bokkeveld gaan uitvind of ‘n mens groen kan sien as jy met rooibostee boer. Intussen besoek Simonia ‘n klein nasie vol inspirasie – kindertjies van drie tot ses wat geleer word om hul eie kos te verbou – en les bes kuier sy by ‘n ondernemende jersey-boer in Hartbeespoort wat nog ‘n hele klompie ander opwindende én winsgewende bedrywighede op sy uitgebreide perseel bestuur.

Gereed vir pad vat…

Vandeesweek se episode, reken die span, gaan oor ontspanning. Terwyl Chris rooibostee gaan drink, sê Simonia, gaan sy melk drink, en Anrich laat blyk dat hy die mooiste Kaap se lekkerste produk – wyn – gaan drink. Simonia gaan ook uitvind hoe ‘n ondernemende sakeman met ‘n groot hart kinders tussen drie en ses leer om hul eie kos te verbou.

 

Lovane wyn

Die Wyn van Lovane 

Anrich kuier by Lovane Boutique Wine Estate in Stellenbosch, die kleinste kommersiële boerdery in Suid-Afrika. Dié “dwergie tussen die reuse” is die trotse eiendom van Hennie Visser, wat as ‘n geoktrooieerde rekenmeester in Johannesburg begin droom het van sy eie wynplaas nadat hy die fliek “The Good Year” gesien het. In die film was daar ‘n toneel waar van die karakters onder ‘n boom sit en slaai eet, en hy het besluit dis wat hy wil doen: saam met sy vrou onder ‘n boom sit en slaai eet. Hennie het sy droom verwesenlik, maar sy daaglikse doen en late het uiteraard meer met wingerdblare as slaaiblare te make. 

Iemand wat ‘n reuserol in Lovane se sukses speel, is Hennie se bestuurder en regterhand, Hansie, wat op die plaas was toe hy daar aangekom het. “Die meeste van die goed wat ons hier doen, het Hansie vir my geleer,” sê hy.

Hansie het in 2006 by Lovane begin werk, maar hy vertel hy het in daardie stadium niks geweet nie; die vorige voorman het hom alles geleer.

Lovane synde ‘n nisboerdery, is daar, afgesien van Hennie en Hansie, nog twee werknemers aan die wingerdkant. Met snoei- en parstyd bring hulle egter ekstra manne- en vrouekrag in.

Terwyl baie van die werk op ‘n wynplaas seisoenaal is, is daar sekere goed wat op ‘n meer gereelde grondslag gedoen moet word. Een keer per week gaan die span byvoorbeeld die wingerde na, en elke tweede week word daar gespuit.

Lovane bestaan uit 2.5 hektaar, waaruit 12 000 bottels wyn per jaar gemaak en die meeste van die plaas af verkoop word.

Hoewel hulle nie met groot plase kan meeding nie, sê Hennie, kan hulle wins maak uit wat hulle doen. En hulle maak net wyn wat vir hulle lekker is, verduidelik hy.

Selfs nog lekkerder. is die leefstyl hier as in Johannesburg. “Ek werk baie harder, maar ek sit minstens nie in ‘n kantoor nie,” sê Hennie.

Al geselsende stap hy en Anrich na die produksiefasiliteit waar die volledige produksieposes plaasvind en waarvandaan die wyn na die bottelaanleg vervoer word.

Die aanleg, wat ook die kelder is, is indrukwekkend en ideaal vir die wynvermenging en –proe wat vir Anrich voorlê. Vermenging, sê Hennie, is vir hom die kuns van wynmaak. Met sy vernuftige “wyndief” in die hand, tap hy die bietjies wyn wat hy vir Anrich wil vermeng, terwyl hy verduidelik dat die verhouding van wyn uit nuwe teenoor wyn uit ouer vate ‘n verhouding van sowat 25:75 handhaaf.

 
Kleintjies leer van kos kweek

Simonia word self begeester deur ‘n klompie drie- tot sesjariges wat leer om goeie organiese voedsel te verbou. Die man agter die plan is Steven Barnard wat, as soldaat, baie armoede in lande soos Angola en Mosambiek gesien het. Hy het jong kinders sien sterf omdat hulle nie kos het nie, vertel.

Later jare was hy ook betrokke by die Orange Farm-township waar ouers dikwels weens VIGS te siek was om vir hul kinders kos te gee.  Juis hierdie wanhoop was die saadjie wat gelei het tot sy idee, asook die tegniek wat hy begin ontwikkel, en wat nou deur gemeenskappe regoor Suid-Afrika gebruik word. Kortom behels dit die gebruik van leë plastiek twee-liter bottels as mini-tuintjies waarin klein saadjies gesaai kan word.

 

Rooibostee

Heiveld

Intussen raak Chris behoorlik nostalgies om weer terug te wees in rooibostee-wêreld – spesifiek die Heiveld Koöperatiewe Boerdery in die Suid-Bokkeveld, waar hy gesels met Andries en Marié, ‘n egpaar wat deel is van die gemeenskap van meer as 30 families wat saam organiese rooibostee verbou.

Andries vertel dat saaityd van Junie, Julie tot einde September is.  Aanvanklik, vertel hy, het hulle teeplantjies geplant, maar dit was nie suksesvol nie. Sedertdien saai hulle saad.

Dit is die einste saad wat hulle skoonskuur om organiese tee te verbou.  “Jy skuur hom af, jy saai hom net so – niks bygevoeg nie,” verduidelik hy. En, hoewel daar gespuit word, is dit niks toksies nie – hulle gebruik net organiese middels.

