Donkies | Nguni-beeste | Bokkaas
Bokke met klokke, donkiemelk duisend en ‘n mengelmoes-boerdery met alles van skape tot Nguni-beeste… Vandeesweek is Nisboere propvol diereplesiere. Die trots van die Belnori Boutique Cheesery naby Bapsfontein is Norman en Rina Belcher se lieftallige trop Swiss Saanen-bokke wat, danksy hul “luukse” verblyf en gesonde dieet, die puik organiese melk lewer waarvan die Belchers hul unieke kaas, vol oemf en houding, maak. Doer in die Drakensberge lê die Antbear Drakensberg Lodge, ‘n kleinskaalse organiese plaas, waar Andrew Attwood boer met alles van skaap, beeste en kalkoene tot groente, wat hy dan ook gebruik vir die lodge. En, vir enigiemand wat nog enigsins wonder: die donkie ís ‘n wonderlike ding – en een wat, danksy The Donkey Dairy in Randfontein, topgehalte melk lewer, ‘n eerste in die Suid-Afrikaanse skoonheids- en gesondheidsbedryf.
Vandeesweek is die span slaggereed vir allerlei diere met allerlei maniere (en plesiere). Anrich vertel hy gaan op ‘n bokplaas kuier en bokmelk drink, wat byval vind by Chris wat allergies is vir gewone suiwel en dus klaar ‘n bok is vir, wel, boksuiwel.
Sy allergie weerhou hom egter nie van sy bestemming – ‘n baie besonderse Nguni-boerdery in die Drakensberge – nie. Voor hy egter by die baas van dié plaas gaan aanklop, gesels hy eers met Chris Taylor van Laeveld Agrochem oor die voorkoming en bestryding van plantsiektes.
En dan laat val Simonia dat sy ‘n wonderlike ding gaan besoek…
Donkies
Die Donkie is ‘n wonderlike ding.
Kykers bevind hulself heel eerste saam met Simonia by The Donkey Dairy in Randfontein – die trotse eiendom van twee akteurs, Zak Hendrik en Jesse Christens, wat die glans van die verhoog verruil het vir die modder van die plaas, waar elkeen van hul 62 donkies ‘n naam het.
Voor in die donkiekoor is Saartjie, vertel Zak. Sy beskerm die kudde, sy is parmantig, en sy is Zak en Jesse se baas.
Op Simonia se vraag waar alles begin het, vertel Zak dat hy en Jesse mekaar tien jaar gelede ontmoet het toe hulle nog geswot het. Van daar af het hulle ‘n vriendskap gebou, saam ‘n huis gekoop en opgeknap, en toe besigheidsgeleenthede op ander plekke begin raaksien omdat hulle, as vryskutkunstenaars, nie op ‘n enkele bron van inkomste kon staatmaak nie. Met dié, het hulle saam ‘n plaas gekoop.
Van boer het die twee niks geweet nie, maar hulle het desnieteenstaande met skape begin. Op ‘n dag het hulle gehoor van ‘n kudde van 120 wat te koop is, en dit is toe nou juis waar Saartjie as in hul lewens en harte kom inkruip het as kuddebeskermer wat jakkalse en honde verjaag het.
Kort voor lank het Zak en Jesse navorsing begin doen om uit te vind wat nóg ‘n mens met donkies kan doen. En so het ‘n hele donkiewêreld vir hulle oopgegaan.
Die resultaat is, onder meer, ‘n pragreeks velsorgmiddels, Cleopatra’s Secret, insluitend seep, dag- en nagroom, asook handerome en vloeibare seep. Die reeks, vertel Jesse, het alles vir hulle verander; dit is wat die donkieboerdery winsgewend gemaak het.
Benewens die skoonheidsvoordele, is donkiemelk ook natuurlik anti-inflammatories én ‘n natuurlike anti-histamien wat baie voordelig is vir mense met probleemvelle en mense wat ‘n alternatief soek vir die newe-effekte van kortisoonsalf.