Met ‘n tak pragtig-volgroeide rooibos in die hand, wil Chris weet hoe die proses van saadontwikkeling verloop. Andries verduidelik dat die bos ‘n sekere tyd van die jaar blom. Nadat dit geblom het, word ‘n bruin peul gevorm wat saad afgee, wat dan onder die bos val. Hierdie saad word in hopies bymekaargevee, waarna dit eers deur ‘n growwe en dan deur ‘n fyn sif gegooi word.

Hierna word die saad gewas en na die skuur toe vervoer. Van die skuur af gaan dit na die teebaan toe, waar ‘n masjien dit fynkerf en dit in rye deur ‘n “sweetdoop” gaan. Dan kom ‘n trekker verby wat die rye blare natspuit. Hierna word dit oopgegooi, drooggebak, bymekaargevee en in sakke verpak.

Die eindresultaat is indrukwekkend, reken Chris; dis tee wat mooi lyk – Moeder Aarde se beste.

Op Chris se vraag wat sy advies vir voornemende rooibostee-boere is, antwoord Andries dat dit lekker is om met tee in die omgewing te boer, maar dat hulle baie deur die droogte gekortwiek word. “’n Mens moet hare op jou tande hê,” sê hy. “Dis nie (nou) ‘n goeie tyd vir tee boer nie.

“Maar as die seisoene reg is – die reënseisoen, alles – is dit baie lekker om met tee te boer,” verduidelik hy met ‘n breë glimlag.

 
 Seil-Safari

Anrich nooi boere en hul wederhelftes om te bespreek vir Laeveld Agrochem se nuwe eerste: SEIL-SAFARI, ‘n reis per luukse passasierskip van Durban na Mosambiek, met baie boerderyverwante aktwiteite, en ewe veel vermaak.

 

Melkbeeste

Die Hart van Hartebeespoort

Simonia bevind haar in die gewilde toeristedorp Hartbeespoort, waar sy kuier by Raymond Erasmus met die doel om meer omtrent Jersey-koeie uit te vind. Maar, heelwat meer lê vir haar voor.

Op Simonia se vraag waar alles begin het, vertel Raymond dat hy en sy vrou 16 jaar gelede in die Vrystaat met vleisbeeste begin boer het. Later het hulle na die Marikana-omgewing verhuis, waar hulle met melkbeeste te doene gekry het en ook begin het om jogurt en kaas te maak wat hulle aan die publiek verkoop het.

Vandag is Raymond die trotse eienaar van twee landmerke in die Hartbeespoort-omgewing: die Windpomp en die Jasmyn-winkel.  Voordat hy en Simonia egter dié twee interessanthede gaan verken, is dit terug na die boerdery. Raymond se bestuurder, Christo, wat benewens die Jersey-kudde, ook na die skape en varke omsien, gaan vir Simonia touwys maak oor koei melk.

By die uitverkore koei aangekom, verduidelik Christo vir Simonia dat sy eers aan die koei moet vat, sodat die dier aan haar gewoond raak en nie skrik nie, en dan moet sy bo-aan die speen vat en dit stelselmatig aftrek.” Dis ‘n onbeskryflike gevoel, reken Simonia, en die melkery verloop seepglad.

Terug by die groter perseel, wys Raymond vir Simonia wat sy onderneming alles behels. Die Windmeul wat onder meer groente, vrugte, vleis, kaas en neute verkoop, het hy begin omdat sy ma van Holland afkomstig is. Verder is daar ook die restaurant, die Jasmyn-boekwinkel en ‘n geskenkwinkel.

Saam met hulle stap Raymond se seun, Reinhard, die oudste van die derde generasie van Erasmusse. Hy is besig om te studeer en wil graag eendag deel van die familie-onderneming wees. Hy sal egter nie enige spesiale familievoordele geniet nie. Raymond se plan is om hom onder te laat begin sodat hy weet wat alles behels. 

Reinhard is ook nie die enigste jong Erasmus in die rondte nie. Daar is 13 kleinkinders op die perseel, en Raymond wil vir elkeen iets unieks skep. “(Maar) hulle moet daarvan hou, hulle moet hier wil wees,” sê hy.  “Dis ons hoop vir hulle.”

Op hierdie hoë noot vra Simonia uit oor een van die Windmeul se groot trekpleisters – die groot verskeidenheid kase. Alles wat by die melkery geproduseer word, word verwerk, verduidelik Raymond. Hulle maak die meeste soort kase, insluitend wit en blou skimmelkase, en alles word direk aan die publiek verkoop.

Raymond se advies aan mense wat in hierdie tipe onderneming belangstel, is eenvoudig: Harde werk en deursettingsvermoë. “Weet dat jy gaan faal – jy moet net weer opstaan. Dit is wat die sukses maak,” sê hy.

 

Terug by die ronde tafel…

Simonia vertel van haar besoek aan Raymond en hoe hy “algemene goed gebruik” en “addisionele goed byvoeg om ‘n verskil te maak en ‘n nis te skep”. “Dis uiters winsgewend, en ook ontspannend,” sê sy.

Eweneens inspirerend was haar besoek aan Farmakids, waar sy nie net die gelukkige kinders gesien het nie, maar ook die groot hart en vernuwende plan wat vir hulle hierdie geleentheid geskep het.

Chris vertel entoesiasties van sy besoek aan Heiberg in die Suid-Bokkeveld. Hulle plant, oes en verpak, vertel hy. Dan bewerk en verpak hulle die tee, voordat dit uitgevoer word na hul enorme nismarkte in die Verre- en Midde-Ooste en Europa.

Les bes vertel Anrich van sy ervaring van Lovane. Hy reken die manier om te lewe en jou leefstyl te verander, is om ‘n klein wynplasie te koop.

En, uiteindelik klink die span ‘n glasie op ‘n lekker leefstyl wat ook tot die gemeenskap bydra.

Terug na episodes