Dan breek die groot oomblik aan: Simonia moet donkiemelk proe. Zak probeer haar gerusstel met die feit dat dit soos laevet melk proe en dat dit weens die hoë laktose-inhoud ‘n soeterige klappersmaak het.
Simonia is weliswaar aangenaam verras met die smaak, maar dis die prys van die melk wat haar amper laat stik: R240 per liter – want, verduidelik Jesse, dit is een van die skaarsste melksoorte ter wêreld, en van die moeilikste om te bekom.
Hul raad aan aspirant-boere wat die wonderwêreld van donkies wil ontdek, is tyd en passie. “Dit vat ‘n hele tydjie om te kom tot waar jy eintlik profyt kan wys,” verduidelik Zak. “’Maar alles is die moeite werd wanneer jy die resultate sien”.
Simonia neem afskeid met ‘n hartlike “donkie” aan haar vriendelike gashere en hul wonderlike kudde.
Maak sin uit siektebeheer
Volgende aan die beurt is Chris wat by Leaveld Agrochem se tegniese bestuurder, Chris Thompson, kers opsteek oor siektebeheer vir plante. Chris verduideik dat siekteskade meer kompleks is as insekte-skade. Sy raad aan kleinskaalse boere is om die korrekte produk by hul naaste koöperasie of hardewarewinkel te gaan koop, wat nie net die plaag sal beheer nie, maar dit ook kan voorkom.
Bokkaas
Die Bokke van Belnori
Anrich kuier by Norman en Rika Belcher wat by Belnori Boutique Cheesery naby Bapsfontein met boerbokke boer en ‘n wye verskeidenheid watertandkase aan die publiek verkoop. Wat egter vandag ‘n aansienlike onderneming is, het klein begin.
Die besoek skop af met Norman wat vir Anrich touwys maak met die melkproses, en kaasmaker en produksiebestuurder Bongi Nondzaba wat vir hom wys hoe die proses verloop wat begin by die melk en eindig by ‘n aanloklik-verpakte produk.
Terwyl hy ‘n paar bokmelkprodukte geniet, gesels Anrich met Rika Belcher. Rika vertel dat sy en Norman oorspronklik van Zimbabwe af gekom, en kort voor lank besef het dat hulle langer sou leef as wat hulle geld sou hou. In daardie stadium het Norman ‘n artikel in die Farmers’ Weekly gesien oor ‘n egpaar wat in die Kaap bokkaas maak, en skaars ‘n week later het hulle te hore gekom van ‘n man wat in Springs ‘n kursus daaroor aanbied. “Ek het geglo dit was ‘n boodskap van Bo,” sê Rika vandag.
Norman het die kursus bygewoon, en die aanbieder het vir hom ‘n ram present gegee. Daarna het hulle vier ooie gekry, en die res is geskiedenis.
Rika het begin deur een keer ‘n maand drie produkte op ‘n plaaslike mark te gaan verkoop. In die proses het sy allerlei mense, insluitend sjefs, ontmoet en Belnori-kaas het nie net toegeneem in verskeidenheid en toenemend gewild geword nie, maar ook ‘n hele klompie pryse ingepalm.
Nie dat die Belchers op hul louere rus nie. Bokboeredery is harde werk, sewe dae per week, vertel Rika, en sy staan nog elke Saterdag by die mark. Daar is nie vakansies nie. Vyf-uur in die oggend spring sy aan die werk tot ses of sewe in die aand, en dan moet sy nog die administrasiewerk doen.
Rika se advies aan aspirant bokboere is dat die betrokke partye gelyke toewyding moet hê. Verder hang sukses nie van ouderdom af nie, maar dit is wel belangrik dat ‘n mens nie skuld aangaan nie. “Jy kan nie skuld delg én geld maak nie,” maan sy.
Seil-Safarie
Anrich herinner boere en hul wederhelftes weer om betyds te bespreek vir Laeveld Agrochem se nuwe eerste: SEIL-SAFARI – ‘n reis per luukse passasierskip van Durban na Mosambiek, met baie boerderyverwante aktwiteite, en ewe veel vermaak.
Nguni-beeste
Antbear Drakensberg Lodge…
Chris kuier by Andrew Attwood, die suksesvolle boer en sakeman agter die Antbear Drakensberg Lodge.
Nie dat Andrew altyd geboer het nie. Hy het voorheen by ‘n sagteware-onderneming in Duitsland gewerk, maar hy en sy vrou het besluit om dit op te gee en ‘n meer alternatiewe onderhoubare lewe te lei.
In 1999 het hulle Suid-Afrika besoek met die doel om ‘n plek te koop, en hul keuse was die plaas wat vandag bekend staan as Antbear Drakensberg Lodge, waar Andrew nie net met Nguni-beeste boer nie, maar ook ander gewasse en diere wat as organiese ondersteuningsbron vir die lodge gebruik word.
Sy Nguni-trop bly egter sy hart se punt. “Hulle is die pragtigste inheemse Afrika-diere,” vertel hy. Hulle word nie maklik siek nie, gee maklik natuurlik geboorte, en is eintlik net maklik om mee te boer, verduidelik hy.
Nadat die Attwoods die plaas gekoop het, het Andrew dit feitlik van die grond af opgebou. Die naam, vertel hy, kom van die erdvark wat onder die vloere geskuil en die hasepad gekies het toe die bouwerk begin het.
Vandag genereer die Attwoods die grootste deel van hul inkomste uit toerisme, insluitend verblyf en maaltye vir mense, asook, van tyd tot tyd, troues.
Afgesien van die Nguni’s, is daar ook heelwat gewasse en ander diere wat as ‘n organiese ondersteuningsbron vir die lodge gebruik word.
Andrew vertel dat hy nie in hierdie stadium enige beeste hoef te verkoop nie, en dat hy eintlik besig is om ‘n kudde op te bou. Tot op hede het hy R50 000 in die beeste belê – die res van die trop het self aangeteel. Die inkomste van die lodge word gebruik om voer vir die diere te koop.
Verdere potensiële bronne van inkomste is die Nguni’s se velle, asook hul hoë-gehalte organiese vleis.
Andrew se raad aan voornemende ondernemende boere is om dit net te doen. “Jy kan vir lank praat oor hierdie dinge en jy lank droom daaroor. Wanneer iets verkeerd gaan, kry ‘n oplossing, maak dit reg en beweeg aan. Dit is eintlik die vind van die oplossing wat dit so ‘n fantastiese lewenstyl maak,” is sy slotsom.
Terug by die tafel…
Anrich vra vir Chris of Nguni-boerdery die moeite werd is, waarop Chris vir hom die konsep van die toerismeplaas en die potensiaal daarvan verduidelik. Hy wys verder daarop dat Shaka Zulu spesifiek Nguni-velle vir sy krygers se skilde gebruik het, wat basies beteken dat hy die eerste Nguni-boer was.
Op Simonia se vraag wat hy omtrent siektebeheer uitgevind het, antwoord hy dat hy geleer het dat dit beter is om voorkomend op te tree.
Anrich vertel entoesiasties van Belnori se op-en-wakker eienaars en indrukwekkende produkreeks, en voeg by dat daar nog heelwat onontginde geleenthede in Suid-Afrika is.
Dan wil hy by Simonia weet of die donkie ‘n wonderlike ding is. Sy verduidelik dat donkiemelk die naaste aan menslike melk is en dat dit ook baie goed is vir ‘n mens se vel. Sy vertel die span van Zak en Jesse se velsorgreeks en hoe die donkieboerdery hulle in staat stel om hul droom te leef en terselfdertyd ‘n goeie inkomste te genereer.
Saam kom die span tot die gevolgtrekking dat die donkie weliswaar wonderlik is.